Impakstudie oor onteiening bekyk; munisipale wanbestuur laat fabriek sluit

Argieffoto.

Gerhard van Onselen van Sakeliga bespreek weer drie van die grootste sakestories in vandeesweek se 3 Minute, 3 Sake: Die regering se impakstudie oor onteiening, munisipale wanbestuur in Lichtenburg en die Mededingingskommissie se besluit om ʼn Burger King-transaksie te keer.

Sakeliga het Maandag ʼn 28 bladsy lange verslag van die departement van openbare werke en infrastruktuur se sosio-ekonomiese impakstudie oor die werklike koste-implikasies van onteiening sonder vergoeding (OSV) verkry. Die verslag is ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) bekom.

Die organisasie meen die dokument is gebrekkig. Dit is onder meer van mening dat daar min bewyse is dat OSV investering gaan skaad. Dit terwyl verskeie internasionale voorbeelde van sodanige skade van beleid bestaan en skade reeds in tendense gesien word.

En wie gaan die koste van OSV dra? Onder andere private eienaars deur gedwonge verlies van grond, hervestigingskoste en verliese van inkomste.

Wat is die voordele OSV? Dié verslag meen dat selfs onteiende grondeienaars ook uit verhoogde “sosiale kohesie” en “ekonomiese insluiting” sal baat vind.

Sakeliga meen dit is duidelik ʼn verregaande opweging vir die wat onteien word.

Verskeie mediahuise het die week verslag gedoen oor die sluiting van ʼn Clover-fabriek. Clover SA beplan om sy kaasverwerkingsfabriek in Lichtenburg te sluit.

Rede vir die sluiting: Voortslepende swak dienslewering deur die plaaslike munisipaliteit. Van die gevolge is hewige werksverliese van meer as 330 werke.

Die fabriek gaan nou glo in Queensburgh in KwaZulu-Natal hervestig aangesien water‑ en kragonderbrekings ʼn groot uitdaging bied. Die fabriek se bestuur het bevestig dat sekere produksieprosesse eenvoudig nie onderbreek kan word nie.

Sakeliga is tans besig om toe te tree tot aangeleenthede van munisipale dienslewering. In hofaksies bring Sakeliga ʼn versoek vir ʼn nuwe vorm van munisipale administrasie.

Die gedagte is om eksterne beheer (soos rekeningkundige betaalmeesters) oor korrupte en mislukte munisipaliteite te vestig.

Indien Sakeliga suksesvol is met hierdie nuwe litigasiestrategie, kan dit help om plaaslike omgewings van munisipale verval te red.

ʼn Besluit deur die Mededingingskommissie het rooi ligte laat flikker vir internasionale investering. Die kommissie het ʼn voorgenome transaksie gekeer waar ECP Africa (deel van ʼn globale groep), Burger King Suid-Afrika wou koop. Die rede vir die besluit is nie verwant aan mededinging nie, maar weens swart ekonomiese bemagtiging.

Die kommissie is van mening dat die transaksie swart aandeelhouding tot nul sal verminder. Dit het egter ook bevind dat die transaksie nie mededinging aansienlik sal verminder nie; die hoofoorweging vir die kommissie se besluit is dus swart ekonomiese bemagtiging.

Dit plaas hierdie kommissie nou sterk in die stoel as ʼn verdere arm van die toepassing van swart ekonomiese bemagtiging. Dit beskik nou oor groter mag om by die ekonomie in te meng, transaksies voor te skryf, en die mark te manipuleer volgens heersende politieke oogmerke.

Sakeliga meen soos talle regeringsbesluite, word die nadele van dié besluit nie redelikerwys oorweeg nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.