Wêreld se oudste witrenoster is dood

“Oupa Toby” in die Parco Natura Viva-dieretuin waar hy verlede week dood is. (Foto: Facebook / Parco Natura Viva)

Die wêreld se oudste witrenoster is in die ouderdom van 54 dood.

Toby, of “Nonno [Oupa] Toby” soos hy bekend was, het sy laaste asem op 6 Oktober in die Parco Natura Viva-dieretuin in Italië uitgeblaas.

Elisa Livia Pennacchioni, die dieretuin se woordvoerder, sê Toby het op pad na sy nagskuiling inmekaargesak. Sy hart het sowat 30 minute later gaan staan.

Toby se dood kom nege jaar na dié van sy maat, Sugar, in 2012.

Die 39-jarige Parco is nou die enigste oorblywende witrenoster in die Parco Natura Viva-dieretuin.

“Toby sal gebalsem en by die MUSE‑wetenskapsmuseum in Trento uitgestal word. Blanco, ’n wit leeu wat vyf jaar gelede by dié dieretuin dood is, word by dieselfde museum vertoon.”

Pennacchioni sê witrenosters leef gewoonlik tot 40 jaar in aanhouding en tot 30 jaar in die natuur.

Toby was ʼn suidelike witrenoster – slegs een van vyf renosterspesies wat nie as bedreig beskou word nie. Volgens die World Wide Fund for Nature is daar na raming sowat 18 000 suidelike witrenosters ter wêreld.

Die omgewingsgroep sê daar is egter net twee voorbeelde van die noordelike witrenostersubspesie oor wat in Kenia woon. Dié renosters word deurentyd deur gewapende wagte dopgehou en beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.