Twee liggame gevind ná Baltimore-tragedie

(Foto: ROBERTO SCHMIDT/AFP)

Die liggame van twee konstruksiewerkers is Woensdag in ʼn bakkie in die koue water van die Baltimore-hawe gevind nadat ʼn reusevragskip in die Francis Scott Key-brug ingeploeg en dit laat ineenstort het.

Die Maryland-polisie het tydens ʼn mediakonferensie die aankondiging gemaak en gesê hulle glo nog voertuie is in die puin vasgevang.

Agt konstruksiewerkers het slaggate op die brug herstel toe die ramp kort ná middernag Amerikaanse tyd plaasgevind het.

Die twee slagoffers wat Woensdag gevind is, is as Alejandro Hernandez Fuentes (35) en sy 26-jarige kollega Dorlian Ronial Castillo Cabrera geïdentifiseer. Twee konstruksiewerkers is oomblikke ná die ineenstorting lewend uit die water getrek.

Marcel Muise, hoofondersoeker vir die nasionale vervoerveiligheidsraad, het op ʼn aparte perskonferensie gesê die vragskip, sowat 300 m lank, het die hawe Dinsdag om 00:39 verlaat op pad na Asië.

Om 01:24 het alarms op die skip begin afgaan met aanduidings van kragprobleme en is die hawe-owerheid in kennis gestel dat die skip op pad na die brug is en is sleepbote versoek.

Die oproep om hulp is deur twee beamptes op die brug gehoor en alle bane vir verkeer is gesluit.

Die hawe van Baltimore is die negende besigste Amerikaanse hawe in terme van buitelandse vraghantering én buitelandse vragwaarde.

Die uitwerking op voorsieningskettings “sal duidelik nie onbeduidend wees nie”, het Pete Buttigieg, die Amerikaanse minister van vervoer, gesê en bygevoeg dit is “te gou” om te weet wanneer die hawe kan heropen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.