Vier sterf toe weermagvliegtuig in Kazakhstan neerstort

An-26 van die Serwiese Lugmag (Foto: Marko Stojkovic – flickr via Wikimedia Commons)

Vier persone is Saterdag dood en twee beseer toe ʼn weermagvliegtuig in Almaty, Kazakhstan, tydens sy landing neergestort het.

“Volgens voorlopige data is vier persone dood en twee persone is na die naaste hospitaal gestuur,” het die ministerie van nooddienste in ʼn verklaring gesê. Die Antonov An-26-vliegtuig was van Nur-Sultan na Almaty op pad. Owerhede het gesê die oorlewendes is in ʼn bedenklike toestand in die hospitaal.

Die Russiese nuusagentskap Interfax het berig die vliegtuig behoort aan Kazakhstan se nasionale sekuriteitskomitee, ʼn opvolger van die Sowjet-era se KGB wat die nasionale grensdiens beheer. Die lughawe het om 1722 plaaslike tyd (1122 GMT) kontak verloor met die vliegtuig.

ʼn AFP-korrespondent het gesien die kajuit is van die romp van die vliegtuig geskei en die stert was onderstebo. Brandweerwaens, polisievoertuie en ambulanse was op die ongelukstoneel.

Almaty-lughawe het in ʼn verklaring gesê “die vliegtuig het aan die einde van die aanloopbaan neergestort” sonder enige verdere verduideliking.

President Kassym-Jomart Tokayev het sy meegevoel met die familie van die slagoffers betuig en die twee oorlewendes spoedige beterskap toegewens. “Op my bevel is ʼn ondersoek reeds van stapel gestuur na die oorsaak van die ongeluk,” het hy op Twitter gesê. “Sulke voorvalle moet nie herhaal word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.