WP is Cravenweek-kampioene

Die Westelike Provinsie is die welverdiende 2013 Cravenweek-kampioene nadat hulle die Leeus oortuigend met 45-29 in die eindstryd in Polokwane geklop het.

Die seuns in die blou en wit hoepels het met hul puik ondersteunende spel, opwindende hardlooprugby en les bes, Grant Hermanus se bykans foutlose skopskoen, die Gautengers druipstert teruggestuur huis toe. Die Leeus het ’n noue ontkoming Donderdag gehad toe hulle die Vrystaat in die doodsnikke van die wedstryd met ‘n strafdoel getroef het. Vandag kon daar nie twyfel wees oor wie die beste span is nie.

Hierdie titel en vertoning wys net weer watter opwindende talent in die Wes-Kaap geleë is. Rikus Bothma van die Paarl Gimnasium is ook die aangewese kaptein van die SA skolespan – wat direk na afloop van die eindstryd aangekondig is – en hierdie span sluit nie minder nie as sewe WP-spelers in.

Die eerste helfte was ’n bra eensydige affêre met die WP wat feitlik al die balbesit en gebiedsvoordeel oorheers het en die Leeus wat gelukkig was om nie verder as 23-0 teen halftyd agter te wees nie. Hermanus het twee strafskoppe sekuur deur die vertikale pale gestuur voordat die WP se reuse-stut van 120kg, Thomas du Toit, sy span se eerste drie gedruk het. Die WP se skrumskakel, Herschelle Jantjies, het byna oomblik daarna gedruk toe sy span ’n indrukwekkende aanval vanuit hul eie halfgebied geloods het. Toe die Leeus se slot, Rayno Herbst, laat in die eerste helfte met ’n geelkaart vir vuilspel koelkas toe gestuur is, het Hermanus dit vyf uit vyf gemaak.

Die Leeus het met hernieude vuur die tweede helfte afgeskop en hul heelagter, Erwin Harris, het in die hoekie gaan afrond ná ’n oorslaanaangee. Hy het sommer self die telling 23-7 gemaak. Die WP het kort daarna ’n identiese drie gedruk toe die agtsteman, Jacques Vermeulen, in die hoekie oorgeduik het. Hermanus het met sy sesde poging pale toe geslaag om sy span se voorsprong na 30-7 op te stoot. Die Leeus het egter gewys hulle het nog brul in hulle oor toe hul agtsteman, Johan Esterhuisen, onder die pale afgerond het danksy een van St. Stithians se Innocent Radebe se hoeveelste behendige breekslae. Harris het hierdie drie verdoel en op die koop toe ’n strafdoel vanaf die halflyn oorgeklits om ’n Leeus-terugvegpoging te laat realiseer.

Toe Daniel Naudé gaan druk nadat Daniel du Plessis, senter van die WP en seun van die oud-Bok Michael du Plessis, vorentoe geskop het, het die bult effens te steil vir die Leeus begin word. Die Leeus het nietemin twee puik drieë daarna gaan druk via Radebe en S’busiso Nkosi om die telling 38-29 te maak, maar Du Plessis het die wen verseël met die laaste drie van die wedstryd. Hermanus het met ’n merkwaardige 8 uit 9 skoppogings pale geslaag en dit bewys net onomwonde dat ’n goeie skopper van kardinale belang is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.