Vermiste ‘Glee’-ster se liggaam gevind

Naya Rivera (Januarie 2018) (Foto: Willy Sanjuan/Invision/AP, File)

ʼn Liggaam is Maandag by ʼn meer in die suide van Kalifornië gevind tydens ʼn soektog na die Glee-ster Naya Rivera.

Die 33-jarige Rivera het vyf dae gelede by Piru-meer verdwyn. Haar seun Josey is op 8 Julie op ʼn boot gevind wat die twee gehuur het, het die Ventura County se sheriff-kantoor gesê.

Videomateriaal wys hoe Rivera en haar seun wegvaar op die gehuurde boot. Toe die boot nie terugkeer nie, het die verhuurder ondersoek ingestel en die boot in die noordelike deel van die meer gekry. Josey het op die boot lê en slaap. Hy het aan ondersoekbeamptes gesê hy en sy ma het geswem en hy het teruggeklim op die boot, maar sy het nie. Josey het ʼn lewensreddersbaadjie aangehad en nog ʼn baadjie is in die boot gevind saam met Rivera se handsak en identiteitsdokument.

Sy het vermoedelik “in ʼn tragiese ongeluk” verdrink.

Naya Rivera (2013) (Foto: Dan Steinberg/Invision/AP, File)

Robert Inglis van die Ventura County se sheriff-kantoor het vroeër gesê Rivera het, kort voor sy op 8 Julie verdwyn het, ʼn foto van haar vierjarige seun, Josey, aan ʼn familielid gestuur. Josey kan op die foto op die boot gesien word voor ʼn grot in die omgewing. Die ondersoekspan het die grot opgespoor. Die tydstempel van die foto wys dat dit tussen 90 minute en twee ure geneem is voor die seuntjie alleen op die boot gevind is.

Josey is Rivera se seun uit haar huwelik met die akteur Ryan Dorsey. Die paartjie se egskeiding is in Junie 2018 afgehandel ná vier jaar se getroude lewe. Josey is nou veilig saam met familielede.

Rivera was die rasieleier Santana in die musikale komedie Glee wat tussen 2009 en 2015 op Fox te sien was. Sy was in 113 episodes te sien.

Die reeks is geteister deur tragiese gebeure.

  • Mark Salling (35), wat die rol van Noah “Puck” Puckerman vertolk het, het homself in 2018 om die lewe gebring het ná hy skuld beken het op aanklagte van kinderpornografie.
  • Cory Monteith (31), wat Finn Hudson gespeel het, is op 13 Julie 2013 oorlede weens ʼn oordosis heroïen en alkohol.
  • Drie maande ná Cory se afsterwe is die assistent-regisseur Jim Fuller in sy slaap oorlede weens hartversaking.
  • Produksie-assistent Nancy Motes, die suster van Julia Roberts, is in 2014 in die ouderdom van 37 oorlede ná sy in ʼn bad verdrink het. Voorgeskrewe en nie-voorgeskrewe medikasie is glo langs die bad gevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.