Zuma-spioenasiekassette onder die loep

Pres. Jacob Zuma

Die vertroulikheid van die kassette en dokumente wat daartoe gelei het dat kriminele klagtes teen pres. Jacob Zuma laat vaar is, is Woensdag in die Pretoriase hooggeregshof onder die loep geneem.

Sean Rosenberg SC, vir die Demokratiese Alliansie, het aan die hof gesê die Nasionale Vervolgingsgesag (NPA) is in minagting van die hof omdat hulle nie aan die hoogste hof van appèl se beslissing, om die dokumente en kassette beskikbaar te stel, voldoen het nie.

Die DA wil volle toegang tot die sogenaamde Zuma-spioenasiekassette van afgeluisterde telefoongesprekke bekom. Die party is oortuig dat dit lig sal werp waarom klagtes van bedrog en korrupsie teen Zuma laat vaar is.

Die opnames vorm die basis van ʼn besluit in April 2009 wat deur die destydse waarnemende hoof van die NPA, Mokotedi Mpshe, geneem is om die klagtes te laat vaar.

Die hoogste hof van appèl het in Maart 2012 beslis dat die NPA die dokumente binne 14 dae moet oorhandig. Dit het nie gebeur nie.

Rosenberg sê dit sal onvanpas wees om die dokumente op die grondslag van vertroulikheid te weerhou.

Die NPA het die inligting van die Nasionale Intelligensieagentskap ontvang.

Rosenberg sê Zuma het nie ʼn beëdigde verklaring ingedien om te verduidelik waarom die transkripsie van die kassette vertroulik is nie.

Paul Kennedy SC vir die NPA, het gesê dit sou “onbehoorlik” gewees het vir die nasionale direkteur van openbare vervolging (NDPP) om die dokumente te oorhandig indien Zuma enige beswaar hierteen sou hê en dat die NDPP gevolglik nie van minagting van die hof aangekla kan word nie. “Indien daar ʼn beswaar is, moet die geleentheid daar wees om dié beswaar aan te teken. Die NDPP kan nie kant kies in die saak nie,” het Kennedy gesê.

Hy sê die NPA het nie ʼn eensydige besluit geneem of dit deel moet wees van die hofdokumente nie. “Ons het nie ʼn beswaar om die dokumente te oorhandig nie,” het hy gesê. “Maar ons het ʼn plig van vertroulikheid aan mnr. Zuma se regspan, omdat dit die basis is waarop die verteenwoordiging gemaak is.”

Kemp J Kemp vir Zuma, het gesê die NPA is aanvanklik op ʼn vertroulike basis deur Zuma in kennis gestel van die kassette. As ʼn hipotese het hy gesê ʼn foto van twee mense, wat nie saam gesien moet word nie, kan in ʼn soortgelyke vertroulike manier aan die NPA oorhandig word. Hy het toe die vraag gestel of die NPA sy eie ondersoek sou doen en, indien hy bepaal dat die foto outentiek is, die NPA sou kon sê: “Jy het my van hierdie bewysstuk voorsien en ek het dit op my eie verifieer. So dit val nie meer onder die vertroulikheidsklousule nie.”

Kemp sê die beslissing deur die hoogste hof van appèl het nie die vertroulike materiaal ingesluit wat aan die NPA oorhandig is nie. “Dit is voor die hand liggend dat telefoongesprekke deel was van die verteenwoordiging,” het hy gesê.

Regter Rami Mathopo het uitspraak voorbehou. “Die kwessies is nie so ingewikkeld nie. Dit is effens onduidelik.”

Lees ook:
DA in die hof oor Zuma-spioenasiekassette

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.