Twee dood, 21 beseer tydens Oslo-skietery

Die skietery het Saterdag omstreeks 01:00 plaasgevind (Foto: Javad Parsa, AFP)

Twee mense is dood en minstens 21 beseer ná ʼn skieter Saterdag vroegoggend by ʼn kroeg in Oslo, Noorweë, losgebrand het.

Die polisie het ʼn verdagte, ʼn 42-jarige Noorse man van Iranse afkoms, in hegtenis geneem kort nadat die skietery omstreeks 01:00 op drie plekke in sentraal-Oslo begin het, waaronder die London Pub-gayklub, die Herr Nilsen-jazzklub en ʼn wegneemete-winkel.

Die polisie het die eerste oproep oor die skietery om 01:14 ontvang en die verdagte is vyf minute later in hegtenis geneem.

Volgens die polisie kon hulle die verdagte vinnig boei danksy die “heldhaftige bydrae” van omstanders.

Altesaam 21 mense is beseer tydens die skietery in Oslo (Foto: Javad Parsa, AFP)

Twee van die 21 beseerdes is in ʼn kritieke toestand in die hospitaal opgeneem. Die polisie het op twee vuurwapens beslag gelê.

Die motief vir die aanval is nog nie bekend nie, maar owerhede ondersoek die gebeure as ʼn terreuraanval.

Die man wat in hegtenis geneem is, word verdink van moord, poging tot manslag en ʼn terreurdaad, het ʼn senior polisiebeampte, Christian Hatlo, tydens ʼn nuuskonferensie gesê.

Die terreurklag kom vanweë die aantal gewondes en dié wat tydens die voorval omgekom het. “Ons het goeie rede om te glo dat die verdagte bedoel het om terreur te saai,” sê Hatlo.

Polisieteenwoordigheid is deur die hoofstad verskerp. Noorweë se anti-terreurdiens het op Twitter gesê hy ondersoek die moontlikheid van nog aanvalle.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.