Afrikaanse radiostories vir skryfkompetisie ingewag

Ou-Radio-1-Pixabay.jpg

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Aspirant en gevestigde skrywers wat vanjaar vir RSG se jaarlikse radiodramaskryfkompetisie inskryf kry nie net vooraf toegang tot gratis hulpbronne nie, maar deelnemers sal eersdaags ook slypskole in Johannesburg en Kaapstad en die opname van ʼn radiodrama kan bywoon.

Dié gesogte kompetisie is vanjaar 28 jaar oud en dit word saam met die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) aangebied. Inskrywings vir dié kompetisie is nou oop met prysgeld ter waarde van R115 000 op die spel.

“Soveel jonger en nuwe skrywers neem deesdae deel en geniet dit om hul stories in ʼn verskeidenheid ruimtes of genres te laat afspeel,” sê Kobus Burger, RSG se programbestuurder.

Hy voeg by dat deelnemers aan die kompetisie ruimte het om vrye teuels aan hulle kreatiwiteit en verbeeldingsvlugte te gee.

Volgens Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof van kultuur by die ATKV, is dit vir dié organisasie belangrik om ʼn bydrae tot die ontwikkeling van storievertellers te lewer en in die opleiding van skrywers te belê.

“Sodoende kan nuutgeskepte Afrikaanse verhale deel van elke luisteraar se lewe word. Op dié manier wil ons verseker dat Afrikaans nog vir baie jare sal voortbestaan.

“Die ATKV wil help om vir skrywers ʼn platform te gee om hul kreatiwiteit in Afrikaans uit te leef. Ons glo dat wanneer ʼn mens in jouself belê, belê jy nie net in jou toekoms nie, maar is jy ook beter daartoe in staat om ʼn verskil in ander se lewe te maak. As ʼn mens dit deur stories kan doen, des te beter.”

Die wenner van vanjaar se skryfkompetisie sal met prysgeld ter waarde van R50 000 wegstap, die naaswenner ontvang R25 000 en die wenner van die derde plek kry R15 000. ʼn Skrywer jonger as 30 jaar sal ook R15 000 ontvang en ʼn merieteprys van R10 000 word toegeken aan ʼn drama wat deur die beoordelaars uit die res van die finaliste gekies word. Buiten die prysgeld word die wendramas ook in 2025 op RSG uitgesaai.

Daar is geen voorgeskrewe tema nie, maar tekste moet ʼn nuwe en oorspronklike Afrikaanse radiodrama wees. Geen verwerkings van bestaande materiaal, verhoogdramas of stories wat al voorheen gepubliseer is, sal aanvaar word nie.

ʼn Volledige handleiding wat ook die reëls en inskryfvorm bevat, is gratis op RSG se webwerf beskikbaar. Daar is ook ʼn spesiale blad met skryfwenke vir nuweling skrywers, asook diegene wat graag aan hul skryftalent wil skaaf.

Die sluitingsdatum vir die kompetisie is Sondag 30 Junie. Inskrywings word aanlyn ingedien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.