Trane, omhelsings by Australiese lughawens

‘n Oupa omhels sy kleindogter met haar aankoms in Sydney. (Foto: SAEED KHAN / AFP)

Australië het nou uiteindelik sy grense vir ingeënte toeriste oopgestel nadat die land byna twee jaar gelede van die strengste Covid-19-reisbeperkings ter wêreld ingestel het in ’n poging om die verspreiding van die koronavirus hok te slaan.

Roerende tonele het Maandag by die internasionale lughawens in Sydney en Melbourne afgespeel waar familie en vriende ná jare uiteindelik herenig het.

Bernie Edmonds het die trane afgevee toe hy sy kleindogter Charlotte (8), wat pas in Sydney geland het, omhels het.

“Dit is wonderlik om haar terug te hê. Sy moet weer teruggaan, maar sy sal weer kom kuier.”

Jody Tuchin was oorstelp om haar beste vriend, wat sy sedert 2018 nie gesien het nie, by die lughawe te ontmoet. “Hy het dit net betyds teruggemaak vir my troue oor vier dae,” het sy aan AFP gesê.

Familielede herenig by die lughawe in Melbourne. (Foto: William WEST / AFP)

Paul Grant, ’n vlieënier vir Qantas, het gesê dit is lekker om weer passasiers aan boord van dié lugredery se vliegtuie te hê.

’n Qantas-vlug van Los Angeles was die eerste om omstreeks 06:20 (Australiese tyd) in Sydney met ingeënte reisigers te land gevolg deur vlugte van Tokio, Vancouver en Singapoer.

Die nasionale lugredery verwag om hierdie week meer as 14 000 passasiers na Australië te bring.

“Dit is regverdig om te sê ons het almal lank gewag om besoekers terug te verwelkom in Australië,” het Alan Joyce, uitvoerende hoof van Qantas, gesê.

Dan Tehan, minister van toerisme, het ʼn T-hemp met die woorde “Welkom terug” aangehad toe hy besoekers by die lughawe in Sydney ingewag het. Tehan verwag dat Australië se toerismebedryf stelselmatig sal herstel terwyl daar by die Australiese eerste minister, Scott Morrison, “geen twyfel” is dat besoekergetalle mettertyd sal toeneem nie.

Familielede herenig by die lughawe in Sydney. (Foto: SAEED KHAN / AFP)

Die Australiese regering het ʼn veldtog van AUS$40 miljoen (sowat R434 miljoen) van stapel gestuur om toeriste terug te lok. Slegs 56 internasionale vlugte is egter geskeduleer om in die 24 uur ná die heropening van grense in Australië te land – aansienlik minder as voor die Covid-19-pandemie.

Australië het in Maart 2020 sy grense vir byna almal behalwe burgers en inwoners gesluit toe die koronavirus uitgebreek het.

Die reisverbod – wat ook burgers verbied het om sonder ʼn vrystelling oorsee te gaan en ʼn streng beperking op internasionale aankomste ingestel het – het die land die bynaam “Fort Australië” besorg.

Elke maand tydens dié streng inperking het sakeondernemings volgens die Australiese kamer van koophandel en nywerheid ʼn geraamde AUS$3,6 miljard (sowat R39 miljard) gekos. Toerisme is veral swaar getref.

Personeel wag reisigers in by die lughawe in Sydney. (Foto: SAEED KHAN / AFP)

Familielede herenig by die lughawe in Melbourne. (Foto: William WEST / AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Treurwilger ·

Australië het in Maart 2020 sy grense vir duisende Australiese burgers ook gesluit.
Aussies is aan hul eie lot oorgelaat in ander lande, sommige sonder enige heenkome.
Hartseerstories van ontnugtering is vertel.
Alles in die naam van ‘n drakoniese Covid-beleid, geen empatie of verantwoordelikheid vir eie gestrande burgers getoon nie.

Miskruier ·

Nee, familie het al 3 spuite gehad en is almal positief een na die ander.

Madeleine ·

Drakoniese reels… Weet jy ek huil sommer.
Mense ly daaronder en vir gemene reels war niks help nie.

Bernard ·

Het wel gehelp vit Fauchi se aandeleportefeulje asook die Gates Foundation se sakebelange. Lees gerus The Real Dr Fauchi en sien hoe hierdie knaap die wêreld om die bos gelei het.

Hennie ·

Hoe vind die Assie regering hul skape in die lang gras? Verruklik!

Marius ·

Die suid afrikaners moet daar padgee voordat iemand se kop weer uithaak en die land se grense sluit. Hul kan gerus ‘n reuse muur om australië bou en hom vol water maak.

Pieter J ·

Verstommend hoe sommige mense dit geniet om sulke absolute mag oor ander te kan uitoefen. Ek dink sulke mense hou ń groot gevaar vir die samelewing in en moet toegesluit word vir die res van hulle lewens. Dit is erg genoeg dat Hitler nou herleef in Rusland.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.