Beeld berig dat Phillemon Philanathi Buthelezi Vrydag getuig het dat die spoed waarteen hulle gery het nie ʼn gevaarlike spoed was nie. Buthelezi het getuig in die saak teen ao. Jannie Odendaal en konst. Abel Twala wat tereg staan op aanklagte van intimidasie en die rig van ’n vuurwapen. Twala word ook van aanranding aangekla. Odendaal en Twala het in die spervuur gekom nadat hulle die voertuig waarin Madikizela-Mandela op 30 Desember 2010 gery het, van die M1-Noord afgetrek het omdat die bestuurder na bewering roekeloos en teen ʼn hoë spoed deur die verkeer gevleg het.
Carel Taute, Odendaal en Twala se regsverteenwoordiger, het Buthelezi se oorspronklike verklaring in die hof voorgelees waarin hy erken het dat hy “baie vinnig” gery het. Volgens Beeld het Buthelezi egter getuig dat hy nie vinnig gery het nie en dat Odendaal hom beledig het. Volgens Odendaal se verklaring wat kort na die voorval afgelê is, het Madikizela-Mandela uit die motor geklim en gesê: “Who the f*ck do you think you are? Who do you think you are?” Odendaal het haar toe glo gevra om terug in die motor te klim. Die aanklagte teen Odendaal en Twala is reeds twee keer teruggetrek maar weer aanhangig gemaak. Madikizela-Mandela se Audi A8 was op pad na Pretoria en die bestuurder het glo teen 160km/h gery.
SAPA