Prins William reageer op terugslae op Karibiese toer

Die hertog en hertogin tydens ‘n militêre parade in Kingston, Jamaika. (Foto: Ricardo Makyn/AFP)

Dit lyk asof prins William, hertog van Cambridge, effens begin afwyk van sy ouma, koningin Elizabeth II, se goue reël van “don’t complain, don’t explain”.

Die hertog het onlangs op ʼn ongekende wyse gereageer op die terugslae tydens die besoek aan die Karibiese Eilande wat hy en sy vrou, Catherine, hertogin van Cambridge, vandeesmaand gebring het deur ʼn verklaring op hul amptelike Instagram-profiel te plaas.

Dit volg nadat die egpaar se agt dae lange toer na Belize, Jamaika en die Bahamas, wat hulle ter viering van die koningin se diamantjubileum besoek het, weens Brittanje se koloniale verlede deur sommige kritici as onvanpas en self rassisties beskryf is.

Die Britse koningshuis is bekend vir sy politieke neutraliteit en sal selde reageer op kritiek, hetsy in tradisionele of sosiale media. Dit is iets wat deur Meghan Markle, hertogin van Sussex, in haar opspraakwekkende onderhoud met Oprah Winfrey in 2021 sterk veroordeel is.

Prins William het egter op die egpaar se amptelike Instagram-profiel geskryf dat besoeke soos dié ʼn geleentheid bied om te leer en benadruk dat hy en Catherine as koninklikes nie namens gemeenskappe van die Statebond wil praat nie, maar hulle eerder wil dien en steun om self besluite te neem.

As hoof van die Statebond is die koningin ook die staatshoof van al drie dié lande wat die hertog en hertogin besoek het, maar met voormalige kolonies soos Barbados wat onlangs gestem het om ʼn republiek te word en Jamaika wat ook die koningin as staatshoof wil verwyder, meen koninklike korrespondente dat besoeke van dié aard in die toekoms anders aangepak moet word.

Die hertog en hertogin se besoek het op ʼn suur noot begin toe hul eerste afspraak in Belize weens betogende inwoners gekanselleer is. Luidens mediaberigte was inwoners van ʼn Maja-dorpie ontevrede dat die egpaar sonder vooraf konsultasie op ʼn plaaslike sokkerveld in dié omgewing met hul helikopter geland het.

Enkele foto’s van die egpaar, soos dié waar hulle inwoners in Jamaika deur ʼn heining by ʼn sokkerstadion in Kingston gegroet het, het onder sterk kritiek op sosiale media deurgeloop. Tog het die Britse sokkerspeler Raheem Sterling aanhangers tydens dié geleentheid op presies dieselfde wyse gegroet.

Ook foto’s van die militêre parade in Kingston waarin die egpaar in dieselfde oop Land Rover gery het waarin William se ouma en oupa destyds tydens hul besoek aan dié stad in die 1960’s gery het, het veral tot aantygings van kolonialisme gelei. Boonop het William ʼn militêre uniform en Kate ʼn wit rok soortgelyk aan die een wat die koningin tydens haar destydse toer gedra het, aangehad.

Die hertog is verder gekritiseer vir ʼn toespraak wat hy in Jamaika gemaak het waarin hy slawerny as ʼn gruwelike onreg gekritiseer het, maar nie self ook verskoning daarvoor gevra het nie.

Omid Scobie, mede-outeur van Harry en Meghan se biografie, Finding Freedom, het teen die hertog en hertogin op Twitter uitgevaar en geskryf dat hulle ʼn geleentheid gemis het om te bewys dat die monargie bedagsaam en oop vir verandering is.

Kate en William tydens hul besoek aan Belize. (Foto: Johan Ordonez/AFP)

Die BBC se koninklike korrespondent, Jonny Dymond, het in ʼn meningstuk geskryf dat hoewel die egpaar met ope arms by amptelike geleenthede ontvang is, dit nie noodwendig die gevoel van daardie lande se mense weerspieël het nie en die fout moontlik by hul span lê.

Hy het bygevoeg dat enkele foute soos die “heining-voorval” moontlik deurgeglip het omdat die Cambridges se span nie in pas met die wêreld se huidige politieke klimaat is nie, veral gegewe die gevolge van Covid-19-pandemie en die Black Lives Matter-beweging.

“Die wêreld het vinnig verander sedert die Cambridges se laaste toer. Die koninklike familie was in die verlede redelik goed daarmee om saam met die wêreld te verander, maar nie op hierdie besoek nie. En tweede kanse is deesdae skraps.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Luxrider ·

Wanneer gaan die klomp lêer dat om heeltyd in die verlede te leef en aan die verlede vas te hou verhoed jou om voorentoe te beweeg. Die dat hulle nounog sukkel.
Dieselfde hier in Suid Afrika

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.