Troeteldierkrisis in Oekraïne: Gesig van oorlog waarvan niemand praat

ʼn Straathond loer deur ʼn gebreekte venster van ʼn verwoeste gebou in Avdiivka, Donetsk, in die Oekraïne. (Foto: Genya Savilov/AFP)

Op een van sy onlangse missies na die oorloggeteisterde stad van Izyum in die Oekraïne, het hy ʼn jong vrou teëgekom wat ses maande lank bang en alleen in die kelder van haar huis weggekruip het vir die bomme wat op die stad neergereën het – net om later agter te kom sy glip snags uit om nege weggooihonde te voer met die karige hoeveelheid kos wat sy vir haarself oorgehad het.

Dit is maar net een van vele gesigte van die Oekraïnse oorlog wat Dan Fine sedert sy betrokkenheid by dié organisasie sonder winsbejag gesien het.

Fine, ʼn Amerikaner wat in Vancouver, Kanada, woon, is die stigter van die Ukraine War Animal Relief Fund (UWARF).

Die hoofdoel van die UWARF is om klinieke te mobiliseer om honde en katte van die straat af te haal, waarna hulle gesteriliseer, teen hondsdolheid ingeënt word, met ʼn mikroskyfie gemerk en versorg word totdat hulle elders in Europa ʼn heenkome vir die diere kan vind.

Miljoene troeteldiere is aan hulle eie genade in die Oekraïne oorgelaat toe 12 miljoen mense noodgedwonge uit dié land moes vlug nadat Rusland se president, Vladimir Poetin, in Februarie verlede jaar oorlog verklaar het.

Fine skets ʼn donker prentjie in ʼn Zoom-onderhoud met Maroela Media vanuit die Luberon-vallei in die suide van Frankryk, waar hy tans saam met sy vrou woon voordat hy in Augustus weer op die trein Oekraïne toe klim om duisende honde en katte se oorlewing te help verseker.

“Ek het vir drie maande in die Oekraïne gebly waar ek ʼn lelike kant van die oorlog gesien het waarvan niemand praat nie. Miljoene vergete troeteldiere wat weens die lae sterilisasie- en inentingskoers nou in die Oekraïne eenvoudig bly aanteel en vermeerder omdat daar geen beheer oor die diere is nie.

“As ʼn bykomende probleem, kan wolwe en jakkalse wat gewoond is daaraan om in die woude te jag, nie meer jag nie aangesien die woude nou vol landmyne en soldate met wapens is. Dié wilde diere raak nou net soos honde, maar ongelukkig is hulle ook die grootste verspreiders van hondsdolheid.”

Volgens Fine is hondsdolheid ʼn ewe groot probleem in die Oekraïne as die aanteling van straathonde- en katte.

“Die Oekraïne het nog altyd ʼn hoë koers van hondsdolheid gehad. ʼn Veearts saam met wie ons werk, het egter onlangs in een week minstens tien nuwe gevalle van hondsdolheid gesien en is self deur ʼn kat met hondsdolheid gebyt.”

ʼn Soldaat vertroetel twee honde in die suidooste van die Oekraïne in September 2022. (Foto: Dmytro Smoliyenko / NurPhoto / NurPhoto via AFP)

Fine sê dit is hartseer dat die diere soms terug moet gaan straat toe. “Dit is uiterste gevalle, maar soms kan ʼn mens doodeenvoudig nie vir al die diere ʼn nuwe, liefdevolle huis kry nie. Ten minste wanneer hulle dan terug gaan straat toe, weet ons hulle kan nie voortplant of hondsdolheid versprei nie.”

Hy sê kinders is die grootste slagoffers van hondsdolheid, aangesien hulle makliker gebyt word.

“Jy sterf ʼn pynlike dood weens hondsdolheid. Dit is ʼn bose kringloop wat ons probeer keer. Mense besef nie die omvang van die probleem wat troeteldiere in die Oekraïne betref nie,” benadruk Fine.

Die klinieke wat deur die UWARF gemobiliseer word, word deur Oekraïnse veeartse beman wat weens die oorlog nie meer kan werk of geld verdien nie.

“Ons het onder meer hande gevat met kolleges en universiteite om die land se beste, maar tans werklose, veeartse te betrek om in die klinieke werksaam te wees.”

Volgens Fine, wat homself as “nog altyd ʼn honde-ou” beskryf, sê hy vind gereeld dat mense afsydig is oor die probleem.

“Daar is mense wat bloot sê ons moet die diere van kant maak. Skiet hulle. Hoe menslik is dit? En, sou jy miljoene honde en katte wou doodskiet, het jy miljoene dollars se ammunisie nodig. Dit is sinneloos.

“Die diere word nie beskerm nie. Daar is nie ʼn stem vir hulle nie. Die diere het niks nie.

“Gegewe, die mense het hoegenaamd nie vir hierdie oorlog gevra nie, maar die diere ook nie.”

Volgens statistieke het meer as 50% van Oekraïnse burgers ten minste een troeteldier gehad voor die oorlog begin het. Burgers wat uit die land gevlug het, kon nie hulle diere saamneem nie weens buurlande se reëls en regulasies.

Brûe is gesluit en vliegtuie word ook nie oor die Oekraïne toegelaat nie weens konstante bomdreigemente, en daarom kan daar slegs per trein gereis word. Treine laat egter ook nie troeteldiere toe nie.

“Dit is deel van die rede hoekom soveel diere deur hartverskeurde eienaars agtergelaat is.”

Die volgende missie, die vyfde een sedert die ontstaan van die organisasie, word vir Augustus vanjaar beplan. Daar word beplan om sowat 2 250 honde en katte, insluitend klein hondjies en katjies, gedurende dié tydperk te steriliseer, in te ent en op ʼn databasis te plaas.

Fine, ʼn afgetrede tegnologiespesialis, het self gehelp om met behulp van Microsoft ʼn databasis op te stel vir die troeteldiere wat hulle behandel en help om nuwe eienaars te vind.

Dié tegnologie kan selfs ʼn hond of kat aan sy snoet laat herken op die databasis. “

ʼn Vrou demonstreer teen die Oekraïnse oorlog voor die Brandenburg-hek in Mei 2022. (Foto: Paul Zinken/dpa)

Fine vertel hy het by die Oekraïnse troeteldierkrisis betrokke geraak toe hy een middag in die park saam met sy hond, gewonder het oor die welstand van troeteldiere in ʼn land waar dorpe en stede een na die ander tot op die grond verwoes is.

“Ek het ʼn vriend in die Oekraïne, wat ek jare tevore ontmoet het, gekontak en gevra wat ek kan doen om te help en gesê ek sou oorkom soontoe en hulle eerste reaksie was: ‘Moenie kom nie!’”

Hy vertel laggend hy het sy vriende geïgnoreer en na dié land gereis. Hy het by ʼn diereskuiling beland waar sowat 70 honde en katte en oneindigende hoeveelhede werpsels versorg is.

“Die groot dierebeskermingsvereniginge was nêrens te sien nie. Dit het my aanvanklik ontstel, tot ek besef het daar is nie versekering wat dié instansies se personeel sal dek sou hulle in die oorlog beseer word of sterf nie. Daarom het hulle nie opgedaag nie, maar onafhanklike vrywilligers het opgedaag.

“Vrywilligers het net bly opdaag om te help. Gewone mense het bly opdaag.”

Fine benadruk dat dit uiters noodsaaklik is om die troeteldierprobleem wat die Oekraïne tans in die gesig staar, so gou as moontlik in die kiem te smoor.

“Van die 25% troeteldiere wat op straat agtergelaat is toe die oorlog uitgebreek het, is sowat 65% ongesteriliseer. Die diere vermeerder teen ʼn stewige spoed en daar is niemand wat beheer neem nie.

“Die beste uitkoms, indien daar nie nou daadwerklik iets gedoen word nie, is dat daar oor vyf jaar van nou sowat 150 miljoen nuwe hondjies en katjies in die Oekraïne sal wees – dit is net dié wat gaan oorleef ná die ysige koue winters, hongersnood, landmyne en skrapnel.

“Diere ken nie landsgrense nie en binnekort gaan troeteldiere met hondsdolheid op die res van Europa begin toesak.”

Dit kos die UWARF sowat $44 (sowat R850) om elke troeteldier te behandel. Fine sê hy hoop mense wêreldwyd besef hoe groot die probleem is en maak ʼn skenking aan die organisasie om ʼn wesenlike verskil te kan maak.

“Die wêreld het nog nooit so iets gesien nie. Die wêreld het nog nooit so iets beleef nie, maar ek glo in die goedheid van mense. Op een van ons missies het ek vir Anjay, ʼn man wat 62 mense saam met hulle troeteldiere in sy skuiling laat woon het, ontmoet.

“Die Oekraïners het ʼn groot konneksie aan hulle troeteldiere, net soos ander mense regoor die wêreld. Dit behoort belangrik genoeg rede te wees om betrokke te raak, op welke wyse, by dié massiewe kwessie.

“Ons het twee Oekraïnse amateurrolprentmakers aangestel om ons te vergesel om ons volgende missie, want ek wil graag ʼn dokumentêr maak wat die probleem blootlê. Die stilte oor dié kwessie is net te dawerend.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Tragies. Hoe ironies dat die ANC-leierskap skaamteloos, sonder gewete en selfrespek sy Marxistiese boesemvriend, die Russiese leierskap, omhels terwyl boelie Rusland dood, verwoesting en ellende saai in Oekraïne! Die ANC het geen waardestelsel om na op te dien nie. Ga-ga, sies ANC-leierskap. Ek verag julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.