Uitspraak gelewer in saak van VSA-tiener wat twee betogers doodskiet

Kyle Rittenhouse tydens die uitspraak (Foto: Sean Krajacic/Pool/Getty Images/AFP)

Kyle Rittenhouse, die Amerikaanse tiener wat verlede jaar twee mans tydens betogings en onluste teen polisiebrutaliteit in Wisconsin doodgeskiet het, is Vrydag ná ’n hoëprofiel‑ en polities verdelende verhoor op alle aanklagte vrygespreek.

’n Jurie het Rittenhouse (18) onskuldig bevind aan roekelose en opsetlike manslag en ander aanklagte wat uit die skietvoorvalle gespruit het wat in Augustus verlede jaar in Kenosha, Wisconsin, plaasgevind het.

Rittenhouse, wat aangevoer het dat hy uit selfverdediging opgetree het, het gesnik en gebewe terwyl die uitspraak gelees is, in sy stoel neergeval en sy prokureur na die uitspraak omhels.

President Joe Biden het na die uitspraak teen geweld gewaarsku en ’n beroep op kalmte gedoen.

“Terwyl die uitspraak in Kenosha baie Amerikaners kwaad en bekommerd sal laat voel, ek ook, moet ons aanvaar dat die jurie besluit het,” het Biden in ’n verklaring gesê. “Ek doen ’n beroep op almal om hul mening vreedsaam uit te druk, in ooreenstemming met die oppergesag van die reg.”

Rittenhouse se prokureur, Mark Richards, het ná die uitspraak aan verslaggewers gesê hy glo sy kliënt het berou. “Hy ontvang berading vir PTSD. Hy slaap nie saans nie.”

Ondersteuners van Rittenhouse het buite die Kenosha-hofgebou gejuig en hande geklap ná die uitspraak.

Rittenhouse het tydens die twee weke lange verhoor getuig hy het twee mans met sy AR-15‑ semi-outomatiese geweer doodgeskiet en nog een gewond nadat hy aangeval is. Aanklaers het aangevoer dat Rittenhouse, toe 17 jaar oud, nie uit selfverdediging opgetree het nie, maar eerder die gebeure “uitgelok het”.

Rittenhouse het op vyf aanklagte tereggestaan – een aanklag van opsetlike manslag, een aanklag van roekelose manslag, een aanklag van poging tot opsetlike manslag en twee aanklagte van veiligheid op roekelose wyse in gevaar stel.

Die ernstigste aanklag, opsetlike manslag, het ’n verpligte vonnis van lewenslange tronkstraf.

Die jurie het vir altesaam 26 uur oor vier dae beraadslaag voordat hulle ’n eenparige uitspraak van onskuldig op alle aanklagte gelewer het.

Die saak het baie aandag getrek aangesien dit voortgespruit het uit die talle Black Lives Matter-betogings wat verlede jaar in Amerika voorgekom het.

Burgerlike onrus het in Augustus verlede jaar in Kenosha uitgebreek nadat ’n wit polisieman ’n swart man, Jacob Blake, tydens ’n inhegtenisneming verskeie kere in die rug geskiet het en hom verlam gelaat het.

Rittenhouse, wat beweer het dat hy na Kenosha gegaan het om besighede teen plunderaars te beskerm en as ’n paramedikus op te tree, word deur sommiges as ’n held beskou vir sy optrede.

Aanklaers het egter gesê Rittenhouse, wat in die naburige staat Illinois woon, het na Kenosha gegaan as ’n selfaangestelde “junior polisieman” en “het ’n reeks roekelose besluite geneem”.

Gemengde reaksie op uitspraak

(Foto: Nathan Howard/Getty Images/AFP)

Shannon Watts, stigter van die wapenbeheergroep Moms Demand Action, was een van diegene wat die uitspraak veroordeel het.

“Dat ’n tiener oor staatsgrense kan reis na ’n betoging waarmee hy niks te doen gehad het nie; drie mense skiet, van wie twee dood is; en geen kriminele gevolge in die gesig staar nie, is ’n dwaling van geregtigheid en ’n aanklag op ons strafregstelsel,” het Watts gesê.

Bill de Blasio, burgemeester van New York, ’n demokraat, het gesê die uitspraak “stuur ’n aaklige boodskap aan hierdie land”.

“Om dit ’n dwaling van geregtigheid te noem, is om dit ligtelik te stel,” het hy gesê.

Republikeinse wetgewers het die onskuldige bevinding verwelkom.

“Geregtigheid het geskied,” het Wisconsin‑senator Ron Johnson gesê. “Ek hoop almal kan die uitspraak aanvaar, vreedsaam bly en die gemeenskap van Kenosha laat genees en herbou.”

Voormalige president Donald Trump het in ’n verklaring wat op die Twitter-rekening van sy hoofwoordvoerder, Liz Harrington, vrygestel is, gesê: “Baie geluk aan Kyle Rittenhouse dat hy onskuldig bevind is op alle aanklagte. Dit word genoem om nie skuldig bevind te word nie en terloops, as dit nie selfverdediging is nie, is niks nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

MakersMark ·

Nou gaan blm eers aangaan. Dalk moet hul leer mense is siek en sat vir hul self geimposeerde reg om geweld aan te wakker. En sodra daar gevolge is volg die victim mentality. Hier in SA is dieselfde mentaliteit, kyk wat het in KZN gebeur ? Toe gewone burgers begin terugskiet om hul eiendom en geliefdes te beveilig, nou is dit rassisme en moord.

Malan ·

Natuurlik sal BLM weer klipgooi, brande stig, geweld en vernietiging pleeg na hierdie uitspraak. Dit is soos hulle “operate”. Ergste is, hulle kom weg daarmee.

Julius ·

Goed dat hy vrygespreek is want hy het homself verdedig teen blm en antifa.

Sarel ·

Pres. Biden prast u nou ook net met mense wat hulle
self verdedig of spreek u ook die Betogers aan

Tjaart ·

Hierdie is net nog n voorbeeld van die waardes waarvoor blm staan. Tenspyte van talle sulke voorbeelde is persone steeds bereid om op hulle kniee voor hierdie mense neer te val. Hoe hartseer is dit nie. Baie bly vir die jongman dat hierdie onnodige sirkus agter die rug is.

Hoekom ·

Mooi, geregtigheid vir die jong seun. Hy het die manne in blou gaan help teen terroriste wat ‘n stad aan die brand gesteek het en mense se lewens en besighede vernietig het…

Dries ·

MM,die trant van julle beriggewing weerspieël die REGTE verloop van gebeure nie.Julle maak niks melding van die aanklaers se versuim om bewystukke van die verdediging te weerhou nie,asook die feite dat die kind gedreig was met vuurwapens,en met n skatebord aangerand is.
Die klem wat die hele mainstream media,en julle,lê op die oorsteek van “statelines”,is oordrewe.Wat is dit anders as wat ons eie mense doen om provinsiale grense oor te steek om beskuldigdes in Brendon Horner moord te gaan bystaan,of om Zuma te gaan beskerm.Wat van tydens die lootery in Julie,toe talle taxis vol mense,”provinsiale lyne”oorgesteek het om eiendom te beskerm.

Asb MM,ek is n getroue lese van julle blad.Moet asb nie die liberale “,mainstream media”se narratief begin najaag nie.

Bly by die waarheid,ek smeek julle.

Atta ·

Sy pa woon in Kenosha en dis hoekom hy die ongeveer 19 myl (oor ʼn staatslyn – enkelvoud) soontoe afgelê het om sy pa se gemeenskap te gaan help beveilig. Maar die hoofstroommedia wil die indruk skep dat hy honderde myle gereis het soontoe met die doel om te gaan moeilikheid maak.

Hennie ·

Die eerste aanvaller het 11 seuns verkrag, 2de een 2 keer toegesluit vir huishoudelike geweld, 3de een roof, hulle wou hom vermoor en hy het met reg sy lewe beskerm

Atta ·

En al drie aanvallers se velkleur was dieselfde as Rittenhouse s’n. Nog iets wat die hoofstroom media aanhou verswyg want dan val hulle “white supremacist” narratief van die laaste jaar plat.

Hardekwas ·

N oorwinning teen wokeness. Welgedaan aan die regter. Doe so voort. Verwoes wokeness.

Blommie ·

Dit was eintlik twee aanvallers wat geskiet was, hulle het moontlik die dag ook aan betogings deelgeneem.

Robert ·

Moontlik??? En daar was drie geskiet… twee kon die storie oorvertel en het gebieg hulle wou moor.

Cobus ·

Dit is lekker om te lees dat geregtigheid wél nog geskied.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.