Wit Zimbabwe-boere hoop steeds op vergoeding

Argieffoto Foto: led.co.za

Argieffoto Foto: led.co.za

Talle bejaarde wit Zimbabwiese boere wat sedert 2000 van hul grond ontneem is, het Dinsdag in Harare vergader oor vergoeding.

Patrick Chinamasa, minister van finansies, het aan die groep gesê die Zimbabwiese regering wil weer die vergoedingskwessie hersien wat wit boere betref.

Dit kom voor ʼn belangrike vergadering vroeg in Mei van die Internasionale Monetêre Fonds.

Ongeveer 4 000 wit boere is sedert die begin van die 2000’s van hul grond ontneem, en meeste van die begunstigdes, waaronder Chinamasa, was staatsdiensamptenare, lede van die veiligheidsmagte en die regbank.

Pres. Robert Mugabe het dit nog altyd duidelik gestel dat hy “oorlog gemaak het” teen die Rhodesiërs om die stem vir die “swart meerderheid” te bekom “om die grond terug te kry”. ʼn Onafhanklike Grondwet, wat in 1979 in Londen onderteken is, het gewaarborg dat landbougrond, wat aan witmense behoort, vir 10 jaar slegs aangeskaf mag word volgens die gewillige koper en gewillige verkoper-basis.

Die Verenigde Koninkryk het ongeveer helfte van die koste van 4 miljoen hektaar aangekoop vir hervestiging, terwyl die Zimbabwiese regering vir die ander helfte betaal het.

Zimbabwe het in 1992 die Wet op Grondverkryging goedgekeur, waarvolgens ondergebruikte grond, of grond wat deur uitlanders besit word, afgeneem sal word (sonder die gewillige verkoper-klousule), maar dat die regering sal betaal vir vaste bates op witbeheerde grond wat afgeneem is vir hervestiging.

Zimbabwe se ekonomie het egter verlangsaam en grondhervestiging het in 1988 tot ʼn stilstand gekom tot grondgrype ná 2000.

“Ek dink die vergadering sal mense op datum bring,” het Hendrik Olivier, uitvoerende hoof van die kommersiële boere-unie, gesê. “Ons sê nie vir enigiemand dat vergoeding op pad is nie, want dit is nie.”

Indien die geld egter gevind kan word, is die papierwerk vir vergoeding reeds afgehandel. Ongeveer 7 miljoen hektaar is sedert 2000 by wit boere afgeneem. Die 3 900 buitengewone eise vir plase wat afgeneem is, is vasgestel deur die boere se aantekeninge en geprosesseer deur professionele waardeerders.

Die eise beloop US$8,6 miljard vir vaste bates soos huise en damme of “verbeterings” op plase en US$2,8 miljard vir die waarde van die grond.

Die waardes, wat deur die Harare-maatskappy Valcon gedoen is, word deur buitestanders as “konserwatief” beskou.

Senior beamptes van Zanu-PF het in die middel van 2015 die Valcon-lêers ondersoek.

Zimbabwe het lankal gesê hy kan nie bekostig om die wit boere te betaal vir die bates op hul plase nie, en die Verenigde Koninkryk het gesê hy gaan nie vir die grond betaal nie.

Maar die tye verander en die gemoedere bedaar. Die Wêreldbank het intussen gesê hy sal Zimbabwe wil help om weer sy landbou-ekonomie te herstel.

Alhoewel Zimbabwe nou soveel tabak kweek as voor die grondgrype, word die oes as nadelig vir Zimbabwe se ekologie beskou, aangesien ʼn groot hoeveelheid inheemse bome afgekap word vir vuur om die tabak te behandel.

Meeste ander uitvoergewasse wat deur die wit boere gekweek is, soos koffie, neute en vrugte, het gevrek.

Alle witbeheerde plase is in 2005 genasionaliseer. Geen wit persoon kan landbougrond in Zimbabwe koop nie.

Die vergoedingskwessie het die regering onlangs oorgehaal om te eis dat begunstigdes van voormalige witbeheerde plase huur moet betaal aan die staat vir die grond wat hulle gebruik en vir die huise op die plase waar hulle bly.

Douglas Mombeshora, minister van grondsake, het gesê ʼn deel van die huusinkomste sal gebruik word om die wit boere mee te vergoed.

“Hulle sal nooit betaal nie,” het ʼn Harare-bankier egter Dinsdag gesê. “Meeste kan dit nie bekostig nie. En dit is moeilik om te glo dat die geld aan die boere oorbetaal sal word. Dit sal generasies lank duur om genoeg geld te kry om die boere se eise te betaal, en talle is reeds oud.”

Chinamasa het gesê daar is nou 99 jaar-huurkontrakte vir nuwe boere wat grond beset wat vroeër aan wit boere behoort het. Die banke sal die geld slegs aan die nuwe boere leen met grond as sekuriteit.

Wit boere sal na verwagting oor twee weke vergader met die ministerie van grondsake, die Wêreldbank en die Verenigde Nasies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Wat-ek-lees ·

Ook ek het al gehoor van spoke maar nog nooit ooit een gesien.

Rupert Ashford ·

Eintlik gaan dit maar oor ‘n wereldbank lening. Die spul wil dit he en sal die regte dinge se totdat hulle die lening bekom, maar daarna sal niks gebeur nie.

Pietertjie ·

Daar gaan dadels van kom, soos dit nog altyd in swart Afrika gaan. Bob-hulle gebruik maar net hierdie foefie om nóg geld te bekom van dieselfde instansies wat deur hulle sleggesê word. En die ergste is dat die instansies elke keer vir die foefies val.

Loon ·

Hier moet gekyk word na die prentjie agter die prentjie. Waarom soek hulle nou so ewe skielik geld?
Eerstens is geld mag, die mag om mense te beheer, veral honger mense. Ons is deur n droogte en daar moet mielies ingevoer word om die nasies te voed, Zim het niks so hulle moet ook invoer wat normaalweg van SA af kom. Daar is een van die dae weer verkiesing in Zim en vir wie gaan hulle stem as daar nie kos is nie?
Zimbabwe het niks, sy landbou is daarmee heen en nou soek hulle geld wat hulle ook nie sal kan terugbetaal nie!
Ek sien net moeilikheid kom!

Gerd Lourens ·

Wêreldbank/IMF – hierdie geld gaan ook in ‘n bodemlose swart put verdwyn!!! Ek het so paar jaar terug deur Zim getoer en dit was tragies om die vernielde plase te sien en die wit boere se verhale aan te hoor.

GES ·

Loon jou waarneming is in die kol. Ons kan maar ons sitplekgordels vasmaak. Hier kom groot probleme.

amelia ·

Al oplossing wat daar is gee terug die plase aan die wittes dan kan daar dalk oor jaar of twee weer kos wees Hier presies die selfde plase gekry en als gevrek

Snip ·

Dit wys jou maar net weer dat hulle absoluut niks aan die gang kan hou nie. Vat wat hulle wil, breek af wat hulle wil, maar dink nie aan die nagevolge nie en nou wil hulle tjank, en geld hê. Dit het beter gegaan toe die witboere nog geboer het, nou suffer almal. Grrrrrr.!!!

Marous ·

Julle sal gek wees om te val daarvoor…. sodra die eerste oeste staan begin alles weer van voor af! Wat van die 51% bemagtiging?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.