Wagner-rebellieleier sal Rusland verlaat ná ooreenkoms

Lede van die Wagner-huursoldategroep maak gereed om te onttrek. (Foto: Roman Romokhov / AFP)

Die leier van die Wagner-huursoldategroep het sy troepe opdrag gegee om terug te staan en hul opmars na Moskou af te gelas, het die Russiese regering gesê nadat dié groep vroeër beloof het om Moskou se militêre leierskap tot ʼn val te bring.

Yevgeny Prigozhin (62), Wagner se leier, sal nou as deel van ʼn “vredesooreenkoms” na Belarus gaan en ook nie meer strafregtelike klagte moet trotseer nie.

Prigozhin is nou al maande lank gewikkel in ʼn bittere magstryd met Russiese weermaghoofde op wie hy die skuld vir sy troepe se dood in Oekraïne pak.

Die vete tussen Prigozhin en Rusland se militêre leierskap het Saterdag ʼn gewelddadige kookpunt bereik toe Wagner-troepe ʼn belangrike leërhoofkwartier in die suide van Rusland gekaap en daarna noordwaarts getrek het om die hoofstad te bedreig.

Die Kremlin het egter kort daarna aangekondig dat Prigozhin Rusland sal verlaat en dat sy lede nie vervolg sal word nie.

Dit was ʼn spanningsvolle dag vol ongekende verwikkelinge, met president Wladimir Poetin wat teen ʼn burgeroorlog gewaarsku het. Moskou het plaaslike inwoners aangesê om uit die strate te bly, terwyl Kiëf, Oekraïne se hoofstad, hom verlustig het in die chaos wat sy vyand verswelg.

Die Kremlin het oornag gesê “maatreëls word ingestel” teen die muitery en Rusland het veiligheid in Moskou verskerp, asook in streke soos Rostov en Lipetsk.

Poetin het die Wagner-muitery ʼn “dodelike bedreiging” vir Rusland genoem en ʼn beroep op die land se burgers gedoen om te verenig. Hy het die optrede as “verraad” bestempel en “onvermydelike straf” beloof.

Die gety het egter skielik gedraai toe Prigozhin onverwags aangekondig het dat sy troepe “omdraai en na hul veldkampe terugkeer” om bloedvergieting in die Russiese hoofstad te vermy.

Prigozhin sê hy “verstaan ​​die belangrikheid van die oomblik” en wil nie “Russiese bloed stort” nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

KatjieDeKat ·

Wat is jammer hieroor? Dis die opsie met die minste bloedvergieting.

Republikein in die Wes Kaap ·

Storm in ‘n teekoppie. Die Oath Keepers se aanval op die Amerikaanse Kapitool was meer dramaties. Wagner se aksies is maar deel van gewone Russiese maskarovka om vyande te mislei.

Treurwilger ·

Die VSA/NAVO ‘teleurstelling’ is voelbaar, na die naweek se dramatiese nuusdekking.
Berigte oor chaos in Rusland ietwat oordrewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.