Withuis sê Osama bin Laden se seun beslís dood

‘n Vlag wat deur verskeie Al-Kaïda-faksies gebruik word.

Hamza bin Laden, seun van Osama bin Laden en eens ʼn moontlike opvolgleier van die Al-Kaïda-terroristenetwerk, is in ʼn Amerikaanse teen-terreuroperasie in die Afganistan-Pakistan-streek dood, het die Amerikaanse president Donald Trump Saterdag gesê – ʼn aankondiging meer as ʼn maand nadat amptenare ook gesê het hy is dood.

Osama bin Laden se seun was “verantwoordelik vir die beplanning en hantering van verskeie terreurgroepe”, het Trump in ʼn verklaring gesê wat die Withuis uitgereik het.

Volgens Trump is die jonger Bin Laden se dood ʼn terugslag vir Al-Kaïda en simbolies, gegewe die verbintenis met sy oorlede pa, wat in 2011 in ʼn klopjag op sy Pakistanse skuiling deur Amerikaanse magte doodgemaak is.

Hamza se dood kan beduidende gevolge vir Al-Kaïda inhou. Hy het eenheid bewerkstellig, was charismaties en het boonop uit terreur-bloubloed gekom. Hy was die afgelope paar jaar die groep se openbare stem en aangesig in boodskappe waarin wêreldwyd vir aanvalle gevra is. Tog is daar nie veel bekend oor dié jongste seun van die 11 September-meesterbrein nie: nie eens sy formele rol in Al-Kaïda, of sy ouderdom – wat glo rondom 30 is – is bekend nie.

Trump het geen verdere besonderhede verskaf oor die operasie waarin die jong Bin Laden dood is nie en is boonop onduidelik oor waar en hoe hy dood is. Geen opnames met Bin Laden is die afgelope paar maande vrygestel nie en Al-Kaïda het ook nie ʼn formele verklaring oor sy dood uitgereik nie, selfs al is dit tipies vir die groep om dit te doen as een van sy leiers sterf.

Ayman al-Zawahiri, ʼn medestigter van Al-Kaïda, bly die organisasie se leier. Waar hý hom bevind, is ʼn raaisel.

Terwyl die Withuis Saterdag eers Hamza bin Laden se dood bevestig het, sê sommige Amerikaanse amptenare al maande lank dat dit so is. Hulle voer aan hy is deur Amerikaanse magte doodgemaak. In Julie het NBC boonop berig dat hy intelligensie ontvang het wat bevestig Hamza is dood.

Terreurkenners het vantevore al gesê Hamza bin Laden was ʼn aanloklike figuur vir ʼn jonger geslag Islamitiese militante, terwyl Al-Kaïda meeding met die terreurgroep Islamitiese Staat vir sigbaarheid en rekrute.

Dokumente wat tydens die klopjag op Osama bin Laden versamel is, het bevele ingesluit oor hoe daar na sy seun omgesien moet word, en het planne bevat om hom gereed te maak vir senior militante leierskap.

Terwyl Osama bin Laden gehou het van groot en ingewikkelde terreuraanvalle, soos die 11 September-aanval, het sy seun vinnige, spontane aanvalle op Amerikaners, Europeërs, Jode en pro-Westerse Moslems verkies met enige wapens wat in die hande gekry kon word.

Hoewel Trump Hamza bin Laden se dood as ʼn oorwinning bestempel het, is daar nog geen einde aan die 18 jaar lange konflik in Afganistan – waar die Taliban Al-Kaïda veilig hou – nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Riëtte ·

Pakistan is n land wat groepe soos Al-kaïda ondersteun en beskerm. Waarom boikot ons hulle nie, en hou bv op om teen hulle krieket te speel.

HPV ·

Riëtte, vra dit al lankal, maar mens moet seker die agtergrond van ons regering (regime) in ag neem.

Koos de Meyer. ·

Ons land is verkoop vir sport. Dit het mos ‘n afgod geword.

Manie ·

Baie bly die ou het gegroet. Nou het mugabe n maatjie by die duiwel

Careltjie ·

Weet julle hoeveel Pakistanners is in SA? Baie meer as wat mense sal besef. Gaan net Ladybrand toe. Dit is maar ‘n tippie van ‘n ysberg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.