Is jou finansiële bates verskans teen regeringsinmenging?  

Foto ter illustrasie. (Foto: Steve Buissinne, Pixabay

Hoe behoort ons die risiko’s van beslaglegging, transaksie-inmenging en verswakte privaatheid te benader? Ons gee basiese konteks en voorstelle.

Prakties gestel, indien jou bankrekening alewig op die spel is en toegang daartoe van politici afhang, sal jy nooit vrylik as ʼn effektiewe konstitusionele agent kan optree nie.

Jy sal nooit die vermoë hê om met mag te kan verskil nie.

Die finansiële stelsel vervul tans miskien nie sy kernfunksies te sleg nie, maar die bankstelsel is nou ryper vir politieke misbruik en -vorming is as ooit tevore.

Op verskeie vlakke is dinge soos regulatoriese voorregte, monopolistiese neigings, burokratiese voorskrifte, boetes, verbodsbepalings en regeringsgoedkeuring betrokke.

Die skeiding tussen die staat en jou geld is uiteindelik dan baie dun en in die era van iets soos die kanselleerkultuur selfs nog dunner.

In dié opsig moet regerings se regulering aan streng voorwaardes en inbegrip van burgers se grondliggende onafhanklikheid en vryhede gemeet word.

Regerings is egter nie besig om hul magte sodanig te beperk nie.

Wat moet ons dan doen om wal te gooi om bates en transaksievryhede omsigtig te verskans?

Besef miskien eerstens dat sekere bates nader lê aan die staat se greep as ander. Dink byvoorbeeld aan fisieke goud in jou besit en kriptogeld teenoor regeringseffekte en pensioenfondse.

Laasgenoemdes is vanselfsprekend direk onder regerings se beheer en hang af van die betroubaarheid van owerhede. Geld in bankrekeninge is verder ook grootliks gebonde aan die betroubaarheid van partye wat tussen jou en jou geld staan.

Hierdie konteks is belangrik in gesprekke oor finansiële verskansing.

Die afgelope dekades se wendings in finansiële regulering moet ook genoem word.

Ons sien daarin dat owerheidswaarneming van transaksies en verpligte rapportering in sekere gevalle al meer vereis word.

Kanada wys dan prakties hoe die uitbreidende staatsmag oor geld, veral in konteks van gevaarlike kanselleerkultuur, kan werk.

In Kanada het verskeie instellings buig of bars met instruksies en bevele van die Trudeau-regering saamgewerk.

Omstrede algemene finansiële sanksies is teen polities ongewilde protesteerders ingestel. Daardeur is bankrekeninge gevries op ʼn skaal wat selde voorheen in ʼn Westerse land gesien is.

Dit dui op die uitbreidende magte van regerings oor mense se persoonlike finansies en bates – selfs in die Weste. Hierdie magte en vermoëns van regerings is egter besig om toe te neem, en finansiële privaatheid word nou deurgaans swakker gemaak.

Op die ou end bied hierdie risiko’s ʼn wesenlike gevaar vir ʼn behoorlik verskanste konstitusionele orde – omdat effektiewe seggenskap oor eiendom soos grond, bates en geld fundamenteel nodig is vir gesonde onafhanklikheid en self-eienaarskap.

Uitgebreide diskresie in batebeslaglegging en die vries van rekeninge en inmenging in transaksie-vryhede is konstitusionele gevare.

Wat is die hoofsaak vir ʼn selfstandige sakegemeenskap?

Sakeliga dink dat voldoende beskerming oor finansiële sake en brandmure vir finansiële privaatheid nie in die regering en sy regulatoriese kringe sal ontstaan nie.

Owerhede noem hier hul regulering “beskerming”, maar daardie beskerming mag op sigself bedreigings inhou.

Gemeenskappe, sake- en burgerlike instellings moet nou die noodsaak van brandmure tussen die staat en burgers ernstig opneem.

Individue moet verder hierdie risiko’s krities en met ʼn oop kop beskou. Natuurlik nie om oorhaastig op te tree nie, maar om behoorlik te beplan.

Nog belangriker, ons moet seker maak dat finansiële instellings die regte stappe doen om bates behoorlik op te pas. Selfs teen regerings, indien nodig.

Om op te som. Waar state deur die finansiële stelsel inbreuk maak op belangrike vryhede en private finansiële eiendom, word grondliggende konstitusionele grense oortree.

Waar dit gebeur, meen ons, is die oplossing om te verskans.

Sakeliga het natuurlik nie al die antwoorde nie, maar ons gee die volgende riglyne. Riglyne wat met finansiële raadgewers en kundiges bespreek kan word met ʼn finansiële verskansingsplan te doel.

Ons beklemtoon weer eens dat die onus ook rus op gemeenskappe, sake- en burgerregtelike instellings om die saak op te neem.

Hiermee dan so paar voorlopige gedagtes:

Op ʼn persoonlike vlak:

  • Maak ʼn lys van jou finansiële bates. Vra jouself die vraag, hoeveel finale beheer het jy werklik oor jou geld.
  • Hoe vatbaar is jou finansiële instellings vir koöptering en instrumentalisering deur die staat vir onregmatige inbreuke?
  • Ons almal gebruik derde partye, maar sulke partye moet ook pa staan vir hul toewyding aan burgerlike regte, konstitusionele vryhede en finansiële privaatheid.
  • Wat ons wil sien is dat die bestuur en opsigterskap van ons finansiële bates vry van politieke manipulering moet wees.
  • Dienste moet so mededingend as moontlik op gesonde markte onstaan.
  • Waar bates in die visier van owerheidsmanipulering val (dink aan die onlangse voorstelle oor pensioenfondse), moet individue, sake-waghonde en burgerlike instellings ʼn besliste oorsigrol inneem.
  • Sommige finansiële bates lê nader aan regeringsbeheer. Daardie bates moet groter beskerming kry. Dit gaan bes moontlik institusionele oplossings verg.
  • Brei jou kennis uit oor bates verder van die staat, soos kripto-geld.

Institusionele waghonde:

  • Individue sal nie alleen voldoende teen politieke regulering en bate-risiko’s kan wal gooi nie. Daarom is die sterker kollektiewe waghonde nodig.
  • Sakeliga sal byvoorbeeld teen aansienlike inbreukmaking op lede se finansiële privaatheid, transaksies of finansiële bates litigeer.
  • Sakeliga sal ook, soos nodig, in die openbaar duidelikheid van finansiële instellings vereis oor hul beleid ten opsigte van blootlegging, beslagleggingsbevele of transaksionele inmenging.
  • Ons raai ander burgerlike instellings en sakegroepe aan om stappe te doen om lede te verskans. Berus sulke instellings se voorbestaan nie uiteindelik op lede se onafhanklike sake nie?
  • Laastens moet ons die noodsaak van eie finansiële infrastruktuur oorweeg.
  • Sulke alternatiewe ontstaan reeds in die era van kripto-geld en de-gesentraliseerde finansiële netwerke.
  • Eie kapasiteit en vermoëns sal geskep moet word as teenwig teen verdere inmenging in die finansiële stelsel.
  • Dit kan beteken dat sakegemeenskappe en ander burgerlike instellings hul eie banke, betalings- en kredietnetwerke moet vestig.
  • Regulasies en wette wat die daarstel van gemeenskap- of sake-instellingsgerigte finansiële infrastruktuur en alternatiewe kelder moet uitgedaag word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.