Uiterste klimaat pootjie Italianers se olyfoes

Alan Risolo op sy grond in Sabina, sentraal-Italië,(Foto: Tiziana FABI/AFP)

ʼn Boer van Italië sit hande in die hare ná uiterste weerstoestande – waarvoor klimaatsverandering die skuld kry – sy jaarlikse oes heeltemal verwoes het.

Die 43-jarige boer, Alan Risolo, meen hierdie tyd van die jaar behoort die olyfbome op sy grond in Sabina, sentraal-Italië, met hordes olywe te pronk.

En terwyl hy moedeloos ʼn tak, met net ʼn paar verskrompelde groen en swart olywe daaraan, omhoog hou, vertel hy aan AFP dat sy produksie met 80% afgeneem het.

Hierdie streek, wat sedert die Romeinse tyd vir sy olyfboorde bekend is, spog met bome wat honderde, selfs duisende jare oud is, maar veranderende weerpatrone blyk uiters uitdagend te wees.

“Ons land gaan werklik al vir etlike jare kwaai onder klimaatsverandering gebuk,” het Risolo aan AFP gesê.

Hy verwys na stortreën in kontras met “lang periodes van hitte wat tot in die herfs duur”.

(Foto: Tiziana FABI/AFP

“Ek en my werkers sal normaalweg in jasse wees vir die herfsoes, maar vroeër hierdie week het ons die olywe in ons T-hemde geoes. Dit was 29 °C hier, hopeloos te warm vir ʼn jas.”

(Foto: Tiziana FABI/AFP

Die verlaging in produksie het egter nie net Sabina geraak nie. Die meeste van die sentrale en noordelike streke van Italië se produksie het afgeneem – die wêreld se naasgrootste produsent van olyfolie.

“Vanjaar word nasionale produksie op 290 000 ton geskat, dit is 25 000 ton minder vergeleke met verlede jaar se produksie.”

Alan Risolo meen sy produksie het met 80% afgeneem. (Foto: Tiziana FABI/AFP

Volgens die landbouvereniging, Coldiretti, is dit die laagste syfer in die afgelope vier jaar.

“Italië het 150 miljoen olyfbome wat vir €3 miljard ($3,19 miljard) se jaarlikse omset verantwoordelik is en 400 000 ondernemings ondersteun,” sê Coldiretti.

“Die risiko is dat sommige boere na ander gewasse oorskakel.”

Ondanks die swak prestasie in die middel en noorde van Italië, kon produksie vanjaar deur die land se suidelike streke, naamlik Puglia – wat die helfte van Italië se olie maak – en Calabrië, gered word.

Boere is ook ondersteun deur prysverhogings in die wêreldmark vir olyfolie, aangesien produksie in Spanje, wat normaalweg die helfte van die wêreld se aanbod produseer, ook swaargekry het.

Produksie in Spanje het weens ʼn langdurige droogte met ongeveer 34% afgeneem.

Die stygende pryse is slegte nuus vir verbruikers, waaronder in Italië, wat 15% van die olyfolie wat wêreldwyd geproduseer word self verbruik.

Alan Risolo op sy grond in Sabina, sentraal-Italië,(Foto: Tiziana FABI/AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.