‘Top Gun’ vlieg weer hoog ná 36 jaar

Tom Cruise het in egte “Maverick”-styl in ʼn helikopter wat hy self beman het opgedaag. (Foto: Robyn Beck/AFP)

Top Gun-aanhangers gaan binnekort vir Tom Cruise weer in Pete “Maverick” Mitchell se kenmerkende vlieënierspak en donkerbril kan sien wanneer sy lankverwagte opvolgfliek vandeesmaand uiteindelik in fliekteaters wêreldwyd land.

Die wêreldpremière van Top Gun: Maverick was gister by die USS Midway-vliegdekskipmuseum in San Diego en Cruise het in egte “Maverick”-styl in ʼn helikopter wat hy self beman het daar opgedaag.

Die rolprent se uitreiking is weens die Covid-19-pandemie sedert Junie 2020 twee keer uitgestel, maar Suid-Afrikaanse gehore gaan dit van 26 Mei uiteindelik op die silwerskerm kan geniet.

Cruise (59) hervat dié rol 36 jaar nadat die eerste Top Gun-fliek sy uiters suksesvolle loopbaan in 1986 vlerke gegee het. In die jongste aflewering keer Maverick terug na die vloot se elite Topgun-vegvliegskool om die jongste groep kranige jong vlieëniers, onder wie Goose – wie se moord in die oorspronklike 1986-fliek steeds by Maverick spook – se seun Rooster, op te lei.

Jerry Bruckheimer, Miles Teller, Jennifer Connelly en Tom Cruise. (Foto: Kevin Winter vir Getty Images)

Volgens regisseur Joseph Kosinski was die Amerikaanse vloot “waaksaam” toe die eerste fliek geskiet is, maar die opvolg is egter “ten volle ondersteun”. “Van die grootste besluitnemers wat vandag in die Amerikaanse vloot is, het destyds juis aangesluit as gevolg van die impak van Top Gun,” het Kosinski gesê.

Die fliek vermy grootliks rekenaar-gegenereerde effekte en die akteurs is sover moontlik in regte vegvliegkajuite verfilm, terwyl hulle intense swaartekrag (G-krag) verduur het soos die vliegtuie gevaarlik laag bo die aarde se oppervlak geswaai het.

Jerry Bruckheimer, vervaardiger van die fliek, het aan Popular Mechanics vertel dat hoewel al die akteurs maande vooraf opleiding ontvang het om die intense G-krag gewoond te raak, was Cruise egter die enigste akteur op die stel wat dit kon baasraak sonder om siek te raak.

Cruise het tydens die geleentheid ook die Oscar én Grammy-wenner Lady Gaga se lof besing vir haar bydrae tot die fliek se klankbaan. Haar nuwe lied “Hold My Hand”, is nes die groep Berlin se destydse trefferlied “Take My Breath Away” ook spesiaal vir Top Gun geskryf.

Volgens Cruise het haar lied die “hartklop van die fliek” geword en Gaga is gevolglik ook genader om die fliek se amptelike klankbaan te help komponeer.

Bronne: People, AFP, Popular Mechanics

Kyk hier na die lokprent:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wayne ·

” Goose se moord ” ????? . Goose is dood nadat hy in die koepel van die F14 uitgeskiet het met sy uitskietstoel .
I die rolprent word Maverick vrygespreek van Goose se dood deur n tribunaal .
Die vegvliegtuie word nou toegerus met n metaal toestel wat die koepel breek , sou die stoel in hom vasskiet

Miena ·

Ek is seker maar n regte dom blond of tyd-gestremd… maar die mannetjie was dan net nou die ander hier in Hoedspruit toe hulle die fliek gemaak het. Hoe het ek dit nou dan verkeerd beet? Het hulle so gou die insetsels van hier in SA ingeslot om by die fliek in te pas vir vrystelling daarvan? Ek lees in die berig dat sedert Junie 2020 dit reeds 2x uitgestel was. Iemand help my reg asb… Is hierdie fliek (in artikel genoem) nou net n “remake” van die Top Gun of is dit nou Top gun 2 wat hier in SA geskiet was?Vra vir myself! Dankie byvoorbaat.

Leon ·

Nee Miena, Cruise is / was hier vir nog ‘n opvolg van Mission: Impossible.

Miena ·

Oooohhhhh jaaaaaa !! Dankie – ek het net so n bietjie vergeet van daai ene. Ai – ek kan seker ook nou maar se dat dit die inenting se skuld is dat ek so vergeetagtig (soms deurmekruis) geraak het…
dankie weereens vir die opklaring Leon

Steyn ·

Die prent sou al 2020 oorspronklik vrygestel geword het, maar toe is hulle bang vir covid en is seker maar geldgierig ook om kostes te dek wat aan gegaan is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.