Yvonne Chaka Chaka reageer op berigte oor deportasie

Yvonne Chaka Chaka (Foto: Skermgreep uit die video)

Die Suid-Afrikaanse musieklegende Yvonne Chaka Chaka het reageer op berigte dat sy uit Uganda gedeporteer is, waar sy tydens ʼn Oujaarsaandkonsert sou optree.

Die Ugandese polisie het Dinsdagmiddag ʼn verklaring op sy amptelike Twitter-blad vrygestel dat die 54-jarige sangeres gedeporteer is weens ʼn verkeerde visum.

Yvonne het egter daarna in ʼn plasing op haar eie Twitter-blad reageer en gesê sy sal nie by die geleentheid optree nie, weens verwarring oor reëlings. “Ek het self die besluit geneem om nie op te tree nie, omdat daar te veel goed was wat ek nie verstaan het nie en wat ook nie verduidelik kon word nie. As iemand dit aan my verduidelik het, dan sou ek begrip gehad het,” het sy gesê.

Sy het bevestig dat sy steeds in die land is. “Ek is nie in hegtenis geneem nie, ek is nie gedeporteer nie, ek is nie in aanhouding nie. Daar is geen probleem nie.”

Sy het bygevoeg haar man en mense was baie bekommerd, maar sy het bevestig dat alles goed gaan met haar.

Yvonne het later ook ʼn foto van haar vliegtuigkaartjie gedeel wat wys dat sy met besigheidsklas reis. “Sou hulle vir my ʼn besigheidsklaskaartjie gekoop het as ek gedeporteer was? Nee, hulle sou my net op die vliegtuig gesit het. So nou weet julle,” het sy gesê.

Sy het ook op die Ugandese polisie se plasing reageer: “Ek weet nie of ek moet lag of huil nie. Al wat ek vra is dat mense asseblief moet ophou met haatspraak en om vals nuus te versprei. Waarheen is die wêreld op pad?”

Die sangeres het onderneem om in ʼn stadium na Uganda terug te keer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.