Weinstein in hospitaal opgeneem

Harvey Weinstein verlaat die hof, terwyl ‘n jurie voortgaan met beraadslagings op 21 Februarie 2020. New York se appèlhof het op 25 April 2024 dié Hollywood-vervaardiger se skuldigbevinding tersyde gestel en ‘n nuwe verhoor gelas. (Foto: Johannes Eisele/AFP)

Harvey Weinstein is Saterdag met sy terugkeer na New York in die VSA in die hospitaal opgeneem. Dit volg kort op die nuus verlede week dat dié voormalige Hollywood-rolprentvervaardiger se skuldigbevinding aan seksmisdade deur dieselfde stad se appèlhof tersyde gestel is.

“Die New Yorkse departement van korreksies het vasgestel dat Weinstein onmiddellike mediese aandag benodig. ’n Magdom toetse word tans op hom uitgevoer, en hy word onder waarneming gehou,” het sy prokureur Arthur L. Aidala in ’n verklaring aan AFP bevestig.

Die polisie het aan die Amerikaanse media gesê Weinstein is na New York se Bellevue-hospitaal geneem.

In ʼn beslissing van vier teen drie regters het dié appèlhof Donderdag bevind die verhoorregter het in 2020 ʼn kritieke fout begaan deurdat aanklaers toegelaat is om getuienis in te dien van vroue wat aanvoer dat Weinstein hulle aangerand het, selfs al het hul bewerings nie deel van die aanklagte teen hom uitgemaak nie.

Die appèlhof het bevind dit het tot ʼn onregverdige verhoor gelei, en hulle het ʼn nuwe verhoor vir Weinstein gelas.

Weinstein (72) sal nou ʼn nuwe verhoor in New York kry vir die saak waarin hy tot 23 jaar vir twee seksmisdade gevonnis is. Hy moet steeds ʼn afsonderlike 16 jaar lange verkragtingsvonnis uitdien wat in Kalifornië teen hom opgelê is.

Talle Hollywood-sterre, wat bekendes soos Rosanna Arquette, Ashley Judd en Mira Sorvino insluit, het hul skok en misnoeë uitgespreek ná die beslissing om Weinstein se 2020-skuldigbevinding om te keer.

Meer as 80 vroue het sedert 2017 dié Oscar-bekroonde vervaardiger beskuldig van verskeie dade van seksuele aanranding en teistering. Die onthullings het die #MeToo-beweging van stapel gestuur, wat die weg gebaan het vir vroue om seksuele geweld in die werkplek te onthul en teen te veg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bolandse Nooi ·

Wel, hy doen maar net wat sekere hooggeplaastes, VIP’s en LP’s in SA doen … die oomblik wat sy wandade aan die groot klok gehang word, is hy skielik BAAAAAAAAAAIE siek ……..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.