Vyf sterf toe werknemer in bank losbrand

Old National Bank in die middestad van Louisville ná die skietery. (Foto: LEANDRO LOZADA / AFP)

Vyf mense is dood toe ’n werknemer van ’n bank in die Amerikaanse deelstaat Kentucky Maandag op kollegas en klante losgebrand het. Die skieter het die aanval regstreeks vanuit die bank in Louisville op sosiale media vertoon voordat hy deur die polisie doodgeskiet is.

Agt mense is tydens die massaskietery – die soveelste voorval vanjaar in die VSA – gewond van wie twee tans in ’n kritieke toestand verkeer. Dit sluit in ’n polisiebeampte wat kort ná sy aankoms op die toneel in die kop geskiet is.

Die skieter is intussen geïdentifiseer as Connor Sturgeon, ’n werknemer van Old National Bank in die middestad van Louisville.

Jacquelyn Gwinn-Villaroel, die stad se tussentydse polisiehoof, sê polisiebeamptes het Maandag omstreeks 08:40 ’n noodoproep ontvang en was binne drie minute op die toneel.

Luidens mediaberigte het sommige mense in die bank hulself tydens die skietery in die bank se kluis gaan toesluit en hulp vanuit die kluis ontbied.

Die 25-jarige Sturgeon het by hul aankoms skote op die polisiebeamptes afgevuur. Die beamptes het teruggeskiet en Sturgeon is noodlottig gewond.

Volgens Gwinn-Villaroel het Sturgeon die aanval regstreeks op Instagram geplaas.

’n Woordvoerder van Meta, die sosialemediaplatform se moedermaatskappy, het intussen aan AFP gesê hy is “in kontak met wetstoepassers en dat die regstreekse uitsending van die tragiese voorval vinnig verwyder is”.

Die motief vir die aanval is nog nie bevestig nie.

’n Bron na aan die ondersoek het egter aan CNN gesê Sturgeon is kort voor die skietery glo in kennis gestel dat hy sy werk verloor het.

Een van Sturgeon se slagoffers wat tydens die skietery omgekom het, is geïdentifiseer as Tommy Elliot (63) – ’n vriend van die Louisville-burgemeester en die Demokratiese goewerneur van Kentucky.

“Tommy Elliott het my gehelp om my regsloopbaan te bou. Hy het my gehelp om goewerneur te word. Hy het my raad gegee oor hoe om ’n goeie pa te wees,” het goewerneur Andy Beshear op ’n nuuskonferensie gesê.

Die goewerneur was sigbaar ontsteld.

“Hy was ’n ongelooflike vriend.”

Vuurwapengeweld het vanjaar alleen reeds meer as 4 900 lewens in die VSA geëis.

Pres. Joe Biden het opnuut sy frustrasie met dié “sinnelose” moorde uitgespreek.

“Te veel Amerikaners boet met hul lewens weens ’n gebrek aan optrede,” het Biden op Twitter gesê.

“Wanneer sal Republikeine in die kongres optree om ons gemeenskappe te beskerm?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

JohanR ·

Miskien beter as jy SA wil verlaat om maar die VSA te vermy. Elke tweede ou dra ‘n geweer, en elke derde ou drie geweere! As jy daar vinger wys vir die ou in ‘n kar dan skiet hy hom af!

Pietertjie ·

Die meeste misdaad in SA haal nie die nuus nie. Mens moet eerder die werklike misdaad in terme van bevolkingsgetalle vergelyk om te sien hoe sleg dit met ‘n land gaan. VSA is besig om dieselfde pad as RSA te loop, waar terrorisme en hoogverraad as vandalisme afgemaak word.

Laksman ·

Nou is die vraag……..waarom hulle ook nou die pad volg? As ek die antwoord gee sal dit nie geplaas word nie.

Danie ·

Om een of ander rede sukkel sommige mense om nee as ‘n antwoord te aanvaar. Blykbaar sal hulle enige iets doen om van jou nee a ja te maak. Dit kan gebeur dat jy jou werk verloor. Soms is dit wat jy aanpak ‘n sukses. Soms is dit wat jy aanpak ‘n mislukking. Beide is deel van die lewe. JY gaan maar net die verantwoordelikheid vir beide moet aanvaar. Sou Suid-Afrikaners elke keer wanneer hulle afgelê word ook op dieselfde manier optree was daar seker ‘n kwart minder mense hier.

Gerhardus ·

“Te veel Amerikaners boet met hul lewens weens ’n gebrek aan optrede,” het Biden op Twitter gesê.

“Wanneer sal Republikeine in die kongres optree om ons gemeenskappe te beskerm?”

Biden is gou om die skuld op die Republikeine te pak. Vandat die Demokrate in bewind gekom het, het Amerika agteruit gegaan. Geweld het toegeneem, die polisie is “under staffed” en “overworked”. Daar was opgetree teen polisie beamptes, terwyl kriminele méér regte bekom het en met handskoene aan behandel word.

Nóg ‘n poging om te probeer om wetsgehoorsame burgers te ontwapen. Die kriminele het toegang tot vuurwapens. Stop eerder die kriminele, vermeerder die polisie mag, kry beheer terug oor die grense en stop die onwettige invloei van dwelms en vuurwapens. Kortweg, bedank eerder en gee die land terug aan Republikeine.

Koos ·

Die argument hou nie water nie. Hy was nie ‘n onwettige immigrant nie, en die ou was nie op dwelms toe hy begin skiet het nie. Al was Amerika ‘n eiland sonder dwelms sou hierdie ou steeds losgebrand het met ‘n geweer wat hy baie maklik bekom het. Kon hy met ‘n mes of enige ander wapen dieselfde skade doen? Of sou daar dan miskien minder mense dood wees?

Vriendelike Frikkie ·

Nou gaan al die liberale weer skree vir wapen beheer. Niemand gaan skree om mense met geestelike krake te beheer nie.

Miss J ·

Wapens skiet nie vanself nie. Daar is mense sgter dit. Dus is die probleem nie wapen geweld noe, maar geestelike gesondheid , soos ernstige depressie ens. wat aangespreek moet word

H.A. ·

Vuurwapens in VSA is moeilik om te stop- net so moeilik om die anc te stop hier.

Lillian ·

Elke Jan Raap en sy maat kan mos ‘n vuurwapen permit bekom in die VSA, dalk moet hulle dit oorweeg om mense sielkundig te evalueer vóór permitte uitgereik word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.