Afrikaans se kreatiefstes in kommunikasie binnekort vereer

(Foto: Lilly Rum/ Unsplash)

Solidariteit se gilde vir kommunikasie en bemarking bied vanjaar die tweede formele #GoeieGons-toekennings aan.

Marisa Engelbrecht, sektorhoof van Solidariteit Beroepsgilde vir Kommunikasiepraktisyns, het in die ateljee met Maroela Media kom gesels oor wat die toekenningsgeleentheid behels.

Tydens die eerste inperking het dié gilde die besluit geneem om diegene wat agter die skerms van die bemarking- en kommunikasiewêreld steeds staande moes bly, aan te moedig en erkenning te gee deur die #GoeieGons-veldtog van stapel te stuur.

Dié projek het op ʼn onverwagse wyse vlamgevat, en in 2021 het die gilde dit omskep in ʼn omvattende toekenningsgeleentheid vir die kommunikasie- en bemarkingsbedryf.

“Ons het die toekenningsgeleentheid in vyf kategorieë opgedeel: fotografie, videografie, radio-omroepers, skrywers en grafiese ontwerpers. Die publiek kon mense benoem in die verskillende kategorieë. Ons het ʼn hele paneel gehad wat elke kategorie gehelp beoordeel het. Só kon ons die eerste vyf wenners aanwys.”

Vanjaar het die geleentheid selfs nog verder uitgebrei. “Ons het hierdie jaar agt toekennings in die vyf kategorieë. Die doel hiervan is juis om nog meer mense kennis en blootstelling te gee vir die bydrae wat hulle lewer.”

“Ons grafiese ontwerpers, fotograwe, videograwe, joernaliste en skrywers het hierdie onblusbare talent wat hulle net elke dag wil uitleef. Hulle is gewoonlik diegene wat agter die skerms werk en nooit raakgesien word nie. Ons wil van die gilde se kant af erkenning aan dié mense gee.

“Ons wil hê dat Afrikaanse kreatiewe mense raakgesien en waardeer word.”

Die gilde beoog om soveel moontlik deelnemers deur die toekenningsgeleentheid te bereik.

“Hoe meer mense benoem word vir die toekenning, hoe meer mense daar buite kry blootstelling vir die werk wat hulle doen.”

Engelbrecht het verder verduidelik dat die wenners van die pryse die geleentheid gehad het om eerstehands hul netwerke uit te brei.

“Die wenners van ons skryf- en videografiekategorie het verlede jaar met mekaar gesels, en hulle het nou ʼn projek wat hulle saam wil dryf.

“Die wenner van ons kategorie vir grafiese ontwerpers het soveel blootstelling gekry dat sy ʼn nuwe werksgeleentheid gekry het.”

Engelbrecht het benadruk dat die wenners van die geleentheid werklik waarde uit die pryse geput het.

“Op die lang duur wil ons hê dat meer mense hierdie geleenthede moet kry. Om in hul beroep hul netwerke te verbreed, hul werksgeleenthede meer te maak en om natuurlik meer blootstelling en erkenning daar buite te kry.”

Daar is ʼn string indrukwekkende beoordelaars by vanjaar se #GoeieGons-geleentheid betrokke. Freek Robinson, Estelle de Beer en Sanett Oosthuizen, ʼn voormalige wenner van die radio-omroeperkategorie, is deel van vanjaar se beoordelaarspaneel.

“So het ons vir elkeen van die kategorieë deskundiges in die beroep om ons te help om die beoordeling te doen. Ons wil werklik horisonne verbreed en vir mense geleenthede gee wat hulle nie van tevore gehad het nie.”

  • Diegene wat belangstel om iemand vir een van die toekennings te benoem kan die webwerf besoek vir meer inligting.
  • Benoemings sluit op 25 Februarie 2022.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marianna ·

Kan kinders wat noodgedwonge oorsee moet werk maar ‘n spesialis is in hulle veld ook inskryf?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.