Twee deel Nobelprys vir chemie

Die wenners van die Nobelprys vir chemie is Woensdag aangekondig. (Foto: Jonathan Nackstrand/AFP)

Duitsland se Benjamin List en Amerikaans gebaseerde David MacMillan het Woensdag die Nobelprys vir chemie gewen vir die ontwikkeling van ʼn stuk gereedskap om molekules te bou wat gehelp het om chemie meer omgewingsvriendelik te maak.

Die instrument, wat hulle onafhanklik van mekaar in 2000 ontwikkel het, kan gebruik word om chemiese reaksie te beheer en te versnel. Dit het ʼn groot uitwerking op medisynenavorsing gehad.

Voor hul werk het wetenskaplikes geglo daar is net twee soorte katalisators: metale en ensieme.

Die nuwe tegniek, wat staatmaak op klein organiese molekules en wat “asimmetriese organokatalisators” heet, word wyd gebruik in farmaseutiese produkte en laat medisynevervaardigers onder meer toe om die produksie van medisyne vir depressie en respiratoriese infeksies meer vaartbelyn te maak.

Organokatalisators maak dit moontlik dat verskeie stappe in ʼn produksieproses ononderbroke kan plaasvind. Dit lei tot ʼn beduidende afname in afval tydens die chemiese vervaardigingsproses, het die Koninklike Sweedse Akademie van Wetenskap gesê.

List en MacMillan, albei 53 jaar oud, sal die prysgeld van sowat R17 miljoen deel.

“Ek het gedink iemand maak ʼn grap,” het List telefonies gesê nadat die wenners aangekondig is.

Hy sê sy vrou het die afgelope paar jaar geterg dat hy moet regstaan vir ʼn oproep uit Swede.

“Vandag het ons nie eens daai grappie gemaak nie. Dis moeilik om te verduidelik hoe jy op daardie oomblik voel, maar dit was baie spesiaal en ek sal dit nooit vergeet nie.”

Oor sy planne vir die toekoms sê List hy het “nog ʼn paar”.

“Ek hou daarvan om tot die uiterste te gaan. Kan ons dinge doen wat vantevore heeltemal onmoontlik was? Ek hoop ek is die erkenning waardig en hou aan om wonderlike dinge te ontdek.”

MacMillan, gebore in Skotland, is ʼn professor by die Princeton-universiteit in die VSA, terwyl List ʼn direkteur is by die Max Planck-instituut in Duitsland.

“Heelwat navorsingsgebiede en bedrywe is afhanklik van chemikusse se vermoë om molekules te bou wat beweeglike en duursame materiaal kan vorm, energie in batterye kan stoor of die vordering van siekte onderdruk,” sê die akademie.

“Die werk benodig katalisators, wat die middels is wat chemiese reaksies beheer en versnel sonder om deel van die eindproduk te word.”

Sedert hul ontdekking het List en MacMillan verskeie goedkoop en stabiele organokatalisators ontwerp. In 2011 het navorsers byvoorbeeld die produksieproses vir strignien 7 000 keer meer doeltreffend gemaak deur dit van 29 chemiese reaksies tot net 12 te verminder.

Die Nobel-seisoen word voortgesit met die twee pryse wat die meeste dopgehou word: letterkunde Donderdag en vrede Vrydag. Die wenner van die Nobelprys vir ekonomie sal Maandag aangekondig word.

Die Nobelprys vir medisyne is Maandag aan David Julius en Ardem Patapoutian gegee vir hul deurbrake wat die weg gebaan het vir die behandeling van chroniese pyn.

Die prys vir fisika is Dinsdag bekend gemaak en is toegeken aan die Amerikaans-Japannese wetenskaplikes Syukuro Manabe en Klaus Hasselman vir klimaatmodelle, terwyl die ander helfte gegee is aan Giorgio Parisi vir werk oor die teorie van ongeordende materiale en lukrake prosesse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.