Top Iranse bevelvoerder in lugaanval dood

Genl. Qasem Soleimani (Foto: ANA)

Genl. Qasem Soleimani, Iran se top militêre bevelvoerder, het Vrydag gedurende ’n Amerikaanse lugaanval op Irak gesterf.

Sky News berig Iran het reeds gedreig om wraak te neem ná die 62-jarige Soleimani se dood vroeg vanoggend. Soleimani (62) was die hoof van dié land se elite Koeds-mag.

Die Pentagon het bevestig dat die generaal saam met ander Iranse militante in ’n lugaanval op Bagdad se internasionale lughawe omgekom het.

Abu Mahdi al-Muhandis, die adjunkbevelvoerder van die Iranse militante groep bekend as Popular Mobilization Forces (PMF) en ’n adviseur van Soleimani, is ook in die aanval dood.

Luidens ’n verklaring deur die Pentagon het Soleimani oor die afgelope paar maande aanvalle op koalisiebasisse beplan asook aanvalle op die Amerikaanse ambassade in Bagdad vroeër die week goedgekeur.

“Die aanval [op die lughawe] was daarop gemik om Iran se toekomstige aanvalsplanne te fnuik,” het die Pentagon verduidelik en bygevoeg dat die VSA sal voortgaan om die nodige stappe te doen “om Amerikaners se belange reg oor die hele wêreld te beskerm”.

Pres. Donald Trump het ure ná die aanval ’n foto van die Amerikaanse vlag getwiet.

BBC berig wêreldoliepryse het met meer as 4% gestyg ná die aanval.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.