Uitsterwing tot 40% van amfibieë se lot

(Foto: Pixabay)

Daardie welbekende paddakoor op ʼn somersaand kan dalk binnekort iets van die verlede wees. ʼn Nuwe studie wys klimaatsverandering is die groot sondaar wat ons amfibiese vriende tot op die rand van vergetelheid dryf. Kenners meen egter dit is nie te laat om die probleem om te keer nie.

Habitatvernietiging én siektes is goed gedokumenteerde oorsake van die afname van amfibieë – een van die mees bedreigde diere op die planeet.

ʼn Studie wat deur die amfibiese rooilysowerheid – die spesialisgroep vir amfibieë verbonde aan die spesie-oorlewingskommissie van die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur – gekoördineer is, en deur Re:wild aangebied en bestuur is, het egter bevind dat klimaatsverandering nou een van die grootste bedreigings vir paddas, salamanders en caecilians (sonder ledemate) is. Die studie het twee dekades se data gebruik om die uitwissingsrisiko van 8 000 amfibiespesies wêreldwyd te ontleed.

Meer as 2 000 van hierdie spesies is vir die eerste keer geëvalueer.

Meer as 1 000 kundiges oor die hele wêreld het hul data en kundigheid bygedra, ten einde te bevind dat twee uit elke vyf amfibieë tans met uitsterwing bedreig word.

(Foto: Pixabay)

Hiervolgens word byna 41% van alle amfibiese spesies wat geassesseer is, tans kritiek bedreig, bloot bedreig of is kwesbaar vir bedreiging. Dit word vergelyk met 26,5% van soogdiere, 21,4% van reptiele en 12,9% van voëls.

Vier amfibiese spesies het sedert 2004 uitgesterf en 27 bykomende kritiek bedreigde spesies word nou as moontlik uitgesterf beskou, wat die totaal op meer as 160 kritiek bedreigde amfibieë te staan ​​bring en as moontlik uitgesterf beskou word.

Volgens die studie het ʼn paar kritieke bedreigings tussen 2004 en 2022 meer as 300 amfibieë nader aan uitwissing gedruk – klimaatsverandering is die primêre bedreiging vir 39% van hierdie spesies.

Jennifer Luedtke Swandby, Re:wild se bestuurder van spesievennootskappe, asook die rooilysowerheidskoördineerder van die IUCN SSC se spesialisgroep vir amfibieë, is een van die hoofskrywers van die studie. Sy sê hierdie getal sal na verwagting styg namate beter data en projeksies oor spesies se reaksies op klimaatsverandering beskikbaar gestel word.

“Klimaatsverandering is veral kommerwekkend vir amfibieë – grootliks omdat hulle besonder sensitief is vir veranderinge in hul omgewing,” sê Swandby.

“Namate ons as mense veranderinge in die klimaat en habitatte aandryf, word amfibieë klimaatsgevangenes, wat nie baie ver kan beweeg om die toename in frekwensie en intensiteit van uiterste hitte, veldbrande, droogte en orkane te ontsnap nie.

“Die studie toon dat ons nie kan voortgaan om hierdie diere se bedreiging te onderskat nie. Die beskerming en herstel van woude is van kritieke belang, nie net om biodiversiteit te beskerm nie, maar ook om klimaatsverandering aan te pak.”

Swandby sê habitatvernietiging en agteruitgang weens landbouaktiwiteite, infrastruktuurontwikkeling en ander nywerhede is volgens die studie steeds die mees algemene bedreiging en raak 93% van alle bedreigde amfibiespesies.

(Foto: Verskaf)

“Uitgebreide habitat- en korridorbeskerming op plekke wat belangrik is vir biodiversiteit is steeds van kritieke belang.”

Volgens Swandby veroorsaak siektes, veral die chytrid-swam – wat amfibiese spesies in Latyns-Amerika, Australië en die Verenigde State afgemaai het – asook oorbenutting steeds ʼn drastiese afname in amfibieë.

“Habitatvernietiging en -agteruitgang, siektes en oorbenutting is alles bedreigings wat vererger word deur die gevolge van klimaatsverandering.”

Salamanders veral in gevaar

(Foto: Pixabay)

Die studie het ook bevind dat drie uit elke vyf salamanderspesies weens habitatvernietiging en klimaatsverandering met uitsterwing bedreig word – dit maak salamanders die wêreld se mees bedreigde groep amfibieë.

Noord-Amerika is die tuiste van die mees biodiverse gemeenskap van salamanders in die wêreld. Natuurbewaarders is egter bekommerd oor ʼn dodelike salamander-swam genaamd Batrachochytrium salamandrivorans (Bsal), wat in Asië en Europa gevind is en binnekort Noord- en Suid-Amerika kan binnedring.

“Bsal is nog nie in die Verenigde State aangetref nie, maar omdat mense en ander diere die swam na nuwe plekke kan versprei, is dit dalk net ʼn kwessie van tyd voordat ons die tweede wêreldwye amfibiese siektepandemie sien,” sê Dede Olson, ʼn navorsingsekoloog van die USDA Forest Service, lid van die IUCN SSC se spesialisgroep vir amfibieë en medeskrywer van die studie.

“Dit is van kritieke belang dat ons voortgaan om proaktiewe bewaringsaksies in te stel om die verspreiding van Bsal na die Verenigde State te voorkom, waaronder doeltreffende biosekerheidspraktyke vir wilde en gevange amfibieë, asook vinnige opsporing en reaksiemaatreëls.”

(Foto: Pixabay)

Adam Sweidan, voorsitter en medestigter van Synchronicity Earth, sê die hele geskiedenis van amfibiebewaring bewys hoe noodsaaklik hierdie inligting is.

“As die IUCN-rooilys in die 1970’s op ʼn soortgelyke skaal bygewerk is as wat dit vandag is, kon ons die omvangryke amfibiese siektepandemie opgespoor het 20 jaar voordat dit die amfibiese bevolkings afgemaai het.

“Dit is egter nie te laat nie – ons het hierdie magdom inligting, ons het die amfibie-bewaringsaksieplan, maar planne en inligting is nie genoeg nie, ons moet optree. Ons moet vinnig optree.”

Kelsey Neam, Re:wild se prioriteite- en metrieke-spesiekoördineerder en een van die hoofskrywers van die studie, sê amfibieë verdwyn vinniger as wat ons hulle kan bestudeer en die lys redes om hulle te beskerm is lank.

“Hulle speel ʼn rol in die ontwikkeling van medisyne, dien as plaagbeheer, waarsku ons oor omgewingstoestande en help om die planeet mooier te maak. Terwyl ons referaat op die uitwerking van klimaatsverandering op amfibieë fokus, is die omgekeerde ook van kritieke belang: dat die beskerming van amfibieë ʼn oplossing vir die klimaatkrisis is vanweë hul sleutelrol om koolstofhoudende ekosisteme gesond te hou.

“As wêreldgemeenskap is dit tyd om te belê in die toekoms van amfibieë, wat om die beurt ʼn belegging in die toekoms van ons planeet is.”

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.