Witdolfyn vrek kort ná reddingsoperasie

Veeartse sien Woensdagoggend na die witdolfyn om. (Foto: Benjamin LEGENDRE / AFP)

Die witdolfyn wat net vanoggend uit die Seinerivier in Frankryk gehaal is, het intussen gevrek. Daar is besluit om die soogdier van kant te maak om hom verdere lyding te spaar.

“Ondanks ʼn ongekende reddingsoperasie moet ons met hartseer aankondig dat die witdolfyn dood is,” het die owerhede in die Normandiese streek Calvados ʼn kort ruk gelede getwiet.

Die witdolfyn is vanoggend op pad na die kusdorpie Ouistreham, waar hy vir die volgende paar dae waargeneem sou word, van kant gemaak.

Dít nadat reddingswerkers deurnag gespook het om die soogdier vanaf die rivier na ʼn soutwaterhok oor te plaas in ʼn laaste poging om sy lewe te red. Die witdolfyn het reeds voor die reddingspoging ophou eet.

“Die veeartse het tydens die reis opgemerk dat sy gesondheid versleg het, veral sy asemhaling,” sê Florence Olivet-Courtois, ʼn veearts vir die plaaslike nooddienste.

“Die dier het nie genoeg suurstof gekry nie en dit was duidelik dat hy ly. Ons het dus besluit dat daar geen sin daarin is om hom vry te laat nie en het tot genadedood oorgegaan.”

Veeartse sien Woensdagoggend na die witdolfyn om. (Foto: Benjamin LEGENDRE / AFP) 

“Die oordrag was ʼn waagstuk, maar wel noodsaaklik om ʼn andersins gedoemde dier ʼn kans te gee,” het die niewinsgewende organisasie Sea Shepherd op Twitter bygevoeg. Die organisasie het gedurende die reddingsoperasie hand bygesit.

“Nadat hy agteruitgegaan het, het die veeartse die besluit geneem om hom van kant te maak. Ons is verpletter deur hierdie tragiese uitkoms wat ons besef het baie waarskynlik was.”

Dié soogdier se lot het die harte van mense oor die hele wêreld aangegryp sedert hy verlede week vir die eerste keer in die Seinerivier, ver van sy gewone Arktiese waters, opgemerk is.

Maroela Media het vroeër vandag berig talle duikers en reddingswerkers het laas nag byna ses uur lank gespook om die 800 kg-witdolfyn met ʼn net en ʼn hyskraan uit die Seine te lig. Die dier is ná verskeie pogings vanoggend omstreeks 04:00 eindelik uit die rivier gelig en in ʼn bak onder die onmiddellike versorging van veeartse geplaas.

Die vier meter lange witdolfyn is verlede Dinsdag vir die eerste keer in die Seinerivier, wat deur Parys na die Engelse Kanaal vloei, sowat 130 km binnelands van die kanaal by Saint-Pierre-la-Garenne in Normandië opgemerk.

Die naaste witdolfyn-bevolking is tans langs die Svalbard-argipel gesetel, noord van Noorweë – sowat 3 000 km van die Seine af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.