ʼn Jong vrou van Indië kan moontlik die doodstraf opgelê word nadat sy vyf mense tydens ʼn feesviering vergiftig het weens voortdurende kritiek oor haar kookvernuf en donker gelaat.
Hindustan Times berig Pradnya Survase (23) van Khalapur, ongeveer 70 km van Moembaai, het aan die owerhede erken dat sy ʼn poeier wat gebruik word om slange dood te maak in ʼn bakkie dal ingemeng het. Die dal is voorgesit by ʼn ete wat verlede week deur ʼn familielid, Subhas Mane, in Mahad gehou is.
Survase was glo van plan om haar man, skoonma, twee skoonsusters, haar skoonma se suster en dié se man te vergiftig. Vier kinders en ʼn 53-jarige man wat ook die feesvieringe bygewoon het, het egter gesterf.
Volgens Hindustan Times het Survase aan die polisie gesê sedert sy twee jaar gelede getroud is, word sy gereeld deur haar skoonfamilie beledig oor haar donker gelaat en omdat sy nie goed kan kook nie. Sy beweer haar skoonfamilie het haar oor hierdie tydperk verbaal “gemartel” en geviktimiseer.
Survase is geskei van haar eerste man en glo haar egskeiding is te danke aan Ulka Shinde, nog ʼn familielid, wat haar na bewering by haar destydse man swartgesmeer het. Sy glo Shinde het ook probeer om haar tweede huwelik skade te berokken.
Maandag het Mane 120 gaste na Mahad genooi vir ʼn daknatmaak-byeenkoms. Shinde en haar 11-jarige seun, Rishikesh, was onder die gaste wat die feesviering bygewoon het. Kos is vanaf 14:30 tot 23:30 bedien.
Gaste wat later van die kos geëet het, het ure ná hul maaltyd begin kla van naarheid, braking en maagkrampe. Ongeveer 88 mense is na hospitale gehaas. Vier kinders, insluitend Rishikesh, het gesterf. Gopinath Nakure (53) is ook later in die hospitaal dood.
Nadat talle familielede deur die polisie ondervra is, het Survase erken dat sy die gifpoeier in die dal ingemeng het.
Volgens Metro News is Survase aangekla van moord, poging tot moord en sameswering. Die maksimum vonnis vir moord in Indië is die doodstraf.
Wraak beplan, en nou moet sy met die bittere verwyt oor die dood van haar eie seun saamleef. Die Bybel sê jy sal maai wat jy saai. Mens weet nie waardeur sy is om haar daartoe te dryf nie, maar dan eerder skei, of hoe?
Lees mooi, dis Shinde se seun wat dood is. Shinde is die persoon wat haar glo swartgesmeer het by haar skoonfamilies.
Liewe hel. Miskien moes sy net geluister het waaroor almal so kla en miskien dit probeer regstel . Om nou mense uit te moor daaroor. Duidelik was die dame super sensitief oor haar kos.
Genade vrou, was dit nou die moeite werd? Jy kon mos net weggestap het.
Hell has no fury…
Ek wonder of my X nie ook n paar van haar resepte gebruik het nie. Gelukkig het ek n sterk gestel gehad!
Ek vat geen kanse nie. My vrou maak die lekkerste kos in die wêreld. Kon nog nooit ‘n woord skeef sê nie, sien altyd uit na elke ete. Kan nie wag om elke krieseltjie te eet nie.
Hoe se hulle die pad na n man se hart is deur sy maag!!!
Tong in die kies….REGTE ANTWOORD! hahahahaha!
Ek het sopas die skakel vir my skoonfamilie aangestuur… ?