Chris Chameleon: Die onsigbare leed van Klara Majola en Racheltjie de Beer

Chris Chameleon (Foto verskaf)

As kind het ek ʼn ensiklopedie begeer. Daar het selfs eenmaal ʼn omie by die woonstel aangekom, ʼn deur tot deur verkoopsman, wat ʼn ensiklopedie-stel aan ons wou verkoop. Maar vir my enkelmoeder was dit finansieel ʼn te groot uitdaging en hy is teleurgesteld daar weg. Ek was meer teleurgesteld as hy.

Om ʼn Encyclopedia Britannica of ʼn Wêreldspektrum in die huis te hê, het ʼn hartstogtelike begeerte gebly. ʼn Paar jaar gelede het ʼn neef vir my sy ou Wêreldspekrum-stel gegee en die pryk nou in my huis. Toegegee, heelwat van die inligting daarin is intussen óf enorm aangevul deur ontwikkeling, óf selfs weerlê, óf deur die klemverskuiwings in waardes herbelyn tot ʼn aanslag wat tred hou met hedendaagse verwagtinge.

Maar die meeste van die soort kennis wat in die weivelde van my belangstelling blom – geskiedenis, aardrykskunde, kuns en kultuur en argeologie, kan met vertroue in hierdie werke nageslaan word vir verdere verdieping en dit bly my gewoonte om eers ʼn ensiklopedie van ʼn rak af te haal in my huis, alvorens ek ʼn ander verwesenlikte droom van my, die internet, raadpleeg.

Die naaste aan ʼn ensiklopedie wat ons in ons huis kon kom was agt volumes van die Kinders van die Wêreld-boekereeks – ʼn heerlike stel wat ek tot vandag toe nog van tyd tot tyd gebruik. Die boeke het ʼn stuk of 70 uiteenlopende lande behandel, telkens deur ʼn dag in die lewe van ʼn kind in daardie land mee te maak, daarna ʼn afdeling oor die geskiedenis van die land en ten slotte, my gunsteling, ʼn klomp stories uit hierdie lande.

So het die stories van Finboggi Rammi van Ysland, Anansie van Nigerië en Davy Crockett van Amerika deel van my verbeeldingswêreld geword en saam met hulle het ek die vier mure van ons klein woonstelletjie in Johannesburg kon ontvlug na verre, eksotiese lande. In die afdeling oor Suid-Afrika kon ʼn mens die stories van onder andere Japie Greyling, Racheltjie de Beer en Scotty Smith lees.

En hoewel ek aangegryp was deur die waagmoed van Japie en die avontuurlus van Scotty, was dit die storie van Racheltjie wat my die diepste geraak het. Die heldhaftigheid van haar laaste daad was aangrypend, maar die leed van haar lot was wat my bygebly het. Later sou ek dieselfde gevoel oor Klara Majola hê. Die gevoel wat ek vir hierdie kinders gehad het, was ʼn dieper leed as wat ek kon begryp, en dit sou dekades duur voor ek dit uiteindelik kon uitpluis.

Tyd moes eers sy gang met my gaan. Ek moes eers deur verwarring van my tienerjare, die bronstige storm en drang van my 20’s, die ambisieuse afleiding van my 30’s en die soeke na betekenis in my 40’s worstel om die liefde van my lewe te vind. Deur die uitdrukking van daardie liefde is ʼn nuwe mensesiel in vlees vergestalt, en, onlangs, weereens. Vaderskap noem hulle dit, die wonder van die eeue, ʼn magtige beskeidenheid.

En dan soek ʼn mens weer deur die stories van jou jeug; hunker om die verwondering en die verbeeldingsvlugte deur die belewenis van jou kind opnuut mee te maak. En weer kom hulle verby, Racheltjie de Beer en Klara Majola. En dan val dit op, die bron van die onbeskryflike leed wat ek reeds as kind ervaar het. Want die leed van hulle lewensverlies is nie die einde van die storie soos Davy Crockett se dood by die Alamo nie.

In die gevalle van Racheltjie en Klara het ʼn onnatuurlike ding gebeur. ʼn Ouer is deur die afsterwe van ʼn kind oorleef. Racheltjie se ouers het haar voetstappe nie meer gehoor nie, die klokkie van haar stem het in die gange van hulle huis stil geword. Klara se blinde pa sou haar gesiggie nooit weer met sy hande kon sien nie, en die getroue geselskap wat hulle gedeelde huistakies vergesel het, het ʼn eensame, stille kruistog vir hom geword.

Ons dink aan hierdie kinders en voel die triestigheid van hulle lot, maar die groot tragedie in hulle verhale is ongetwyfeld die geweldige foltering van hulle verskeurde ouers.

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Podsendings, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.