Video: ‘Skaakmat’ toe robot seun se vinger breek

In die video kan gesien word hoe die seun ʼn skaakstuk optel om te skuif en die robot hom dan vir etlike sekondes aan die vinger gryp (Foto: Skermskoot)

Diegene wat gedink het skaak is veilig, sal verbaas wees om te hoor dat hierdie sport ook soms sy beserings oplewer.

Dit het die skaakgemeenskap aan die gons gehad toe ʼn skaakrobot verlede week ʼn sewejarige seun se vinger tydens ʼn wedstryd by die Moskou-skaakfederasie in Rusland gebreek het.

CNN en The Guardian berig die seun het na die robot se mening té vinnig ʼn skuif gemaak, waarna hy die seun aan die vinger gegryp het. Die robot het glo nog nie sy skuif afgehandel nie.

Volgens Sergey Lazarev, president van die Moskou-skaakfederasie, moet die robot genoeg tyd hê om sy skuif te maak. “Die seun het te haastig probeer skuif en die robot het hom toe aan sy vinger gegryp,” het Lazarev gesê.

ʼn Video van die voorval is op sosiale media gedeel en daarin kan gesien word hoe die seun ʼn skaakstuk optel om te skuif en die robot hom dan vir etlike sekondes aan die vinger gryp. Die video wys hoe drie mense hulle na die kind haas om hom te help.

Volgens Lazarev het die seun die volgende dag weer gespeel en die toernooi met ʼn vingerstut voltooi. Die seun is een van die 30 beste skaakspelers in die o.9-groep in Rusland.

Sky News berig die federasie het die robot gehuur en word al vir ʼn geruime tyd op baie plekke deur spesialiste uitgestal. Dit is glo ook die eerste keer dat ʼn voorval van só ʼn aard tydens ʼn skaakwedstryd aangemeld is.

Sergey Smagin, visepresident van die Russiese Skaakfederasie, sê die seun het die veiligheidsmaatreëls oortree. Dit is nie duidelik of enige veiligheidsopdragte aan die seun uitgereik is voordat sy spel teen die robot begin het nie.

“Toe die seun sy skuif maak, het hy nie besef hy moet eers vir die robot wag nie,” het Smagin gesê. “Dit is ʼn uiters seldsame geval, die eerste waarvan ek weet.”

Lazarev sê die robotoperateurs moet dalk oor hul “skepping” herbesin. “Die nodige veranderinge moet gemaak word om die robot veiliger te maak vir sy mededingers,” sê hy.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Faraway ·

Robot?
Daai lyk meer soos die lang arm van die gereg . . . ons kort n paar van hulle vir elke grypdief!

Cherokee ·

Die robot behoort gestraf te word. Boete , skorsing of iets dergliks. Dit klink nie eens of die robot verskoning gevra het nie.

Johan ·

Só boelie van ‘n robot! Genade, wat ‘n blerrie stoute robotjie … !

JohanR ·

Dink nou as daar robotte was wat party ANC’s ‘n paar warm taai klappe kan gee!

Vexed ·

LOL ja nè dit is wat gebeur as mens dink hulle is slim. Hulle skep sommer vinnig vinnig vir hulleself ‘n nuwe baas… kry vir julle.

KatjieDeKat ·

Ja hulle gaan nie ophou voor Skynet n werklikheid is nie.

Hasie ·

Elon Musk het verskeie kere gewaarsku dat A.I. die vermoeë het om self besluite te kan neem wat gevaarlik is vir die mens …
Bewysstuk Nr 1.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.