Tyd breek aan om oor ʼn post-Trump-era te praat

Donald Trump en Joe Biden. (Foto: Patrick Semansky/AP)

Toe nuusagentskappe soos Associated Press verlede Sondag aankondig dat Joe Biden meer as 270 stemme in die Amerikaanse kieskollege gewen het en daardeur die aangewese Amerikaanse president is, het pres. Donald Trump en baie van sy ondersteuners hierdie aankondiging as voortydig en selfs kwaadwillig bestempel.

Terwyl pres. Trump en sy veldtog tans verskeie gevalle van ongerymdhede in die verkiesing ondersoek en hierdie sake, heeltemal korrek, na die howe neem, is dit egter baie duidelik dat daar geen bewyse van grootskaalse verkiesingsbedrog gelewer kan word nie.

Die stemme in enkele deelstate soos Georgia en Wisconsin sal oorgetel moet word omdat die verskil tussen Biden en Trump minder as 0,5% is. In dele van Pennsilvanië sal die stemme moontlik ook oorgetel word. Dit is gewone prosedures wat in alle vorige verkiesings ook plaasgevind het.

In Wisconsin loop Biden voor met meer as 20 000 stemme, in Pennsilvanië met meer as 50 000, in Michigan met byna 150 000, in Arizona met slegs 11 000, in Nevada met 37 000 en in Georgia met 14 000. As Trump daarin wil slaag om die verkiesingsuitslag om te keer, sal daar in drie van hierdie deelstate sulke groot foute gevind moet word dat duisende stemme by sy stemtotaal gevoeg kan word. Dit het nog nooit in die geskiedenis gebeur nie en sal waarskynlik ook nie nou gebeur nie.

Intussen het die Republikeine groot veld gewen in die huis van verteenwoordigers en verskuif alle politieke fokus na die twee opvolgverkiesings in Georgia op 5 Januarie. ʼn Ongewone situasie het daar ontstaan. Georgia het tans twee Republikeinse senators. Die een (David Perdue) se termyn het tot ʼn einde gekom en hy het vanjaar vir nog ʼn termyn gestaan. Hoewel hy meer as 80 000 meer stemme as sy opponent gekry het, het hy nie daarin geslaag om meer as 50% van die stemme op hom te verenig nie. Hy het 49,7% van die stemme gekry en omdat wetgewing in Georgia bepaal dat ʼn kandidaat meer as 50% moet kry om te wen, is daar nou ʼn tweederonde-verkiesing. Die Libertariese Party se kandidaat het 2,3% van die stemme gekry en het so grootliks verhoed dat Perdue wen.

Danksy Perdue se goeie voorsprong in die pas afgelope verkiesing en in die lig van die moontlikheid dat die meeste van die 115 000 mense wat vir die Libertariese Party se kandidaat gestem het, vir hom sal stem, het Perdue ʼn goeie kans om herkies te word.

Die ander senator, Kelly Loeffler, is in Desember 2019 deur die goewerneur van Georgia aangestel nadat die vorige senator bedank het. Sy moes gevolglik in vanjaar se verkiesing deelneem om haar voorganger se termyn te kan uitdien.

Die Republikeine moet net een van die twee verkiesings wen om beheer oor die senaat te behou, maar hulle sal natuurlik verkies om albei te wen. Georgia het die afgelope ruk ʼn swaaistaat geword weens die skerp toename in dié deelstaat se swart bevolking en die afname in steun vir pres. Trump in voorstedelike gebiede, veral om Atlanta. Tog het die Republikeine in die senaat en huis van verteenwoordigers beter as Trump in Georgia gevaar en behoort hulle as die vroeë gunstelinge beskou te word.

Die verkiesings in Georgia kan egter oorskadu word deur pres. Trump se bereidwilligheid om te erken dat hy die presidentsverkiesing verloor het en om die twee Republikeine te help om die verkiesing te wen. Sou daar spanning tussen Trump en die party ontstaan, kan dit die verkiesing in Georgia beïnvloed.

(Foto: Cliff Owen/AP)

Die politieke agenda in die VSA vir die volgende twee jaar gaan bepaal word deur beheer oor die senaat. Al die belangrike aanstellings van Biden (kabinetslede, ambassadeurs, regters, en so meer) moet deur die senaat goedgekeur word. Sou die Republikeine beheer in die senaat behou, sal Biden baie mooi oor sy aanstellings moet nadink en met die Republikeine daaroor onderhandel. Dieselfde geld vir die meeste wetgewing wat ook deur die senaat goedgekeur moet word.

Intussen het Biden die afgelope paar dae sy personeelhoof aangewys, ʼn taakspan saamgestel om die Covid-19-pandemie aan te pak, asook begin om kandidate vir belangrike poste te identifiseer. Hy het ook reeds aangedui dat sy beleidsfokus aanvanklik op die bestryding van die pandemie, die bevordering van ekonomiese groei, verbetering van rasseverhoudinge en die bekamping van klimaatsverandering sal val.

Die uitdaging vir die Republikeinse Party is om met die regte reaksie hierop vorendag te kom. Die party tree sterk uit die verkiesing, ondanks die verlies oor die beheer van die Withuis. Die party het in 29 deelstate volle beheer oor die state se wetgewers. Die Demokrate se meerderheid in die huis van verteenwoordigers is nou so klein dat die party baie versigtig sal moet wees watter wetgewing hy wil probeer deurvoer.

Die groot vraag bly egter wat Trump gaan doen, en wat sy toekomstige rol gaan wees. Trump se huidige fokus op die hertel van stemme in sommige deelstate en op hofsake oor ongerymdhede is verstaanbaar, maar hy sal in die een of ander stadium moet erken dat hy die verloorder in die stryd is en sy toekomstige politieke rol aanpas. Sy besluit om sy eie politieke organisasie te stig, is moontlik ʼn aanduiding dat hy reeds daarmee begin het.

Die Republikeine behoort nou hul fokus te verskuif na die behoud van steun onder kiesers wat vanjaar vir die eerste keer vir die party gestem het. Die party het ʼn goeie kans om beheer oor die huis van verteenwoordigers in 2022 oor te neem, maar dan moet hy daarin slaag om die Biden-administrasie die hele tyd op die agtervoet te hou en om die Amerikaanse kiesers se vertroue deur goeie beleidsvoorstelle te wen.

Belangrikste gevolgtrekkings uit die Amerikaanse verkiesingsuitslag

Pres. Donald Trump en sy vrou Melania. (Foto: Evan Vucci/AP)

Meer as tien dae ná die Amerikaanse verkiesing is dit steeds onseker presies hoe die magsverhouding in die land oor die volgende twee jaar, tot die middeltermynverkiesing van 2022, daar gaan uitsien. Daar is egter reeds ʼn paar belangrike gevolgtrekkings wat oor die verkiesingsuitslag en die politieke landskap in die VSA gemaak kan word.

Die volgende tien stellings som die verkiesingsuitslae in groot mate op:

  1. Trump het teen homself verloor. Donald Trump het miljoene kiesers na die Republikeinse Party gelok met gewilde ekonomiese en buitelandse beleid en ander beleidsrigtings. Sy politieke styl was egter uiteindelik die enkele faktor wat tot sy ondergang gelei het.
  2. Republikeine uitpresteer Trump. In die senaat, huis van verteenwoordigers en in die deelstate het kandidate van die Republikeinse Party keer op keer beter as Trump gevaar. Kiesers het vír Trump se beleid, maar téén sy styl gestem.
  3. Biden-kiesers stem teen Trump. ʼn Groot deel van die kieserskorps wat vir Biden gestem het, het erken dat hulle eenvoudig teen Trump gaan stem het en nie noodwendig vir enige van Biden se beleidsvoorstelle nie.
  4. Kiesers wat vir Trump en Republikeinse kandidate stem, stem vir Trump se populistiese beleid. Anders as die Demokrate se teenstem, het die steun vir Trump in baie gevalle van mense gekom wat juis deur sy beleid gelok is. Hoewel hy ook groot persoonlike aanhang geniet, het baie kiesers wat nie juis van sy styl hou nie, wel vir hom gestem omdat hulle sy beleid oor die afgelope vier jaar as positief ervaar het.
  5. Rekorddeelname van kiesers gaan in die toekoms geleenthede en uitdagings vir albei partye bied. Trump het in 2020 bykans 10 miljoen meer stemme as in 2016 gekry. Biden het bykans 13 miljoen meer stemme gekry as wat Hillary Clinton in 2016 gekry het. Albei kandidate het daarin geslaag om kiesers wat selde gaan stem, of wat nog nooit gaan stem het nie, na die stembus te lok. Die uitdaging vir die Demokrate en die Republikeine is om hierdie kiesers betrokke te hou en om te voldoen aan die verwagtinge van veranderende koalisies van kiesers. Terwyl die Demokrate maklik weer die steun van gematigde, voorstedelike wit kiesers kan verloor, kan die Republikeine maklik weer die steun van werkersklaskiesers in die ou nywerheidsdeelstate en die steun van veral Latyns-Amerikaanse kiesers in plekke soos Florida, Texas en Nevada verloor.
  6. Die stryd om beheer van die federale regering gaan toenemend in diverse, snelgroeiende deelstate (Arizona, Georgia, Texas, Noord-Carolina) en deels stagnante ou nywerheidstate (soos Pennsilvanië en Michigan) bepaal word. Florida en Ohio is nou getrou Republikeins, terwyl deelstate met groot, welvarende voorstedelike bevolkings soos Colorado, New Hampshire en Virginia nou getrou vir die Demokrate stem. Verkiesings gaan nie meer in Florida, Ohio, New Hampshire, Colorado en Nevada bepaal word nie, maar wel in deelstate soos Wisconsin, Minnesota en Pennsilvanië wat meer konserwatief raak en in deelstate soos Georgia, Arizona en Nood-Carolina wat meer stedelik en liberaal raak.
  7. Daar was geen mandaat vir linkse beleidsrigtings nie. Kiesers kon vanjaar ʼn duidelike mandaat ten gunste van meer linkse beleidsrigtings aan die Demokratiese Party gegee het. Dit het nie gebeur nie. Kiesers het juis met strategiese stemme verhoed dat die Demokrate meer mag in die Amerikaanse kongres kry om hul eie beleid deur te voer. Amerikaanse kiesers wil weer sien dat die twee partye die mag deel en dat beleid deur onderhandelinge en toegewings ontwikkel en goedgekeur moet word.
  8. Die Republikeine het ʼn groot deurbraak onder minderhede gemaak. Die feit dat 26% van kiesers wat vir Trump gestem het uit minderheidsgemeenskappe kom, is veelseggend. Dit is die beste prestasie onder minderhede wat ʼn Republikeinse presidentskandidaat sedert pres. Dwight Eisenhower se herverkiesing in 1956 kon behaal. Veral in Florida en Texas was daar ʼn groot swaai onder minderhede na Trump, maar dit het ook in dele van New York, Nevada, Nieu-Meksiko en ander suidelike state gebeur.
  9. Die Demokrate wen veld onder wit, hoërmiddelklas- voorstedelike kiesers. Trump het wesenlike steun onder gematigde voorstedelike kiesers verloor. Hierdie kiesers het in 2016 vir Trump gestem, nadat hulle in 2008 en 2012 vir Obama en in 2004 vir Bush gestem het. Vir dekades reeds wen die Republikeine slegs wanneer hulle ʼn sterk meerderheid van hierdie kiesers se steun geniet. Trump se politieke en persoonlike styl het baie van die gematigde kiesers afgesit. Tog het ʼn deel van hierdie kieserskorps steeds vir Republikeinse kandidate vir die kongres gestem, wat beteken dat ʼn toekomstige presidentskandidaat van dié party weer hul steun sal kan terugwen.
  10. Federalisme en die kieskollege wen, maar daar is baie vrae oor posstemme en die stemtelproses. Terwyl federalisme in die VSA en die kieskollege waarvolgens die Amerikaanse president aangewys word duidelik sterk staan ná hierdie verkiesing, sal daar in baie deelstate ernstig gekyk moet word na die gebruik van posstemme op groot skaal en die mate waartoe dit misbruik kan word. In sommige deelstate laat die wyse waarop stemme, veral posstemme en ander vroeë stemme, getel word, ook veel te wense oor. Terwyl Florida ná die fiasko in 2000 sy stelsel sinvol kon hervorm, sal dieselfde in deelstate soos Pennsilvanië en Michigan ook moet gebeur.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers, Wêreldnuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

37 Kommentare

jongste oudste gewildste
Werner

Kan niks meer glo wat die media se nie wag maar vir die hof uitslae

Adriaan

Die berig het die prosesse wat nog kom voordat Pres Trump vir sy volgende termyn ingelyf word heeltemal verswyg en laat lesers met n wanindruk oor hoe dit werk.

Hierdie berig is n poging deur die media om die wenner aan te wys en dis (gelukkig) nie hoe dit werk nie.

Daar is ten slotte talle bewyse van verkiesingsbedrog, al ontken die berig skrywer dit.

Dewald

Terwyl daar wetlike prosesse (veral as daar kriminaliteit ter sprake kan wees) aan die gang is, is dit altyd dalk die veiligste om nie uitsprake te maak of in die publiek kant te kies nie. Daai albatros kan ‘n lang pad saam jou loop as jy ‘n misdadiger se kant gekies het.

Pieter

Sien my kommentaar kan ek nie plaas nie. MM wys dat linkse politiek nie vryheid van spraak, ware demokrasie en die feite tolereer nie. Die skrywer van die berig wys duidelik waarheen sy organisasie aan behoort.

Adam Adriaan

Hier kom nog ‘n ding wat spring. “Time spend on reconasense is never waisted” Kry eers al die feite en dan maak ‘n mens afleidings en gevolgtrekkings, Daarna die plan. Die media werk altyd omgekeerd. Eers ‘n plan en daarna as dit nie werk nie, praat hulle nooit weer daaroor nie. Hoof doelwit is misleiding en populisme