Toeris brand toe sy in NZ-sinkgat val

(Argieffoto: Bret Kavanaugh/Unsplash)

ʼn Australiese vrou het erge brandwonde opgedoen toe sy in ʼn sinkgat vol stoom getuimel het tydens haar besoek aan ʼn gewilde toeristedorpie in Nieu-Seeland.

Die vrou het haar redders vanuit haar hospitaalbed bedank vir hul pogings om haar uit die gat te kry.

Die toeris, oorspronklik van Perth, het verlede week in ʼn geotermiese sinkgat geval wat skielik naby die ingang van die toeristedorpie Whakarewarewa oopgemaak het. Dié Maori-dorpie lok jaarliks miljoene toeriste met sy warmwatermere en modderpoele.

Kort nadat sy ingeval en gered is, is sy na die Hamilton Waikato-hospitaal geneem. Sy is tans in ʼn stabiele toestand.

Die vrou, wat verkies om anoniem te bly, het Woensdag in ʼn verklaring gesê dat dit “omtrent ʼn beproewing” was wat sy deurgemaak het.

Sy het die redders bedank wat haar uit die sinkgat gepluk het “en water op my wonde gegooi het totdat nooddienste opgedaag het”.

Nog ʼn persoon het geringe beserings in die voorval opgedoen, maar is nie in ʼn hospitaal opgeneem daarvoor nie.

Die Whakarewarewa-vallei-kompleks is een van die gewildste toeriste-aantrekkings in Rotorua op die Noord-Eiland en lok sowat drie miljoen besoekers per jaar.

Die Rotorua Lakes-raad het intussen gesê die sinkgat is opgevul ná die voorval. ʼn Ondersoek na die voorval is ook reeds van stapel gestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.