‘Vergewe my,’ vra Franse reeksmoordenaar se eks

Monique Olivier, voormalige vrou van die berugte Franse reeksmoordenaar, Michel Fourniret, vandeesweek in die hof in Parys. (Foto: Miguel Medina / AFP)

Die voormalige vrou van die berugte Franse reeksmoordenaar, Michel Fourniret, het die families van haar gewese man se slagoffers Dinsdag om vergifnis gevra vir haar aandeel aan die moorde.

Dit was die laaste dag van Monique Olivier se verhoor in Frankryk, wat verband hou met drie van die moorde wat Fourniret destyds gepleeg het. Dit sluit in dié van die Britse student Joanna Parrish in 1990.

“Ek vra om vergifnis, al weet ek dat wat ek gedoen het onvergeeflik is,” het Olivier in die hof gesê.

Sy dien reeds ʼn lewenslange vonnis uit vir haar aandeel aan vier van die ontvoerings en moorde wat Fourniret gepleeg het. Dié vonnis is in 2008 opgelê.

Eric Mouzin, pa van die negejarige Estelle wat in 2003 verdwyn het. (Foto: Julien de Rosa / AFP)

Tien jaar later is sy tot ʼn verdere 20 jaar tronkstraf gevonnis vir haar aandadigheid aan nog ʼn moord.

Sy word tans verhoor vir haar aandeel aan die ontvoering, verkragting en moord op die 20-jarige Parrish in 1990 en die 18-jarige Marie-Angele Domece in 1988. Sy word ook aangekla vir haar medepligtigheid aan die verdwyning van die negejarige Estelle Mouzin in 2003, wie se liggaam ná 20 jaar steeds nie gevind is nie – ondanks uitgebreide soektogte.

Die Franse reeksmoordenaar Michel Fourniret in 2006. (Foto: Fred Dufour / AFP)

Fourniret, wat skuld op 11 moorde beken het, is in 2021 in die ouderdom van 79 in die tronk dood voordat hy vir dié drie moorde verhoor kon word. Hy het ook die antwoorde op baie onbeantwoorde vrae saam met hom na die graf geneem. Benewens die 11 moorde waarop hy skuld beken het, word daar vermoed dat hy selfs meer as 20 ander moorde gepleeg het.

Aanklaers vra nou dat Olivier tot lewenslange tronkstraf vir die moorde op Parrish, Domece en klein Mouzin gevonnis word, sonder die moontlikheid van parool vir minstens 22 jaar.

Uitspraak word later Dinsdag verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.