Luister in 3 minute: Acsa plaas druk op vliegkaartjies se pryse

(Foto: Unsplash)

In die jongste uitgawe van 3 Minute, 3 Sake bespreek Gerhard van Onselen van Sakeliga die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) se skerp verhoging in sy gebruikstariewe. Van Onselen kyk ook na die hoër repokoerse wat in die vooruitsig is en Johannesburg se City Power wat ʼn private kragaankoopooreenkoms aangegaan het.

Acsa se planne om sy tariewe vir dienste aan lugrederye met 35% te verhoog is dié week skerp gekritiseer.

Lugrederye betaal natuurlik tariewe aan Acsa vir dinge soos vliegtuigparkering, brandstofinfrastruktuur en ander gesentraliseerde dienste.

Mpumi Mpofu, Acsa se woordvoerder, sê die verhogings is nodig om Acsa se “boeke te laat klop”.

Alle ondernemings wil natuurlik die boeke laat klop, maar by ʼn staatsinstelling, waar dit neerkom op ʼn monopolie oor sekere dienste, moet sulke verhogings versigtig benader word.

Acsa se winsgewendheid kan nie bewerkstellig word ten koste van die hele bedryf nie. By ondernemings moet planne en bedrywighede normaalweg aangepas word waar boeke nie klop nie. Of, ten laaste, bates moet verkoop of dinge herstruktureer word. Dit is die manier waarop markte werk.

By ʼn staatsmonopolie word die manier van sake doen as’t ware soms vasgevang in een manier van doen, en sakeplanne wat nie die mas opkom nie teen markkragte en -dissipline beskut.

As daar probleme is, beland die gebakte pere gereeld by die belastingbetaler of, soos hier blyk, die verbruiker wat meer sal moet opdok om te vlieg.

Volgende: Uit die onlangse verklaring deur die monetêre beleidskomitee (MPC) van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) sien ons dat hoër rentekoerse in die vooruitsig gestel word.

Ontleders van die BEO wys op die risiko’s van verhoogde inflasie waarop die SARB sal reageer. Die reaksie sluit moontlik aanpassings van die repokoers in. Dit beteken dat skuld met wisselende rentekoerse duurder sal word. Sommige verbruikers sal dan onder verdere druk hierdeur geplaas word.

Die SARB meen dat die risiko’s vir inflasie op middellang termyn beduidend toegeneem het. Die verklaring wys verder dat vooruitsigte vir vaste belegging steeds beperk is. Dit is iets wat Sakeliga veral bekommer.

Swak beleggingstendense bewerk ʼn ekonomie wat bly verarm.

Sterk en beleggingswaardige ondernemings is nodig in Suid-Afrika. Daarom moet Sakeliga bly werk aan maniere om sterk ondernemings en bestande netwerke te vestig.

En laastens goeie nuus. Dit lyk of die Johannesburg Metro besig is om die Wes-Kaap se voorbeeld te volg ten opsigte van private kragaankope.

Die Wes-Kaap is in ʼn mate beskut teen geskeduleerde kragonderbrekings (beurtkrag) juis omdat krag van private aanlegte aangekoop word.

Luidens berigte het Johannesburg se City Power nou ʼn ooreenkoms onderteken om meer krag van Kelvin-kragsentrale aan te koop. Dit sal klaarblyklik beteken dat Johannesburg een vlak van beurtkrag kan vryspring, soos die geval in die Wes-Kaap is.

Stappe om private kragvoorsiening aan te moedig kan verwelkom word. Die netwerk is oorgesentraliseer wat talle probleme en risiko’s inhou. Private alternatiewe, selfs tot op die vlak van huishoudings, kan veerkragtigheid en aanpasbaarheid in die kragstelsel verhoog.

Kom besoek Sakeliga se Kragdag-ekspo vanaf 14 tot 16 Oktober 2021 om talle selfstandigheidsoplossings, waaronder opsies vir sonkrag, te beskou. Kyk na www.kragdag.co.za vir meer inligting oor die naweek se ekspo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stephen ·

In the previous dispensation there was no Airports company and everything ran like clockwork without the burden of the tremendous cost to make ACSA function. ACSA was formed by the current Government to create jobs.
When one observes the top heavy (in more ways than one) ACSA Staff at any Airport you cannot fail to notice the slow action of these staffers. They either eat or sleep or pushes a broom around . Is this organisation really necessary? Methinks not. The cost is passed on to the consumers who are milked for all their worth.
The Trade Unions are the culprits and have no regard or understanding of economics.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.