Eindelik vry uit dwelmhel: ‘Ek moes óf ophou, óf ek sou myself doodmaak’

Maruschka by ‘n vriend se matriekafskeid (Foto: Verksaf)

Maruschka Joubert (26) se lewe het handomkeer verander toe haar dwelmverslawing daartoe lei dat sy haar rug breek en die gebruik van haar bene heeltemal verloor. Maar selfs om vir ewig aan ʼn rolstoel gekluister te wees, was nie genoeg om haar te oortuig om dwelmgebruik finaal te los nie.

Vandag lyk die donkerkop ma van ʼn driejarige se lewe egter baie anders. In haar huis in Nigel, Gauteng, is alles silwerskoon en netjies. “Ek is bietjie OCD,” sê sy skamerig toe sy sien hoe ek haar huis bewonder.

Ja, Joubert woon in haar eie huis, bestuur haar eie motor en woerts gemaklik in haar rolstoel rond terwyl sy vir ons tee maak. Haar huis is goed ingerig vir ʼn rolstoel, en vir haar is hierdie die norm – haar lewe is gemaklik en sy verkies dié lewe enige dag bo haar “vorige lewe”.

Eerste stap na die afgrond

Joubert was ʼn doodgewone 14-jarige skoolmeisie van Nigel toe sy ʼn verhouding met ʼn matriekseun aangeknoop het. Dit was ook in dié tyd wat sy vir die eerste keer met dwelms begin eksperimenteer het omdat die paar gereeld saam dagga gerook het. “My ma het nie van die dagga geweet nie, maar sy was baie teen die verhouding,” sê sy.

In gr. 9 het sy na ʼn skool in Heidelberg geskuif en dáár sê sy het haar moeilikheid eintlik begin.

“Ek het vriendin ontmoet wat in matriek was, ek was 15. Sy het een aand vir my gevra of ek saam met haar Ecstasy wil gebruik. Ek het nuwe vriende gemaak in die nuwe skool en ek het ingepas by hulle, so ek het ingestem al het ek nie geweet wat dit is nie.”

Maruschka voor die ongeluk (Foto: Verskaf)

By die vriendin se huis het sy vir die eerste keer Ecstasy gebruik.

Baie dwelmgevulde aande het daarna gevolg. Joubert vertel oor die aand van haar suster, Elbe, se troue, toe sy en haar vriendin weer saam dwelms gebruik het. Dié keer het hulle ʼn dwelm genaamd Candy flip gebruik, wat ʼn mengsel tussen Ecstasy en LSD is. Sy kan omtrent niks onthou van die troue nie, maar onthou wel dat sy en haar vriendin op ʼn rugbyveld opgeëindig het en gekyk het hoe “die bome vir ons dans”.

Van daar het Joubert in ʼn warrelwind van dwelms verval. Sy het verhoudings begin met mans wat reeds uit die skool was, wat hul eie karre gehad, reeds hul eie geld gemaak en self ook dwelms gebruik het. Sy erken dat haar verslawing in haar gr. 11‑ en gr. 12‑jare die ergste was. Sy het steeds Ecstacy gebruik, maar dit was CAT en kristalmetamfetamien wat haar veral ingetrek het. In ʼn stadium het Joubert slegs 45 kg geweeg omdat die dwelms haar eetlus so gedemp het.

“Ek het selfs voor my eksamens CAT gesnuif. Ek sou dit saam met my skool toe neem, en dan vir die onderwyser vra om badkamer toe te gaan, sodat ek nog kan gaan snuif, en dan verder eksamen gaan skryf,” sê sy.

Volgens Joubert het sy nie in daardie stadium gedink sy is verslaaf aan dwelms nie, sy het gedink sy gebruik dit bloot sosiaal. Dit is eers toe sy haar ma se geld uit haar handsak begin steel om vir die dwelms te betaal, wat sy besef het sy het ʼn probleem.

Maar tog het sy nie iets daaraan gedoen nie.

Sy erken die grootste rede hoekom sy keer op keer terug na dwelms gegaan het, is omdat sy in die verkeerde vriendekring was.

Maruschka in matriek (Foto: Verskaf)

ʼn Terugblik

Joubert is die jongste van vier kinders en meen sy het ʼn baie rustige kinderlewe gehad, maar daar is tog ʼn oomblik wat sy kan onthou wat kon aanleiding gee vir haar latere dwelmverslawing.

Sy het as gr. 7-dogter by ʼn maat se huis gaan oorslaap toe sy daar deur ʼn volwasse man gemolesteer is. Sy het die geheim vir lank binne haarself gehou omdat sy bang was sy maak haar ma seer as sy haar vertel.

“Ek dink dit is waar ek my kop so bietjie verloor het. Ek het myself ook op my arms gesny, so ek dink dit was maar alles maniere waarop ek dit probeer hanteer het,” sê sy.

Joubert het eers in gr. 9 vir haar ma in ʼn brief vertel wat met haar gebeur het, maar toe was dit reeds te laat en het sy reeds in die dwelmmaalkolk beland.

Die aand toe alles verander

Op ʼn noodlottige aand toe Joubert in haar matriekjaar was, het sy saam met vriende van ʼn klub in Heidelberg gery om dwelms te gaan koop in Springs. “Die man wat bestuur het, was baie dronk en hy het begin huil. Ek het gesê ons moet vir hom gaan CAT koop omdat dit hom sal laat beter voel. Ons was almal dronk in die kar,” sê sy.

Sy kan nie veel van die ongeluk onthou nie, maar onthou dit het daardie aand gereën. Die laaste wat sy kan onthou, is dat hulle 200 km/h gery het. Sy het ʼn slag gehoor en toe in ʼn mielieland op die grond wakker geword.

Joubert het op die agtersitplek van die kar gesit en is tydens die ongeluk uit die kar geslinger. Die man wat bestuur het, het van die ongelukstoneel gevlug en sy het hom nooit weer gesien nie.

“Ek kon nie opstaan nie en ek kon nie my bene voel nie. Ek onthou nog hoe ek gate in die grond gegrou het soos wat ek probeer opstaan het,” sê sy.

Mense wat Joubert se ma ken, het op die ongelukstoneel afgekom en haar dadelik gebel. Sy was daarna vir sowat vier maande lank in hospitale.

Vir mense wat nie aan dwelms verslaaf is nie, sal só ʼn traumatiese ervaring ʼn duidelike omdraaipunt wees, maar Joubert was meer afhanklik van die dwelms as wat sy besef het. Sy het reeds in die rehabilitasiesentrum waarin sy was om te leer hoe om met haar rolstoel oor die weg te kom, weer begin kristalmetamfetamien en CAT gebruik.

Ná haar ongeluk het sy nog twee jaar lank in haar rolstoel dwelms misbruik. “Ek was baie depressief en ek kon nie alles hanteer nie. Ek was kwaad vir die wêreld en het almal blameer.”

Maruschka vandag (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Omdraaipunt

Joubert sê sy het ophou dwelms gebruik omdat dit die lewe in ʼn rolstoel vir haar nog moeiliker gemaak het. “Kristalmetamfetamien vorm kristalle wat in jou rugwerwels gaan lê. My lyf wou nie meer nie. Ek het erge spasmas gekry, myself natgemaak en in my broek gemors,” vertel sy.

“Die nadele was te veel. Ek moes besluit: Dis óf ophou, óf ek gaan myself doodmaak.”

Joubert was 18 jaar oud toe sy by die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad teen Alkohol- en Dwelmmisbruik (Sanca) op Heidelberg gaan aanklop het. Daar het haar pad na herstel ná sewe jaar in die dwelmgreep begin.

Gelukkig vir haar het al die vriende wat voorheen saam met haar dwelms gebruik het, ná die ongeluk stuk-stuk begin wegbly. Saam met haar ma en Lezanne Scholly, wat ʼn sielkundige by Sanca is, het hulle die lang pad begin stap. Vandag is sy al ses jaar lank dwelmvry.

“Ek kry steeds baie keer drange om dwelms te gebruik, veral as ek die dag baie emosioneel is. ʼn Spesifieke reuk of liedjie kan dit ook aanwakker,” sê sy. Maar wanneer dié gevoelens kom, bel Joubert vinnig haar ma, wat deesdae haar grootste ondersteuner is.

Voorheen sou Joubert en haar ma weke gaan sonder om met mekaar te praat, maar nóú sukkel hulle om een dag sonder ʼn telefoonoproep te gaan.

“My ma sê altyd sy gee nie om of sy die hele aand lank saam met my moet kom sit nie, ons moet dit net deur maak – en ons doen, ons maak dit elke keer. Ek kan haar enige tyd bel as ek haar nodig het. As dit nie vir my familie was nie, sou ek dit nie baie ver gemaak het nie.”

ʼn Nuwe begin

Joubert se lewe het vir ʼn tweede keer handomkeer verander toe sy in 2016 geboorte geskenk het aan haar seuntjie, Heinu. Sy het nie geweet sy kan swanger raak nie, en het eers op 16 weke daarvan uitgevind.

“Dit was baie emosioneel vir my, maar dit was fantasties. Aan die begin was ek baie bang, ek het heeltyd gedink: ‘Hoe gaan ek vir hom sorg?’ en ‘gaan ek self vir hom kan sorg?’”

Vir die eerste jaar van Heinu se lewe het Joubert ʼn helper gehad, maar daarna het sy agterkom dat sy eintlik goed self regkom.

“Om ʼn kind groot te maak is baie harde werk, maar dit is ʼn seëning op verskeie maniere. Meeste van my tyd gaan na hom toe. As ek nie swanger geword het nie, dink ek ek sou dalk op dwelms teruggeval het. Maar omdat ek vir Heinu het, gaan ek nie meer uit nie. Ek sal eerder in die aande lekker rustig in my bed saam met my seuntjie wees, dis is beter as enige kuier,” sê sy.

Joubert onderhou tans vir haar en Heinu met geld wat maandeliks deur die Padongelukkefonds aan haar uitbetaal word. Sy stuur gereeld haar CV uit, maar het nog geen werksaanbod gekry nie. Sy wil ook nie te ver van haar huis af werk nie, omdat sy nie so baie tyd op die pad wil bestee nie.

Maruschka is vandag gesond en gelukkig (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

‘Vul jou beker met die regte goed’

Joubert vertel met ʼn glimlag dat sy altyd ʼn dansinstrukteur of ʼn sjef wou word, maar dat daardie drome nie meer vir haar ʼn realiteit is nie. Nóú wil sy haar aandag daarop fokus om ander jongmense te help wat in dieselfde posisie is as wat sy was. Sy wil graag teen die einde van die jaar begin om opleiding in maatskaplike werk te kry.

“Ek wil nie hê ander mense moet so lank wag soos ek voordat hulle hulp kry nie,” sê sy. “My mikpunt is om kinders wat uit moeilike omstandighede kom, te help sodat hulle nie hul beker vul met die verkeerde goed nie, maar dat hulle eerder gehelp word om hul beker met die regte goed, soos Die Woord en die Here te vul.”

Joubert sê dit vir haar baie belangrik om jongmense aan te moedig om te praat oor dinge wat hulle pla, omdat sy spyt is dat sy so lank gevat het voordat sy haar ma vertel het van die molestering.

“Omdat ek nie daaroor gepraat het nie, het ek my beker met die verkeerde goed volgemaak, omdat dit vir my ʼn manier was om daarmee vrede te maak. Mens moet nie vasgevang raak in daardie situasie nie,” sê sy nou met oortuiging.

Haar geloof het ook ’n groot rol gespeel in haar herstelpad en Joubert hou styf vas daaraan. “Hy sal jou nie daarheen bring as Hy jou nie daardeur kan help nie. Alles gebeur vir ʼn doel,” sê sy met ʼn glimlag.

“Die lewe gaan aan, en jy kan nie gaan stilsit nie. Daar is baie mense wat erger af is as ek, wat hul lewens verloor het. Ek is dalk in ʼn rolstoel, maar ek kan darem nog myself help en goed regkom. Ons moet net opstaan en aangaan, more skyn die son weer. Dit kan seker net beter gaan van hier af.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Patat777 ·

Wow Dank die Here vir jou verlossing… dankie vir die Wysheid en Insig wat jy in jou situasie gekry het deur die Heilige Gees wat in jou woon. Om van “hard core ” soos meth, cat ens af te kom is eenvoudig fantasties. Daar is nog n vriendin van my wat in Nigel woon wat ook vry is nadat sy feitlik alles verloor het inkluis haar kinders… Baie trots op jou en sterkte hou uit en doen wat jy dink jy moet doen dit is die regte rigting!!!

Magda ·

So lekke om slegte stories wat goed eie dig te lees. Inspirerend. My seun v 33 is tans i. Elim kliniek. Ek hey n hart v wat julle deur maak, was al n paar keer by sy obttrekkings v d goed, sy goeie mooi lewe wat hy gelei hetas hy skoon is. En dan weer gesien d toestand as hy weer gebruik het. Danki dat julle jul harte deel.

Doemsie ·

Sterkte liewe mensie, met Gebed en Geloof sal jy oorwin. Jy is reeds ‘n wenner

Zettie ·

Ons het almal een of ander soort verslawing, iets waarna ons hunker en nie van kan ontslae raak nie. Baie geluk met wat jy sover vermag het. Jy is ‘n ware inspirasie en ‘n pragtige mens. Mag daar nog baie meer geluk en voorspoed op jou pad vorentoe kom.

Dankbaar ·

Ja, Zettie, ek stem 100% met jou saam, want God het die mens geskape uitsluitlik om ‘n verhouding met Hom te he, daarom “soek” mense na allerhande dinge (wat die vyand gebruik om hulle verslaaf te maak daaraan) behalwe na Hom. Dis NET Jesus Christus wat daai holte/’craving’ kan en gaan vul. Dankie, Here, vir onbeskryflike GROOT genade, geduld en liefde wat U vir ons mensies het!

Maria ·

Gee jou drukkie en trots op jou ! Jy pratig ons almal maak foute in die lewe en dankie jy nog n kans waar die ander nie gehad nie. Ek verstaan jou …..verstaan… met trane daar so baie kinders wat selfde pad loop wat dink daar geen hoop vir hulle nie asook dink ma wat sal omgee nie. Dankie vir jou storie hou aan getuig asb! Mag Here jou seen !

Conria ·

Wat ‘n wonderlike getuienis! Sterkte vir jou pad vorentoe.

Nettie ·

@Zettie – “ons almal het die een of ander verslawing …”

Nee, ek weet darem nie. Ek gebruik nie alkohol nie, rook nie, is nie op dwelms nie, het nie seks nie, kyk nie oormatig TV of drink nie te veel koffie, tee, koeldrank nie ……… Dan is my enigste ‘verslawing’ seker maar die spul medikasie wat ek moet gebruik vir my hoë bloeddruk, diabetes, cholesterol, epilepsie en/of my begeerte om ‘n beter salaris en werk te bekom?

Valerie ·

Nettie, mense veralgemeen so sodat hulle beter oor hulself kan voel. Daar is miljoene mense wat nie ‘n “verslawing” het nie. As ‘n mens skuldig voel oor iets, soek ‘n mens gou iemand in dieselfde bootjie.

Karen ·

Ek stem weer met Zettie saam, sê dit ook al jare. Of jy te veel eet, van ander skinder of altyd nuuskierig is oor ander se sake, of jy rook, drink of jou hele lewe om jou kinders draai (hulle verafgod)… wat ook al, elkeen het n swakheid waarteen hulle moet veg. Ek glo elke sonde of verkeerde ding het n houvas op ieder en elk van ons, een ding het n groter houvas op een as op n ander, of dit klein of groot is in ons eie oë (nie in God se oë), maar veg moet ons teen dit veg of dit oorheers ons.

ChrisE ·

Dit is werklik ‘n aangrypende verhaal van iemand wat gelukkig kan wees dat sy die kloue en houvas van die dwelmvesrslawing kon oorwin. Ek het ook al baie keer die geleentheid gehad om dwelms te kon gebruik. Ek het ook groepsdruk ervaar en al die verwante probleme wat jong mense moet deurgaan. Ek beskou dit as volg, jy het ‘n keuse om te maak. Baie eenvoudig ja of nee. Jy het die gesonde verstand gekry om die besluit te maak. Dit is soos rook. Ek het ook gerook. Ek het die onnosel besluit gemaak om dit te doen. Niemand het die sigaret in my mond gedruk en gewurg om my te dwing rook nie. Dieselfde met drank. Ek het myself ook al te pletter gesuip. Niemand maar soos in niemand het my gedwing nie. Ek het die besluit gemaak. Dank die Vader ek het ophou rook. Ek het ‘n wilsbesluit gemaak om op te hou. Ek het net opgehou. Ek drink so nou en dan ‘n glas wyn of twee of ‘n bier. Moenie met die storie kom waar jy almal en alles om jou blameer vir wat jy vandag is nie. Die lewe is keuses. Neem verantwoordelikheid daarvan.

Ag nee ·

@ChrisE

Hiermee wil ek graag net antwoord op jou terugvoer: Nie nodig om kras te wees nie, sy het soveel reeds verloor en het absuluut verantwoordelikheid gevat vir die foute wat sy gemaak het weens die groot getuienis in die nuus. Dit vat ‘n dapper mens om so ‘n groot getuienis te lewer nie net om ander te help wat dalk in ander omstandighedes is (nog erger, wat geen geestelike bou ken nie) ook te kan help. Asb wees tot net bietjie sag vir iemand wat haar lewe omgedraai het. Ja alles gaan nie dadelik herstel nie, maar ons God het haar uitgekies om weer terug in die wereld te kom om ander te help wat ook verdwaald is. Jy is dalk ‘n tawwer karakter as die dame. Leer asb om ‘n mens soos dit net beter te hanteer.

Andre ·

Ek stem saam. Ek ken baie meisies wat erg verkrag is wat nog nooit dwelms gebruik het nie

Liamari ·

En alles het begin by ‘n oorslaap by ‘n maatjie. Ek sien rondom my hoe mammas al te gewillig is om oorslaap plekke te reel sodat hulle bietjie ‘n aandjie “af” kan he. My kind sal nooit oorslaap nie. Ongelukkig as jy daardie besluit neem, moet jy vir alle mammas nee se, al lyk hul na goeie mense. Want jy weet nooit of die boetie of sy maatjie of ‘n oom of ‘n oupa of ‘n loseerder dalk ook perongeluk daai aand in die huis slaap nie…dit gebeur net te veel om daai kans te waag.

Oorslaap 'n nee vandag ·

ek stem ‘n 100% saam met jou. ek het ‘n dogtertjie en ek sal haar nie laat oorslaap nie. dis gevaarlik vandag en ek kan nie insien dat mense nog sulke kanse waag nie.

Hanri ·

Ag asb. Dit het nie begin met een aand se oorslaap nie. Ek ken ander mense wat ook as kinders molesteer was en wat nog nooit dwelms gebruik het nie. Ek self het dieselfde besluite as hierdie girl gemaak sonder dat ek gemolesteer was. So moet dit op niks anders blameer as haar eie keuses nie

Sies ·

Ag tog …Ek was as kind jare lank gemolesteer. Dit gebeur helder oordag by n braai, n teedrink enige plek waar so siek persoon jou 30sekondes alleen kan kry. Ekt as kind tonne kere by my 2 vriendinne se huise oorgeslaap en was daar baie veiliger as tussen sogenoemde nabye familie.

Madeleine ·

Jys n baie groot inspirasie! Wel gedaan
Hou aan mense vertel vd gevare! En Chris; niemand is te goed of sterk of ryk of slim om in hierdie demoon se kloue te beland nie. Dit kan met enige iemand gebeur ; selfs dokters.

Tienie ·

Ja.

Dit bly maar jou eie keuse wat jy met jou eie lewe wil doen/maak….

Punt

Amanda ·

Jy en jou moeder verdien n medalje.
Gaan verkondig jou storie by skole. Ek is seker daar sit baie maats wat met dieselfde probleme worstel. Sterkte mooie meisie.

ChrisE ·

Ag nee, elke mens het ‘n mening. Dit is ongelukkig deesdae die probleem. Daar is te min kras in ons lewens. Ons versuiker, versag en verdoesel die vraagstukke/probleme. Die oorsaak van elke probleem, moet na gekyk word. Die mens is die enigste skepsel wat sy oortredings/vergrype en foute wil af water en verdoesel. Jy vat my aan oordat ek te kras is. Jy ken my glad nie en vorm ‘n opinie. Waardeur is jy in jou lewe? Is jy as 17/18 kind ‘n geweer in die hand gestop om ‘n vyand te gaan veg waarvan jy maar bitter min geweet het. Het jy al op straat geslaap? Was jy al opgesluit oor jy op die verkeerde plek op die verkeerde tyd was. Dit was keuses wat ek gemaak het. Ek blameer niemand behalwe myself nie. Gelukkig het ek vrede met ons Skepper. Hy het my vergewe vir wat ek al in my lewe aangejaag het. Gelukkig vergewe Hy en verwyt Hy nie. Die lewe is hard. Die kleedrepitisie loop nie altyd soos jy dit wil hê nie. Ek is nogtans bly vir die dame dat sy haarself reggeruk het. Sy het nogtans die besluit geneem om met dwelms te eksperimenteer.

Liezl ·

Hi Chris, ek sien niks kras in jou kommentaar. Elkeen het mos sy eie opinie. En elkeen het ‘n storie om te vertel. Ek verstaan nie hoe mense ander mense kan aanvat net oor ‘n paar sinne wat jy wil uiter nie. Gewoonlik kan sulke mense nie in ‘n geselskap reg optree nie? Gee ons vryheid om te skryf wat hier in ons binneste aangaan…. o jinne, ek het ook ‘n lekker storie. Maar dis juis die probleem, is ek nou dapper genoeg om vir ‘n foto te poseer en my oorwinnings te deel net sodat ‘n paar ouens wat negatief opgestaan het, my veroordeel. Kom mense, leer by ander mense se foute en verhale…. hoekom skryf jy nie ‘n artikel nie? Chris, welgedaan dat jy jou oorwinnigs het, jy het my nou nuuskierig, jou lewe was miskein nie wonderlik nie, maar dit klink asof jy iets het om te vertel. Mooi dag vir jou!

Esta ·

Ek het die wereld se respek vir jou, net omdat jy bewus geraak het oor die probleme in jou pad. Jy HET OPGESTAAN EN WEER BEGIN LEWE. Mag jou seuntjie eendag vir jou sê. MAMMA EK IS TROTS OP JOU EN LIEF VIR JOU.Dankie ook vir jou ma wat jou ondersteun het. DIT IS FANTASTIES

Esme ·

Trots op jou girl, ek was ook 14 toe ek begin CAT snuif ekt 49kg geweeg by my matriek jaar, Dagga, coke, ecstasy alles gedoen behalwe heroin, ek het op die ouderdom van 21 my droom man ontmoet, van daai dag af het ek alles gelos want ekt geweet hy sou niks van my Wou weet as ek dit doen nie en vandag is ek 9 jaar skoon, dis n verskriklik om so te lewe ekt my rekord eksamen geskryf toe is ek 4 dae wakker… my langste was 7 dae, ekt 20kg in 3 weke verloor en so bja geld gemors. so super trots op jo Sterkte

Michelle ·

Welgedaan my mens en alle sterkte vorentoe jy sal in menige se gebede bly jy sal aansterk en gesond word. Ek sien daagliks universiteit studente wie se ouers so hard werk wat hul eie woonstelle het, die drank en dwelms waardeur hulle op ‘n dag gaan sal ek wat geen gebreuk nie seker in ‘n paar minute van dood gaan. Hul lieg en bedrieg die ouers en het geen respek vir enige persoon nie, jy sien hoe hulle totaal en al uithaak. Kom hul nie deur nie wil hul more ‘n optog hou oor hul eie toedoen . Dit is net hartseer dat ‘n ouer soveel moet doen en die klomp gee niks om nie. Die is van tik tot wie weet waar.

bambi ·

I salute you brave warrior women! welgedaan! Dwelms is n euwel; vernietig alle bande en liefde. My X is steeds n verslaafde en speel die spel dat hy skoon is; sommige glo dit; ek weet beter. Jy is n voorbeeld; doen so voort ASB!!!

ChrisE ·

Liezl, baie dankie. Elke persoon het ‘n lewensverhaal. Ek kan nie my lewe met ander mense se lewens vergelyk nie. Ek wil ook nie. Daar is mense wat swaar gekry het. Ek het mense geken wat in die haglikste omstandighede en armoede geleef het. Ek het by daardie mense geleer wat is waardigheid, respek en liefde. Ek is nie sopperig/tranerig oor my “lewensverhaal” nie. Ek moes van ‘n baie jong ouderdom besluit wat wil ek met my lewe maak. Ek het as enkelouer kind grootgeword. Ek is beinvloed en manipuleer, maar ek het die luukse gehad ek kan en moet ‘n keuse maak. Simpel en eenvoudig. ‘n Ja of nee. Ek kry die mense jammer wat nie aan God glo nie. Jy het ‘n keuse, ja of nee. Hy dwing jou nie. Hy straf jou nie. Hy huil net oor jou.

Liezl ·

Wow, dankie dat jy dit deel en op die ou einde van die dag is dit een groot legkaart waar ons almal gaan inpas… ek ook n enkel ouer kind. Dis presies hoe ek ook voel…. Ons Vader huil erg oor ons, ons het net 1 om te kies, vir Hom en tog kies so baie mense soooo baie ander goed.

GM ·

Ek stem saam met dié wat voel dis ‘n keuse. Daar sal altyd diegene wees wat met ‘n goue lepel in die mond gebore word, en dan van die paadjie af wegdwaal, netso ook sal daar mense wees wat in haglike omstandighede grootword en op die ‘straight and narrow’ bly, en natuurlik omgekeerd. Party het sterker persoonlikhede as ander, party soek harder na aanvaarding as ander.
Ek bewonder die meisie omdat sy haar lewe kon omdraai. Ek glo dit vat baie om jou storie te vertel en dan nog foto’s daarby te plaas – en te weet daar gaan so baie wees wat net kritiek gaan lewer. Ek glo die meisie dra haar straf elke dag – dit kan nie maklik wees om in ‘n rolstoel vasgekluister te wees en te weet dit was oor jou eie slegte keuses nie. Dit klink of sy ‘n wonderlike ma ook het wat haar bystaan – die wêreld sou ‘n beter plek gewees het as alle ma’s so ondersteunend kon wees.
Ek hoop haar storie bring verandering in baie verslaafdes se lewens.

Moeksie ·

Pragtige storie – ons dien ‘n God van liefde – dankie dierbare Vader dat U hierdie meisie betyds uit die kloue van hel gered het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.