Wagner-hoof glo onder dié wat in vliegongeluk omkom

In Sint Petersburg het mense blomme en kentekens met die Wagner-kopbeen daarop by ʼn informele gedenkterrein buite die private huursoldategroep se hoofkantoor neergelê. (Foto: AFP)

Die hoof van die Wagner-huursoldategroep, wat in Junie probeer het om Rusland se militêre hoofde te ontsetel, was aan boord van ʼn vliegtuig wat Woensdag neergestort en die lewe van al die insittendes geëis het, het Russiese amptenare gesê.

Yevgeny Prigozhin se kortstondige rebellie is beskou as die grootste uitdaging vir die Russiese president, Wladimir Poetin, se regering sedert hy aan bewind gekom het.

Sedertdien was daar groot onsekerheid oor die lot van die Wagner-groep en die toekoms van sy omstrede leier.

Rusland se departement vir noodsituasies het Woensdag bekend gemaak dat ʼn private vliegtuig – wat tussen Moskou en Sint Petersburg gereis het – neergestort het. Luidens voorlopige inligting het tien mense aan boord gesterf, onder wie die drie bemanningslede.

Rusland se lugvaartagentskap het later gesê die Wagner-leier was ook aan boord.

“Volgens die lugredery was die volgende passasiers aan boord van die Embraer-134 (EMB-135BJ)-vliegtuig: … Prigozhin Yevgeny,” het Rosaviatsia bekend gemaak. Die naam van Dmitry Utkin, ʼn skaduagtige karakter wat Wagner se operasies bestuur en glo in Russiese militêre intelligensie gewerk het, was ook op die lys.

‘n Skermgreep van ‘n video wat op een van Wagner se kanale gedeel is, wys hoe die vliegtuig uit die lug tuimel. (Foto: AFP)

Telegram-kanale met Wagner-bande het beeldmateriaal – wat AFP nie onafhanklik kon bevestig nie – gewys van die wrak van die brandende vliegtuig in ʼn veld.

Donderdag in die vroeë oggendure het Russiese wetstoepassingsamptenare wag gestaan by die ongelukstoneel naby die dorpie Kuzhenkino in die Tver-streek.

In Sint Petersburg het mense blomme en kentekens met die Wagner-kopbeen daarop by ʼn informele gedenkterrein buite die private huursoldategroep se hoofkantoor neergelê.

Geen verrassing

Yevgeny Prigozhin (Foto: Twitter)

Rosaviatsia sê hy het ʼn spesiale kommissie aangestel om die oorsaak van die ongeluk met die vliegtuig wat aan MNT-Aero behoort, te ondersoek.

Rusland se ondersoekkomitee wat ernstige misdaad ondersoek, het ook ʼn ondersoek van stapel gestuur.

Volgens die nooddienste is die liggame van agt mense tot dusver op die ongelukstoneel gevind.

Poetin het in dié tyd ʼn toespraak vir die 80ste herdenking van die Kursk-slag in die Tweede Wêreldoorlog gelewer. Hy het nie na die ongeluk verwys nie, maar bloot “al ons soldate wat dapper en vasberade” in die spesiale weermagoperasie in Oekraïne veg, geloof.

Kiëf en Washington het egter snel gereageer op die aanvanklike berigte oor die voorval.

“Ek weet nie vir ʼn feit wat gebeur het nie, maar ek is nie verras nie,” het die Amerikaanse president, Joe Biden, gesê.

“Daar is nie veel wat in Rusland gebeur waarvoor Poetin nie verantwoordelik is nie. Maar ek weet nie genoeg om die antwoord te ken nie.”

Oekraïense presidensiële aide, Mykhaylo Podolyak, het op sosiale media gesê die vliegongeluk was ʼn “teken van Poetin aan Russiese elites” voor die 2024-verkiesing. “Pas op! Dislojaliteit beteken die dood.”

Donderdag in die vroeë oggendure het Russiese wetstoepassingsamptenare wag gestaan by die ongelukstoneel naby die dorpie Kuzhenkino in die Tver-streek. (Foto: AFP)

Svetlana Tikhanovskaya, uitgeweke leier van die opposisie in Belarus – waar sommige Wagner-soldate ʼn heenkome ná die kort muitery in Rusland gevind het – sê Prigozhin sal nie in haar land gemis word nie.

“Hy was ʼn moordenaar en moet ook so onthou word,” het sy op sosiale media gesê.

Prigozhin was tydens die Russiese inval van Oekraïne veral op die voorgrond. Die offensief is op 24 Februarie verlede jaar van stapel gestuur en tevore het hy meestal in die skadu’s en agter die skerm toutjies getrek.

Hy het die oorname van verskeie Oekraïense dorpe, ook Bakhmut, gelei en was ʼn skerp kritikus van Rusland se omstrede militêre leierskap.

Onsekerheid ná rebellie

Soldate van die Wagner-groep in die strate van Rostov-on-Don kort na die rebellie. (Foto: AFP)

Prigozhin was egter gewikkel in ʼn bitter en maande lange stryd met Rusland se departement van verdediging wat hy daarvan beskuldig het dat hulle Wagner se oorwinnings probeer “steel”.

Spanning het opgebou tot die kort rebellie op 23 en 24 Junie.

Duisende huursoldate het die wapen opgeneem en uit die suide van Rusland in die rigting van Moskou opgeruk met die doel om die land se weermagleiers omver te werp. Die muitery het geëindig met ʼn ooreenkoms ingevolge waarvan Prigozhin saam met sommige van sy manskappe na Belarus sou skuif en waar hulle met die opleiding van voormalige Sowjet-lande se spesiale magte begin het.

Prigozhin se eie lot was deurlopend onduidelik. Dit het gelyk of hy ʼn mate van vryheid geniet en hy het deelgeneem aan ʼn vergadering by die Kremlin waar hy geweier het om beheer van sy huursoldate oor te gee.

Hy het nietemin meestal uit die openbare oog gebly.

Sy Telegram-kanaal, waar hy gewoonlik boodskappe gedeel het, is sedert die einde van Junie onaktief.

Maandag het beeldmateriaal die ronde gedoen waarin Prigozhin, glo in Afrika, onderneem om Afrika “vryer” te maak.

Die huursoldategroep handhaaf ʼn sterk militêre teenwoordigheid op die vasteland, waar hy saam met verskeie lande, waaronder Mali en die Sentraal-Afrikaanse Republiek, werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Piet 6 ·

Ondersoek maar vir Poetin en sy kaders, maar hy sal dit nie laat gebeur nie of nog ń vliegtuig gaan val.

Boatsie ·

Stories van wat die man en sy soldate ook aan onskuldige mense gedoen het, het hul vooruit geloop so die wiel het maar seker gedraai.
Het en mal Poetin kan maar oor dieselfde kam geskeer word.

KB ·

Geen verrassing nie. Dis hoe ʼn diktator te werk gaan…raak ontslae van jou opposisie.

Zollie ·

Hier in SA word dit ook so gedoen daarom is ons hand-om-die-blaas met Putin. Kyk wat gebeur met fluitjieblasers ens.

De Villiers ·

Volgens die BBC is sy vliegtuig afgeskiet deur Russiese lugverdediging.

Stephen ·

Die “skermgreep” is n voel en nie n vliegtuig nie. Putin is n towenaar om sy vyande te laat verdwyn. Agterna staan hy terug en trek sy skouers op.

Stephen ·

As jy Putin se vyand is drink jy nie tee in n openbare plek nie en jy klim nie in n vliegtuig nie.

Joggie ·

Ek is verbaas dit het so lank gevat voordat hy ‘verongeluk’ het…

Sobymykoolkop ·

Los maar gerus die ” regses” uit jou gesprekke. Hulle was nog heelpad reg teen wat hulle al in 1994 voorspel het van wat die land gaan word.

Thom ·

Hulle was nog nooit reg oor enige iets nie ___ die regse doktrines is elke keer die pad na geweld en n remskoen teen vooruitgang.

Natasha ·

Noem my paraniod, maar waar is die bewyse van sy dood? ‘n Naam op manifes beteken niks.

Andries ·

Daai vliegtuig het nie geval nie…. Hy is laat val. Sal maar wag en kyk of 007 die waarheid kan openbaar.

Deon ·

Putin volg sy helde Lenin en Stalin wat miljoene Russe uitgewis het . 174 jaar nadat Lenin kommunisme aanvaar het is Putin ook nog steeds besig om Russiese sprekendes uit te wis . Dit lyk my dit is al manier hoe hulle hul kommunistiese diktatorskap aan die gang kan hou . Geen opposisie word geduld nie .

Bolandse Nooi ·

Mens speel nie met die leeu se kroonjuwele … en kom niks oor nie. Hierdie SKREEU SVR/Putin betrokkenheid.

andre ·

Kom ons hoor wat is Rusland se verslag !Of is dit n geval van jy is skuldig tot jy onskuldig bevind word

Colin ·

Tong in die kies…… Die Russiese weermag was seker verlede week verbaas gewees om te hoor dat Prigozhin se vliegtuig hierdie week gaan neerstort.

Republikein in die Wes Kaap ·

Genl. Surovikin, die voormalige lugruimghoof en vriend van Prigo, is al sedert Julie 2023 missing in action.

Niklaas ·

Die boodskap is vir almal duidelik . Maak vir Vladimer Putin kwaad en met hom as vyand wag net teenspoed op jou en jou lewe is nie R1 werd nie.

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

KGB op sy beste. In USSR is jou lewe zero werd! Daar val mense uit geboue en word dit as selfdood afgemaak en kom mense in ‘ongelukke’ om met ‘geen’ teken van gemene spel nie. Maar ons weet die waarheid is nie wat aan die res van die wêreld voorgehou word nie. Daar word jy maklik net stil gemaak en gaan die magshebbers onaangeraak en ongestoord voort met watter ondenkbare onhebbelikhede en onheilighede ookal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.