Video: Tweelinge net waar jy kyk

Skermskoot uit die video

Tien stelle tweelinge is op dieselfde tyd by die neonatale hoësorgeenheid (Nicu) by Cedars-Sinai Geurin-kinderhospitaal in Los Angeles, Kalifornië in die VSA gebore.

Personeel is nie seker of dit ʼn amptelike rekord is nie, maar dit is waarskynlik baie naby aan ʼn rekord, aldus ʼn verklaring deur die hospitaal.

“Ons is baie opgewonde,” het Ashley Richardson, assistent-verpleegbestuurder in die Nicu, gesê. “Ons is gewoond aan tweelinge en meerlinge, maar nie soveel op een slag nie. Hulle hou ons op ons tone!”

Die tweelinge se gewig met geboorte strek van net minder as 2 pond (0,9 kg) tot 6 pond (2,72 kg) en meeste is tweelingseuns.

Dit was Diana en Jordan Edelstein se eerste babas. Hulle was verbaas toe hulle gehoor het hulle verwag ʼn tweeling. “Ek het nog altyd gedroom van seuns en dogters as tweelinge, en met God se genade het dié droom waar geword,” het Diana gesê.

Haar tweeling is vroeg gebore maar hulle groei en sal na verwagting binnekort huis toe keer.

Rabbi Mendel Mintz en sy vrou Hindi sê dit was ʼn “groot skok en ʼn dubbele seën” toe hulle uitvind hulle verwag ʼn tweeling. “Die personeel is wonderlik,” het Mendel gesê. “Dit was ʼn ongelooflike ervaring en dit gaan net al hoe beter word!”

“ʼn Dubbele seën,’ het Malka Naomi Feldman gesê. Sy is self een van ʼn tweeling en was nie verbaas toe sy uitgevind het sy verwag ʼn tweeling nie. Die babas moes egter op 34 weke gebore word toe ʼn ondersoek bevind het een van die tweelinge verkeer in gevaar. Nou tel sy die dae totdat sy en haar man hul tweeling kan huis toe neem sodat die dogtertjies hul tweejarige boetie kan ontmoet.

Samantha en Greg Pearlman meen dit was ʼn welkome verrassing toe daar soveel ander ouers met tweelinge in die Nicu was. Hul tweelingdogters is al ses weke lank in die Nicu. Sy het gesê dit is gerusstellend om met ander ouers, in ʼn soortgelyke situasie, te gesels. “Ons bly in kontak met mekaar. Dit is regtig wonderlik,” het Samantha bygevoeg.

Jordan Edelstein sê die hoeveelheid tweelinge by die hospitaal het hom ook gerus gestel. “Ek was verbaas toe daar twee was, wat nog te sê van 10 stelle tweelinge! Maar dit is wonderlik om kontak te maak met ander ouers en hulle reis te volg. Dit is gerusstellend om te sien soveel ander gesinne ervaar dieselfde ding.”

Bevin Merideth, Nicu-vennoot-direkteur, dink terug aan die dae toe sy ʼn kind was en haar pasgebore tweelingsussies in die Nicu was. Dit is een van die redes hoekom sy ʼn verpleegster geword het.

“Ek het soveel lekker herinneringe as ek na al hierdie tweelinge kyk. Ons sien uit daarna om van die ouers te hoor en foto’s te sien soos wat die tweelinge by die huis vorder. Miskien kan ons volgende jaar hierdie tyd ʼn reünie hou met 20 eenjariges!”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.