Uitgebrande vragskip kom by Nederlandse hawe aan

Die Fremantle Highway kom by Eemshaven in Nederland aan (3 Augustus 2023) (Foto: Vincent Jannink/ANP/AFP)

ʼn Uitgebrande vragskip, wat motors vervoer het, het Donderdag by ʼn hawe in Nederland aangekom, meer as ʼn week ná ʼn brand op see op die skip uitgebreek het. ʼn Omgewingsramp is vermy.

Die Fremantle Highway het by Eemshaven aangekom en plaaslike media het foto’s gedeel van sleepbote wat die uitgebrande skip in die hawe in sleep.

Een matroos is oorlede en 22 ander is gered ná ʼn brand op 25 Julie op die skip uitgebreek het. Die skip, met sy vlag van Panama, het meer as 3 700 voertuie, waaronder honderde elektriese motors vervoer.

“Ek kan bevestig die skip het in Eemshaven aangekom,” het Jente Wieldraaijer, woordvoerder vir die streeksveiligheidsowerheid, aan AFP gesê.

Die Fremantle Highway het naby die Terschelling en Ameland, wat deel vorm van ʼn groep ekologies sensitiewe eilande in die Waddensee, gelê toe die brand uitgebreek het en vrese het ontstaan vir ʼn ekologiese ramp. Dié eilande is as ʼn Unesco-wêrelderfenisgebied verklaar.

Alhoewel die situasie vir verskeie dae lank onder beheer was, het gru weer in die Noordsee verdere kommer laat ontstaan vir ʼn moontlike oliestorting of dat die skip selfs kon sink wanneer dit na die hawe gesleep word.

ʼn Boot, wat spesifiek daarop fokus om oliestortings op te ruim, het deur die reis naby aan die skip gebly.

Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie. Die vaartuig se eienaar vermoed een van die elektriese motors aan boord was die bron.

Volgens die Japannees gebaseerde K Line, die skip se verhuringsmaatskappy, het die vragskip altesaam 3 783 nuwe motors, insluitend 498 elektriese motors vervoer.

Sommige bemanningslede moes van hoë hoogtes in die see spring toe die brand uitgebreek het. Verskeie persone is na ʼn hospitaal geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lillian ·

Dis nou ‘n ding! Maar ten minste het die skip nie ‘n natuurramp veroorsaak en olie in die see gestort nie

Charles ·

Hoe lank vat dit n vragskip/herehuis om gespook te wees na hulle vervalle is of uitbrand? Altyd gewonder…

Hennie ·

Een van die redes waarom ek nooit n elektriese motor sal koop, of selfs in een sal ry nie.
As jy in n ernstige motorongeluk betrokke is met n elektriese motor, het jy min kans om gered te word as n brand uitbreek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.