Uber mag weer passasiers in Londen rondkarwei

Argieffoto

Uber word vir die volgende 18 maande weer toegelaat om in Londen, Engeland, sy vervoerdiens te bedryf nadat die taxidiens appèl aangeteken het teen die vervoerreguleerder Transport for Londen (TfL) se besluit verlede jaar om nié ʼn nuwe lisensie aan Uber uit te reik om in dié stad sake te doen nie.

Adjunkhooflanddros Tan Ikram het Maandag bevind dat Uber bevoeg is om in Londen werksaam te wees waarna die maatskappy se lisensie met 18 maande verleng is.

Daar is wel 21 voorwaardes hieraan verbonde waaronder die verskaffing van gereelde, onafhanklike verslae aan die Britse owerhede.

Maroela Media het vroeër berig TfL het aanvanklik besluit om nie Uber se lisensie te hernu nie. Die reguleerder meen dat die taxi-app nie veilig genoeg is nie, aangesien kliënte toegelaat word om saam met bestuurders te ry wat moontlik nie gelisensieer of verseker is nie.

Uber het reeds in 2017 sy lisensie verloor om sy vervoerdiens in Londen te bedryf, weens ʼn gebrek aan veiligheid. Die lisensie is egter vir 15 maande en later ʼn verdere twee maande verleng. Dié verlenging het November verlede jaar verval.

Uber het die hof se bevinding Maandag verwelkom en gesê dit is ʼn “erkenning van Uber se verbintenis tot veiligheid”. Die maatskappy het ook belowe om konstruktief saam met TfL te werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.