Verslag wys op probleme met gebottelde water

Argieffoto (Foto: Darko Djurin/Pixabay)

Die helfte van die geld wat wêreldwyd aan gebottelde water gespandeer word, is genoeg om universele toegang tot skoon drinkwater uit krane moontlik te maak, aldus ʼn studie deur die Verenigde Nasies wat Donderdag uitgereik is.

Indien daar wegbeweeg word van die gebruik om gebottelde water te drink, kan dit ook ʼn groot afname beteken in plastiekafval, aangesien sowat 85% van waterbottels uiteindelik op vullishope beland, aldus die verslag.

Die studie se outeurs, gebaseer in Kanada, het ook ʼn waarskuwingsvlaggie opgesteek dat wanpersepsies rondom die veiligheid van kraan- en gebottelde water ʼn groot rol speel in individue se voorkeure.

“Daar is ʼn persepsie dat gebottelde water die gesonder opsie is,” het hoofouteur Zeineb Bouhlel aan AFP gesê. “Maar ons het gewys dat dit nie noodwendig die geval is nie, en mense betaal baie meer vir gebottelde water – van 150 tot 1 000 keer meer as vir ʼn liter kraanwater.”

Volgens die studie is daar smetstowwe gevind in honderde gebottelde waterhandelsmerke van meer as 40 lande – wat gereeld plaaslike of internasionale standaarde oortref het.

Oor die afgelope dekade het verkope van gebottelde water met 73% toegeneem tot byna $270 miljard en 350 miljard liter.

Sowat 600 miljard plastiekbottels word jaarliks vervaardig – ongeveer 25 miljoen ton plastiekafval.

In die Noordelike Halfrond kies verbruikers hoofsaaklik om gebottelde water te koop omdat dit maklik is om te dra en as gevolg van die persepsie dat dit gesonder en lekkerder is as kraanwater. In die Suidelike Halfrond word verkope gewoonlik aangevuur deur ʼn gebrek aan betroubare watertoevoer.

Die verslag wys daarop dat die gebotteldewaterbedryf hoofsaaklik ongereguleerd is, aangesien beleidsmakers nie in staat was om tred te hou met die skielike uitbreiding nie.

Dit het risiko’s teweeggebring soos die “ongekontroleerde onttrekking van grondwater vir bottelering”. Dit kan uiteindelik daartoe lei dat grondwater uitgeput of skaars raak, sê die outeurs.

Wladimir Smakhtin van die VN-universiteit se instituut vir water, omgewingsake en gesondheid in Hamilton, Kanada, sê 2 miljard mense het steeds nie toegang tot veilige drinkwater nie.

Die situasie is die ergste in Afrika suid van die Sahara, en wêreldwyd word dit vererger deur die voortgesette uitbreiding van gebotteldewatermarkte. Hy voer aan dit lei die aandag en hulpbronne weg van stelselontwikkeling vir openbare water.

Daar is wel vordering gemaak: 74% van die wêreld se bevolking het in 2020 veilige drinkwater gehad, teenoor 62% in 2000.

“Maar ons is beduidend van koers af om te voldoen aan die VN-teiken om drinkwater teen 2030 universeel beskikbaar te maak,” het Smakhtin, medeouteur, gesê. “Die huidige neiging is nie volhoubaar nie. Ons moet probeer om meer te belê in openbarewaterbronne om mense toegang te gee tot betroubare drinkwater, eerder as gebottelde water.”

Die verslag versoek meer deursigtigheid en dat regsmaatreëls ingestel sal word wat gebotteldewatermaatskappye sal dwing om die watervolumes bekend te maak wat hulle onttrek en dat die omgewingsgevolge van hul aktiwiteite in oënskou geneem kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jacobus ·

Met dreigende Cholera en ander epidemies is die outeurs welkom om in Afrika kraan water te kom nuttig. Ons probeer ons uiterste om gesond te bly ten spyte van al die ANC (en WEF)intervensies (vernietiging).

melaney ·

Daar het telkemale groot trokke gelaai met gebottelde water vir ure aaneen in die straat buite my kantoor gestaan. Hulle het omtrent die hele dag daar in die son gestaan. Altyd gewonder wat die gebruikers daarvan sou dink wanneer hulle daardie “gesonde” water ingeneem het.

quartus ·

Ek wonder waar die water vandaan kom in dorre Suid Afrika, om al die derduisende bottels te vul.

Mieke ·

In baie SA dorpe is dit noodsaaklik om gebottelde water te hê. Goeie water kwaliteit of beskikbaarheid bestaan glad nie in sommige plekke nie!

JJ ·

Ons het ook nie skoonwater in Vanrhynsdorp nie. Seker vir die afgelope 3 maande. Hier is meer pypbreke as wat die dam vol water gepomp word. Absolute mislukking.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.