Wimbledon kan nee sê vir Medvedev, Azarenka

(Foto: Bob Martin/AELTC via AP)

Volgens Britse mediaberigte kan die organiseerders van Wimbledon weier dat spelers van Rusland en Belarus by dié gesogte grasbaan-toernooi afslaan.

The Telegraph berig dat gevrees word dat Wladimir Poetin ’n aansienhupstoot kan kry indien ’n speler uit een van dié  twee lande met die titel sou wegstap.

Internasionale tennisbeheerliggame (die ATP en WTA) het vroeër aangedui dat Russiese en Belarussiese spelers mag voortgaan om op die wêreldverhoog deel te neem, mits hulle onder ’n neutrale vlag speel.

Maar weens Wimbledon se onafhanklike toernooistatus kan daar ’n verbod op spelers uit die twee lande geïmplementeer word sonder die risiko van enige wetlike nagevolge.

Organiseerders is tans in verbinding met die Britse regering en daar sal glo binnekort ’n amptelike verklaring in dié verband uitgereik word.

Indien die spelers wel verbied word om te speel, kan Daniil Medvedev, Andrey Rublev en Victoria Azarenka almal die toernooi misloop.

Nigel Huddleston, die Britse minister van sport, het vroeër nie doekies omgedraai nie en het gesê dat ’n speler moet kan bewys dat hy of sy nie ’n Poetin-ondersteuner is nie.

“Ons wil ’n skriftelike versekering kry dat hulle nie geld van Poetin of hul regerings ontvang nie, terwyl hulle ook nie opmerkings sal maak wat Poetin, Rusland of Belarus ondersteun nie,” het Huddleston gesê.

Medvedev het egter onlangs aangedui dat hy vir ’n maand of twee op die krukkelys sal wees omdat hy ’n breukoperasie moet ondergaan.

Die 26-jarige ster het ook al vantevore vir vrede gepleit nadat Rusland Oekraïne ingeval het.

Medvedev het ná die eindstryd van die Australiese Ope ’n storie oor sy kinderjare vertel en hoe hy van tennisglorie gedroom het.

“Vandag wil ek egter namens elke kind in die wêreld praat. Hulle het soveel drome en nuwe dinge om te ervaar; daarom vra ek vir vrede in die wêreld en vrede tussen lande.

“Kinders het ongelooflike vertroue en hulle is so onskuldig – hulle glo in mense, in liefde, vryheid en regverdigheid. Kom ons staan saam en wys vir hulle dat dit inderdaad so is, want kinders moet nooit ophou droom nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jacques ·

“Russe” die nuwe “Afrikaner”…..
Wie is hierdie mense, wat soveel mag het om ‘n hele bevolking te demonifiseer, maar blind bly vir hulle eie Reputasie van Geweld…………?

jacques ·

Medvedev kan maar elk geval by die huis bly en sy toys daar gaan uitgooi. Hy moet eerder gaan sokker speel met daai humeur van hom, skandelik om iemand op professionele vlak te sien speel en so aan te gaan op die baan…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.