Woede oor ‘barbaarse’ aanval op kinderhospitaal

‘n Smeulende motorwrak lê voor ‘n kinderhospitaal in Marioepol in Oekraïne wat onder ‘n Russiese aanval deurgeloop het. (Skermgreep: Oekraïnse polisie/AFP)

Internasionale leiers en Oekraïne het Rusland van ʼn “barbaarse” aanval op ʼn kinderhospitaal in die beleërde stad Marioepol beskuldig, terwyl burgerlikes twee weke ná Moskou se inval in die land steeds die meeste deurloop.

Wolodimir Zelenski, die Oekraïense president, sê 35 000 burgerlikes het Woensdag uit stede gevlug wat deur die Russe aangeval is, maar daar was weinig verligting vir Marioepol waar die burgemeester gesê het dat meer as 1 200 burgerlikes in die 12 dag lange beleg dood is.

Zelenski het beeldmateriaal gedeel van die enorme verwoesting by die hospitaal. Dit is onlangs opgeknap en Zelenski het die aanval as ʼn “oorlogsmisdaad” bestempel.

Volgens ʼn plaaslike amptenaar is minstens 17 mense in die aanval beseer, hoewel geen sterftes onmiddellik bevestig is nie. Zelenski sê die aanval deur Russiese magte het kinders onder die puin gelaat.

Rusland se departement van buitelandse sake het nie die aanval ontken nie, maar het Oekraïense “nasionalistiese bataljons” daarvan beskuldig dat hulle die hospitaal gebruik om vanuit te skiet nadat personeel en pasiënte die gebou verlaat het.

Beeldmateriaal wat reddingswerkers gedeel het, wys ʼn toneel van absolute verwoesting met gewondes wat die gebou verlaat, sommige op draagbare, verby uitgebrande motorwrakke en ʼn enorme krater langs die gebou.

In die gebou het puin, gebreekte glas en versplinterde hout die gange, kantore en sale besaai, terwyl matrasse van die beddens geslinger is.

Die Withuis en die Britse eerste minister het die aanval teen burgerlikes ten sterkste veroordeel.

ʼn Woordvoerder van die Verenigde Nasies het gesê geen gesondheidsinstelling “mag ooit ʼn teiken wees nie”.

Die aanval het plaasgevind op die vooraand van die jongste ronde hoëvlakgesprekke tussen die twee lande.

Die Russiese minister van buitelandse sake, Sergei Lavrov, het in Turkye aangekom vir ʼn vergadering wat Donderdag met sy Oekraïense eweknie, Dmytro Kuleba, plaasvind. Kuleba het in ʼn Facebook-plasing gewaarsku dat hy “beperkte” verwagtinge van die besprekings koester.

Die strydende lande het tot dusver op ʼn laer vlak in Belarus vergader, hoofsaaklik oor humanitêre aangeleenthede. Geen Russiese ministers was egter by dié samesprekings betrokke nie.

Die besprekings het wel tot die opening van verskeie humanitêre stroke gelei wat burgerlikes kon gebruik om uit stede weg te kom. Verskeie van die ontsnappingspogings het egter misluk nadat aanvalle op die stroke gedoen is.

Woensdag kon minstens 35 000 burgerlikes wel die stede Sumy, Enerhodar en gebiede rondom Kiëf verlaat. Zelenski sê hy hoop die besprekings kan vandag voortduur, met drie nuwe roetes wat uit Marioepol, Volnovakha in die suidooste van die land, en Izium in die ooste lei.

Vorige pogings om burgerlikes toe te laat om Marioepol te verlaat het misluk en noodlenigingsgroepe waarsku teen ʼn katastrofiese situasie in die stad waar basiese dienste tot stilstand gekom het.

Russiese magte kom ook al hoe nader aan Kiëf en gevegte in die gebied het die afgelope paar dae toegeneem, terwyl Oekraïense magte probeer om Russiese tenks te stuit.

“Hulle [die Russe] skiet om mense te dwing om tuis te bly, steel wat hulle kan om voorraad te kry en beweeg dan tussen die inwoners sodat die Oekraïense magte hulle nie bombardeer nie,” het ʼn inwoner van die gebied gesê.

Die Oekraïense stafhoof sê Russiese magte gaan voort met hul pogings om Kiëf te omsingel, terwyl aanvalle op verskeie ander stede voortduur.

Kernkragvrese, biologiese wapens

Minstens 2,2 miljoen mense het nou reeds oor Oekraïense grense gevlug in wat die VN bestempel as die grootste groeiende vlugtelingkrisis sedert die Tweede Wêreldoorlog.

Die konflik het vrese laat toeneem oor ʼn kernkragvoorval in ʼn land met groot kernaanlegte – en ʼn land waar die Tsjernobil-ramp plaasgevind het.

Die VN se atoomwaghond sê hy twyfel of daar enige veiligheidsgevare is by Tsjernobil – die plek waar die wêreld se ergste kernkragramp in 1986 plaasgevind het – al het die aanleg glad nie meer krag nie.

Die VN waarsku egter dat hy geen nuwe inligting van Tsjernobil of Zaporizhzhia, Europa se grootste kernkragaanleg wat nou ook onder Russiese beheer is, ontvang nie.

Die VSA het bewerings verwerp dat hy betrokke is by biowapennavorsing in Oekraïne en het gewaarsku dat Rusland dalk voorberei om chemiese of biologiese wapens in die oorlog te gebruik.

Die VSA is ʼn groot ondersteuner van Oekraïne en het stappe gedoen om sanksies teen Rusland in te stel. Die land stuur ook wapens en ander hulpmiddels na Oekraïne, maar het ʼn geen vlieg-sone en ʼn plan om vegvliegtuie via ʼn Amerikaanse lugmagbasis na Kiëf te stuur, verwerp.

Kommer oor olie

Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het ʼn noodlenigingspakket van $1,4 miljard (sowat R21 miljard) aan Kiëf vir belangrike finansiële steun goedgekeur.

Westerse bondgenote probeer intussen steeds om Moskou met ongekende sanksies in ʼn hoek te druk. Die sanksies sluit in ʼn Amerikaanse verbod op olie-invoere, waarvan die opbrengs gebruik word om die oorlog teen Oekraïne te finansier.

Die Britse minister van buitelandse sake, Liz Truss, het Woensdag ʼn beroep op die G7 gedoen om Russiese olie-invoere te verbied. Sy sê die wêreld se top-ekonomieë moet meer doen om Moskou te straf vir sy inval in Oekraïne.

Politieke leiers is egter versigtig vir die uitwerking van só ʼn stap en die Franse minister van ekonomie, Bruno Le Maire, waarsku dat die huidige styging in brandstofpryse ʼn soortgelyke uitwerking as die olieskok van 1973 kan hê.

Die Europese Unie het wel ingestem om sanksies teen nog oligarge in te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Madz ·

Vanoggend oppad werk toe sing Bette Midler oor die radio:
“From a distance
You look like my friend
Even though we are at war
From a distance
I just cannot comprehend
What all this fighting’s for
…..God is WATCHING us…”

Martin ·

‘n Proxy oorlog maak ‘n bespotting van ons waardes en enige gruweldade gepleeg deur die proxies word as “aanvaarbaar” gesien. ‘n Proxy oorlog het nie etiek nie. Proxy oorloë is natuurlik niks nuuts nie en die betrokke partye is nie direk betrekke nie en hoef nie te worstel met morele bekommernisse wat uniek is aan proxy oorloë nie omdat ‘n proxy oorlog aantreklik lyk en is om rede dit goedkoop is en bowendien, wanneer proxies in gewapende konflik betrokke raak, maak die werklike spelers agter die oorlog nie hul hande vuil nie maar hulle kyk die hele oorlog vanaf die kantlyn in die veiligheid en gemak van die voorste ry sitplekke. Die regte spelers hoef nie bekommerd te wees oor oortredings van die wet van gewapende konflik, enige kollaterale skade of ander menseregtevergrype nie omdat hul hande “skoon” is. Die regte spelers het nie morele bekommernisse nie, hulle stel bloot die oorlog op en maak beleidsaanbevelings soos dit hulle goed klink…!

JL ·

En die VSA en ander lande hou pragtige persverklarings en “we strongly condemn” alles en Oekraïne bly “collateral damage”

Tiaan ·

Sou graag wou weet wat is Rusland se reaksie, hulle het mos gesê dat slegs militêre instansies geteiken word.

Tiaan ·

RT (russiese media) berig die volgende;

“The hospital in question has been for days under the control of a Ukrainian paramilitary group and Moscow presented evidence of this to the UN Security Council several days ago, Lavrov said.”

Die volgende aanhaling deur Lavrov;

“The Azov Battalion and other radicals kicked out all the expectant mothers, the nurses and other staff members. It was the base of the Azov ultra-radicals,”

Jacques ·

Natuurlik het Rusland ‘n kinder-hospitaal gebombardeer, want Poetin wil graag die Russiese beeld verwoes………..

Moenie desperate regerings, se desperate pogings onderskat nie.

ONTPS ·

So jy dink die Oekraïne het self die hospitaal gebombardeer, om “die Russiese beeld te verwoes”?

Jacques ·

Dis oorlog liewe mens….

So terloops, ter illustrasie: het die Britte nie ook tydens die Anglo-Boere Oorlog in die pers die Britse publiek meegedeel, dat die rede waarom die Boere kindertjies so doodgaan in die konsentrasiekampe, is as gevolg van due feit…. ” dat die Boere ouers nie eers na hulle eie kinders kan kyk nie”?

Die Engelse spreekwoord…. “everything is fair in love and war” behoort mens baie skepties te maak oor berigte in die media.

Luister ·

Presies wat die Russe nou doen. Hulle beweer mos Oekraine kan nie hulself regeer nie.

Delia ·

Stem 100% saam. Hoe word n hospitaal so verwoes en geen sterfgevalle. Media dekking word dikwels gemanipuleer

VaalDonkie ·

Dink jy rerig Rusland sou iets so dom soos dit aanvang? Veral noudat Zelinksy aangedui het hy wil onderhandel? Nee wat, ek van nie vir daai een nie. Putin is nie ‘n engeltjie nie, maar hy is VER van stupid.

Luister ·

Hulle onderhandel eintlik nou al lank. Zelinsky het nie nou ewe skielik aangedui hy wil onderhandel nie. Waar kom jy daaraan?

Luister ·

Dink jy nou rêrig Poetin gee ‘n flenter om.? Om een of ander rede dink jy Poetin gee om maar Zelensky nie. Watter rede sal dit nou wees?
As Poetin omgegee het, wat soek sy magte in ‘n ander land?

Faraway ·

Poetin dreig met kern . . .
Almal skree vrede . . . en skielik gaan ons oorval word

minnie muis ·

putin is verby omdraai punt, as hy nou ophou word hy gevonnis vir oorlog misdade teen mensdom…

Kokerboom ·

Onverskoonbaar. Nou kan mens net dink die standaard van SAW waarvan comradeleiers in Rusland opgelei is

Johan ·

Korreksie “in die Sowjetunie” nie Rusland nie…daar is n groot verskil, wat meeste mense skynbaar nie verstaan nie.

Pietertjie ·

Gaan dit nou dieselfde chemiese wapens wees wat hulle in DARPA laboratoriums in Oekraïne gekry het?

Robert ·

Die bewind van Ukraine is nie engeltjies nie, hulle word deur bose magte gedryf om ‘n kernoorlog te ontketen. Ongelukkig ly die gewone mense vir die besluite van bose mense.

Luister ·

Ja, net soos die Boere wat ander Boere doodgemaak het sodat die Engelse sleg lyk.

Pieter J ·

Ons weet almal dat orals waar die Russe betrokke raak soos in Sirië is dit ń gemors en bestaan daar nie iets soos me seregte nie. Orals in die wêreld steun hulle ook die muishonde van die wêreld. Ek dink egter nie die Russiese bevolking steun hierdie optrede nie.

Marthinus W ·

Gee die duiwel wat hom/haar toekom. Daar is bewys dat Amerika 30 biolabs in Oekaraine bevonds en bedryf. Victoria Nuland, adjunk minister van buitelandse sake bevestig n paar dae gelede aan n senaatskomitee dat hulle wel biologiese laboratoria in Oekraine het. Maar dan doen sy n geniale ding: sy waarsku dat Rusland dalk nou met biologiese oorlogvoering kan kom. In plaas daarvan dat Amerika nou by die VN aangekla gaan word, word Rusland die vark in die verhaal gemaak. Jy kannie wen teen sulke mense nie, veral indien hulle die media – en dus die narratief – beheer. AL wat mens kan doen, is om te bid dat ons n regverdige God het, en dat geregtigheid sal oorwin.

Treurwilger ·

Marthinus,
Ek het Glen Greenwald se ‘detail’-stuk hieroor gelees en is sprakeloos.
Wat ‘n verraderlike addersnes het wêreldpolitiek nie geraak nie.
En die feit dat alles wat nie ‘inpas’ nie afgemaak word as leuens, help natuurlik glad nie.

Ettienne ·

The Mahmudiyah rape and killings were war crimes involving the gang-rape and murder of 14-year-old Iraqi child Abeer Qassim Hamza al-Janabi and the murder of her family by United States Army soldiers on March 12, 2006. It occurred in the family’s house to the southwest of Yusufiyah, a village to the west of the town of Al-Mahmudiyah, Iraq. Other members of al-Janabi’s family murdered by Americans included her 34-year-old mother Fakhriyah Taha Muhasen, 45-year-old father Qassim Hamza Raheem, and 6-year-old sister Hadeel Qassim Hamza Al-Janabi.[1] The two remaining survivors of the family, 9-year-old brother Ahmed and 11-year-old brother Mohammed, were at school during the massacre and orphaned by the event.

Sal ek aangaan?

In die skrif word ons nie gewaarsku teen wolwe nie, maar teen wolwe in skaapsklere. Putin se agenda is redelik obvious, is Biden s’n?

annie ·

Nee, die waarheid is dat die VSA en Oekraïene saam bio-wapens ontwikkel op Rusland se grens. Hoekom? Is dit ‘n gunsie vir Poetin sodat hy net die deksels hoef te lig van krioelende gedrogte van Pandora om almal dood te maak. Ook sy eie volk? Dink tog. Zelensky is redelik onnosel. Als vir geld. En as die virusse ontsnap is die VSA lekker ver van die skade en skuld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.