Warmste Junie vir Verenigde Koninkryk

Mense sit op stoele op droë gras in Hyde Park in sentraal-Londen (8 Junie 2023) (Foto: Henry Nicholls/AFP)

Die Verenigde Koninkryk het die warmste Junie ooit beleef – gemiddelde temperatuur en gemiddelde maksimumtemperatuur, het die Britse meteorologiese kantoor Maandag gesê.

“Die gemiddelde temperatuur van 15,8 grade Celsius vir Junie 2023 in die VK is die hoogste in ʼn reeks sedert 1884,” het die Met Office in ʼn verklaring gesê.

Die gemiddelde temperatuur in Junie 2023 was 0,9 grade hoër as die vorige gesamentlike rekord van 14,9 grade in Junie 1940 en 1976, aldus voorlopige syfers.

“Dit is amptelik die warmste Junie op rekord vir die VK,” het Mark McCarthy, woordvoerder van die Met Office, gesê. Op die warmste dag in Junie het die kwik tot by 32,2 grade Celsius gestyg.

“Wat opvallend is, is die volgehoue hitte vir ʼn groot gedeelte van die maand, met temperatuur wat gestyg het tot middel 20’s en selfs die lae 30’s gehaal het.”

Die vier lande in die Verenigde Koninkryk, Engeland, Skotland, Wallis en Noord-Ierland, het ook hul onderskeie “warmste Junie op rekord” aangeteken.

Waterbeperkings is ingestel in dele van die suidooste van Engeland te midde van ʼn rekordaanvraag na drinkwater.

Skotland het ook ʼn waarskuwing oor waterskaarste uitgereik as gevolg van kommer oor die watervlak in sy riviere en mere.

Engeland het verlede jaar die vierde warmste somer vir die Verenigde Koninkryk aangeteken – skole moes sluit en treine is gekanselleer. Die kwik het vir die eerste keer tot meer as 40 grade gestyg.

“Saam met natuurlike veranderlikhede het die verwarming van die Aarde se atmosfeer weens mensgemaakte klimaatsverandering ook die moontlikheid verhoog om rekordhoë temperature te haal,” sê Paul Davies van die Met Office.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

annie ·

Warmste Junie ooit… Regtig? Dit is ‘n totale onwetenskaplike opmerking. Ooit is ‘n laaaaaang tyd.

Chris ·

1884 was dit skynbaar ook so warm – sonder die spreekwoordelike “CO2 Hype”. Dit kan sekerlik toegeskryf word aan ‘n natuurlike siklus. Onthou net een ding, om Koolstof te belas in die vorm van belasting of boetes is om die teenwoordigheid van lewe te belas.

JvR ·

Toe het hul geworry oor die gat in die ozone laag. En al die blikkies deodrant weggegooi

JvR ·

Dit was ook die warmste Junie wat ek nog ooit in Transvaal / Gauteng in meer as 50 jaar beleef het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.