Dis nie so maklik om te oordeel nie

Freek Robinson. (Foto: Verskaf)

Te midde van hernieude onthullings oor skaamtelose ontgroeningspraktyke by die manskoshuis Wilgenhof by die Universiteit Stellenbosch, is ʼn paneel deur die owerhede saamgestel om die gruwelgebeure te ondersoek. Sulke ondersoeke het al in die verlede plaasgevind, maar steeds doen gerugte die ronde van vergrype teenoor eerstejaarstudente.

As ek terugkyk na my joernalistieke loopbaan van sowat 45 jaar en die verskillende fases van politieke omwenteling, het een ding bly staan: Die ergste wat ʼn mens ʼn ander kan aandoen is om sy menslikheid te minag, om hom te behandel soos ʼn onmens, om hom te vertrap soos ʼn kakkerlak. Dan is jou gewete afgestomp, jou oordeel belemmer, word die grens tussen goed en sleg al hoe gryser.

Dr. Louis Awerback, kliniese sielkundige van Stellenbosch, het ʼn studie gedoen van rituele en sê dis nie so maklik om te oordeel nie. Veelvoudige rituele word toegepas internasionaal. Sommige heel onskuldig – soos sê nou maar ʼn universiteit se gradeplegtigheid tot die inisiasie van jong Xhosa-seuns wie se besnydenis dikwels lei tot die dood. Jy kan nie sommer sê wat is reg of verkeerd nie. Trouens, die meeste rituele is geslaag. Dit het die doel van groepsassosiasie of inlywing behaal – selfs al sou die nuwelinge in die proses verneder word.

Laat ek my eie storie oor ontgroening vertel (grootliks oorgeneem uit my boek: Op die man af).

Ek was in die koshuis Boekenhout by Tukkies. Dit was eintlik ingenieurstudente se voorkeurkoshuis, maar ek het in die geesteswetenskappe gestudeer met die aanvanklike doel om predikant te word. Daar was net enkele ander BA-eerstejaars in die koshuis. Die seniors het ons wel deeglik laat verstaan dat ons kursusse minderwaardig is, dat ons by implikasie minder intelligent is en dat ons meer vrye tyd gehad het om allerhande werkies vir hulle te doen.

Met die intrapslag by Boekenhout het ek my in die ontgroeningspraktyke vasgeloop. Van die praktyke sou vandag seker strafbaar gewees het in die hof. Ons “Ienks”, soos ons eerstejaars genoem is, is soos tweedeklaswesens behandel. Die ontgroening was op die ergste in die eerste twee weke en dan weer in September.

Aanvanklik was dit veral lede van die huiskomitee (HK) wat die ontgroening behartig het totdat die ander seniors opgedaag het. Ons het die soort ontgroening gekry wat vandag se kommissarisse van die Menseregtekommissie sal laat sidder.

Ons is gedurig geskel en gevloek. Dan moes ons ook “PT” doen – kwaai oefeninge van enige aard. Dit terwyl jy dikwels in net ʼn oefenbroek geklee was en met water natgespuit is. Ons is ook geforseer om die “pil” te sluk. Dit was ʼn bol deeg wat styf gebrei is en met allerhande snaakse goed, soos mosterdpoeier, gevul is. ʼn Mens het maar gesukkel om dit te sluk en daar was ʼn risiko dat jy lelik kon verstik.

Van die ontgroeningsessies het die hele nag geduur. As jy opdragte nie na wense uitgevoer het nie, het jy ʼn “tekkie-parade” gekry. Al die seniors, meer as honderd, het in die binnehof in ʼn ry gaan staan. Die eerstejaars moes dan hande-viervoet by hulle verbyloop terwyl elke senior jou met ʼn skoen op die boude slaan. Jy kan jou net indink hoe ʼn eerstejaar se agterstewe ná so ʼn “parade” gevoel het.

ʼn Ander praktyk was om die eerstejaars allerhande liedjies te leer – deurspek van vloekwoorde en suggestiewe temas. As ʼn teologiestudent was dít waar ek die streep getrek het. Ek het nie saamgesing nie en is gou uitgevang. ʼn Klomp seniors het my toe verskreeu dat ek hardegat is en dat hulle my ʼn les sal leer.

Eers moes ek egter die liedjies saamsing, maar ek het weer geweier. Die seniors het al hoe kwater geraak en ek het daarop aangedring om die huisvoorsitter, Pedro Maritz, te sien. Pedro was ʼn sterk leier. Hy het van die destydse Suidwes-Afrika (vandag Namibië) gekom en was ʼn groot ou, fris gebou – maar meer: hy het gesag afgedwing met sy persoonlikheid. Daarby was hy slim. As ek reg onthou, was hy in sy finale jaar die beste ingenieurstudent in die land.

Een senior het Pedro gaan roep. Hy konfronteer my toe: “Ja, Ienk, hoekom sing jy nie saam nie?” Ek het verduidelik dat dit vulgêre liedjies is en dat dit teen my grein ingaan om dit te sing. “Daarby”, het ek gesê, “weet ons almal dat ons koshuisvader ʼn dosent in teologie is. Is hy bewus van die liedjies wat ons eerstejaars gedwing word om te sing; het hy dit al gehoor en goedgekeur? Of sal ek hom nou gaan roep dat hy self kan oordeel of ons maar die liedjies kan sing?”

Pedro het toe beslis dat ek nie die liedjies hoef te sing nie, maar dat ek aan die ander aktiwiteite moet deelneem. Van daardie dag af was ek ʼn gemerkte man.

Ek lees nou die dag veteraanjoernalis, Tim du Plessis, skryf oor sy ontgroeningservarings. Dit blyk dat ek en hy presies dieselfde tyd op universiteit was, maar hy by die destydse RAU, wat nou die Universiteit Johannesburg heet. En wil jy nou meer: By RAU is dieselfde ontgroeningspraktyke toegepas. Tragies is een van die eerstejaars daar dood nadat hy gedwing is om die “pil” te sluk.

Vandag lyk sake by Tukkies heel anders. Dit is die grootste residensiële universiteit in die land wat meer as 8 000 studente kan huisves. Die naam “Boekenhout” is verander na TAU (Leeu) en die koshuis se samestelling lyk heel anders. Geen ontgroening word toegelaat nie.

Volgens dr. Louis Awerback is dit nie noodwendig die beste oplossing nie, want die praktyke word eenvoudig ondergronds in die geheim voortgesit, soos wel by Wilgenhof gebeur het. Maar by Tukkies, met sy groter en wyer ras-verteenwoordiging, kan die situasie vinnig lelik raak as praktyke toegepas word wat die menslikheid van studente aantas.

Nuwe ontgroening gebaseer op die waardes van die Grondwet is beslis nodig.

Meer oor die skrywer: Freek Robinson

Freek Robinson is ‘n vryskut radio- en televisieaanbieder. Hy is nou semi-afgetree en was voorheen die aanbieder van Fokus (SABC 2), Praat Saam (RSG), Robinson Regstreeks (kykNET) en die hoofanker van eNuus. Hy besit sy eie kommuinkasiemaatskappy en gee opleiding aan sakeleiers in mediavaardighede.

Deel van: Podsendings, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

annie ·

Nou weet ons hoekom Tim en Freek sulke trietsige en bang joernalste was… steeds bang dat daar iewers nog ‘n skoen wag om die agterstewe te raps…

Sobymykoolkop ·

Nou verwonder ek myself. Hoekom nog nooit ondersoeke na die sterftes tydens inisiasie skole nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Standerd 6e se lewe in koshuise was net so hard. Dan praat ons nie eers van die army nie. Kultuurskokke. Maar ‘n jaar later is jy deel van die “pret”.

Treurwilger ·

Jammer om van die ander universiteite se ‘skades en skandes’ te verneem.
Dankbaar dus om ‘n eerstejaar van KOVSIES te kon wees, een fees van begin tot einde.
Trots op my Alma Mater … van destyds.

Kokerboom ·

Ek was ‘n Boubestuurstudent in aangrensende koshuis Olienhout op TUKS.
Ten spyte van ons besige skedule en as oud weermagoffisier het ek die ontgroening in sy “stride” geneem, dit oorleef en vandag lag ek met ‘n mate van heimwee na al die lawwighede!

OW ·

Die “tekkieparade” wat Freek van praat,het ons genoem”jy is geborsel”wat nogal pyn was vir die oomblik.Agterna beskou,was dit eintlik pret gewees.
@Sobymykoolkop.Hierdie proses wat jy noem is hoogs vertroulik en niemand word daar toegelaat nie.Net die persone in beheer.Ek glo dit word ondersoek,maar die bevindings word nie bekend gemaak nie.

Vrijburger ·

Ag tog, foeitog. Almal van ons het ontgroening en basies deur gegaan, maar nie almal van ons wroeg ‘n leeftyd later daaroor nie.

Chrisp ·

Verstommend dat die mense soos Tim .Wim,Pierre , die skrywer, ens wat rede soek om hulle slagoffer status na vore te bring en sodoende hulle op ‘n morele hoegrond neer te plak die meningsvormers (eintlik alle vorm van vormers) op alle vlakke word vandag terwyl 99% van die res met humor kan terugkyk na die tye as student en soldaat

Geen wonder die wereld is waar hy is nie waar is die manne en vroue met murg?
Staan seker en hou die (ek is ‘n groter slagoffer as jy) van ‘n afstand dop en skud net die kop in ongeloof.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.