Luister: Hedendaagse ‘Viking’ help mans met geestesgesondheid

Cobus Visser. (Foto: Cobus Visser/Facebook)

Cobus “die Viking” Visser, het sy lewe daaraan gewy om mense, veral mans, met onder meer geestesgesondheidskwessies te help.

“Toe ek my reis as motiveringspreker begin het, het ek myself as Superman beskryf. As kind kon ek nie baie dinge doen nie, en Superman was my held,” vertel Visser, wat vandag as skrywer, motiveringspreker en fasiliteerder optree, in Maroela Media se ateljee.

“Soos wat ʼn mens ouer word, besef ʼn mens dat jy nie meer in jou Spandex-pak pas soos wat jy altyd gedoen het nie,” skerts hy. “Met my veertigste verjaarsdag, het ek besef dat daar ʼn verandering moet plaasvind. Ek moes besluit wie ek is. In hierdie reis van verandering, het ek die Vikings ontdek.”

Hy erken dat hy self sy bynaam, “die Viking”, gekies het. Dié naam beteken vir hom om waagmoed te hê en vreesloos te wees. Visser laat mense oor vuur loop as deel van sy werk as fasiliteerder en motiveringspreker, iets wat ʼn noue verbintenis met sy uitkyk op die lewe het.

“Jy moet vreesloos wees en waagmoed hê om dit te kan doen. Toe ek dieper delf, het ek die nege waardes van Vikings ontdek. Van hierdie waardes sluit in om goeie moed te hê, om die waarheid te praat, om eg te wees, om aksie te neem en om lojaal te wees.”

“Deel van my reis is om uit te vind wat ons waardes is. Staan ons nog vir waardes? Dit is wat ons bymekaar hou.”

Visser is gebore met hemofilie, ʼn siekte wat voorkom dat sy bloed stol. Weens die gesondheidstruikelblokke wat hy deur die jare in die gesig moes staar, het hy vandag verswakte gewrigte. Dié struikelblokke is egter nie iets wat hom in die lewe terughou nie. Inteendeel, hy gebruik dit om nie net sy eie hande nie, maar ook dié van ander te versterk.

Dit is vir Visser veral belangrik om mans met hul geestesgesondheid te help.

Hy herinner mans wat dalk ʼn drastiese stap oorweeg daaraan dat:

  • Die mense wat die seerste kry, is die mense wat ons agterlaat.
  • Jy nooit jou volle potensiaal gaan bereik nie.
  • Dit wat gebeur het, dalk die beste ding is wat met jou kon gebeur het, al lyk dit nou baie erg.

“Ons moet oor geestesgesondheid begin praat,” meen Visser.

  • Luister na die volledige klankonderhoud boaan hierdie artikel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.