Toeriste sterf in helikopterongeluk in Nepal

Everest in Nepal. (Prakash Mathema/AFP)

Al ses mense aan boord ʼn toeristehelikopter in Nepal is dood toe dit Dinsdag, kort ná dit opgestyg het, in die Everest-streek neergestort het.

Die Manang Air-vlug was op pad na die hoofstad Katmandu vanaf Lukla, van waar talle ekspedisies na die wêreld se hoogste bergpiek, begin.

Vyf toeriste van Mexiko en ʼn vlieënier van Nepal was aan boord.

Die helikopter het agt minute ná dit Dinsdagoggend opgestyg het, kontak verloor, het die burgerlugvaartowerheid van Nepal in ʼn verklaring gesê.

“Die ses liggame is gevind en na Katmandu gebring,” het Pratap Babu Tiwari, algemene bestuurder by die Tribhuvan- internasionale lughawe, aan AFP gesê.

Lhakpa Sherpa, ʼn plaaslike inwoner wat deelgeneem het aan die soek-en-reddingspoging, het gesê die toneel was “angswekkend”. “Dit het gelyk of die helikopter eers ʼn boom getref en toe in die grond vasgevlieg het. Dit het ʼn gat in die grond veroorsaak.”

Eerste minister Pushpa Kamal Dahal betreur die voorval, het sy kantoor op Twitter gesê.

Nepal het ʼn voorspoedige privaat helikopterbedryf. Toeriste en goedere word na afgeleë gebiede van die land vervoer waar daar min of geen paaie is nie.

Die land is egter berug vir sy swak lugvaart en Dinsdag se voorval is die jongste in ʼn reeks vliegongelukke.

Een persoon is in Mei dood en vier beseer toe ʼn helikopter in die ooste van Nepal neergestort het nadat goedere vir ʼn hidroëlektriese projek afgelewer is.

Meer as 12 mense is in helikopterongelukke dood tydens reddingsoperasies ná die verwoestende aardbewing in 2015.

Vliegtuigongelukke is ook ʼn algemene verskynsel in die Himalajas, die tuiste van afgeleë en moeilike aanloopbane – omring deur sneeubedekte pieke wat ʼn uitdaging selfs vir ervare vlieëniers inhou.

Die weer kan ook vinnig in die berge verander en gevaarlike vliegomstandighede veroorsaak. Nepal se veiligheidsrekord word egter vererger deur onvoldoende opleiding en instandhouding.

Al 72 persone aan boord ʼn vlug op pad na Pokhara is in Januarie dood toe die vliegtuig in ʼn ravyn neergetuimel het, in stukke opgebreek en aan die brand geslaan het.

ʼn US-Bangla Airlines-vliegtuig het in 2018 naby Katmandu se internasionale lughawe – berug vir sy moeilikheidsgraad – ʼn buiklanding gedoen. Altesaam 51 mense is dood en 20 is ernstig beseer.

Al 167 mense aan boord ʼn Pakistan International Airlines-vliegtuig is in 1992 dood tydens ʼn ongeluk met die landing by Katmandu-lughawe. Dit was Nepal se dodelikste vliegtuigongeluk tot dusver.

Die Europese Unie het alle Nepal-lugdienste uit sy lugruim verbied oor veiligheidskwessies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wicus ·

Ons was vir sowat 2 ure gestrand op Lukla weens mis. Kort na opstyg het die mis weer toegetrek, angswekkend, jy weet jy vlieg in ‘n vallei omring met berge maar kan bykans niks sien nie. My boetie het ges-e nooit weer nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.