ʼn Pa is dood en sy negejarige dogter ernstig beseer toe ʼn klein vliegtuig hulle Sondag op ʼn strand in Florida, Amerika, getref het.
“Karl Kokomoor (57), die vlieënier, en sy passasier David Theen (60), is nie beseer nie,” het Wendy Rose, ʼn woordvoerder vir die polisie in Sarasota, gesê. Die Piper-vliegtuig het krag verloor en langs die water neergestryk.
“Ommy Irizarry (36) en sy dogter, Oceana, het op die strand geloop en die vliegtuig het hulle getref. Ommy is later dood verklaar,” het Rose bygevoeg.
ʼn Plaaslike lughawe het ʼn noodoproep van Kokomoor ontvang om te sê dat hy nie die lughawe gaan haal nie. Hy moes ʼn noodlanding op die strand doen.
Oceana is in ʼn kritieke toestand na ʼn hospitaal geneem.
Kathleen Bergen, ʼn woordvoerder vir die Federale Lugvaartowerheid het in ʼn e-pos aan die Associated Press gesê die agentskap ondersoek die voorval. Sy het bevestig die vliegtuig het krag verloor, maar kon nie verdere besonderhede verskaf nie.