Polisiebeamptes van Milnerton in die Kaap het die afgelope twee weke twee mense in afsonderlike voorvalle in hegtenis geneem omdat hulle na bewering valse verklarings oor motorkaping, roof en die diefstal van ʼn motorvoertuig afgelê het.
Kapt. FC van Wyk, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die “klaers”, wat nou beskuldigdes is, is albei van meineed aangekla. “Meineed kom daarop neer dat iemand ʼn valse verklaring onder eed aflê, die voorvereiste om ʼn klag in te dien.”
Benewens aanklagte van meineed kom bykomende aanklagte van bedrog ter sprake wanneer sulke valse verklarings met versekeringseise verband hou.
Hy sê polisiebeamptes het reeds in die voorlopige ondersoek na die sake die meineed vermoed, ʼn bron van groot kommer vir die SAPD.
Die een verdagte, ʼn 44-jarige vrou van Mitchells Plain, het die afgelope week in die Kaapse landdroshof verskyn en is op R1 000 borgtog vrygelaat. Die saak is uitgestel tot 19 November.
Die ander verdagte kom na verwagting Maandag voor.