Luister in 3 minute: Covid-19 en plaaslike geldsake

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandagaand die nasie toegespreek. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

In vandeesweek se 3 Minute, 3 Sake fokus Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, op die Covid-19-uitbreking en die regulasies wat daarvoor ingestel is.

Die regering het oor die afgelope week ʼn reeks maatreëls ingevolge die Wet op Rampbestuur ingestel. Daarby ingesluit is ʼn 21 dae lange verpligte afsonderingstydperk (inperking).

Sover gaan heelwat ondernemings daardeur geraak word. Noodsaaklike ondernemings en winkels gaan wel toegelaat word om oop te bly. Die probleem is egter dat ʼn moderne ekonomie ongelooflik ineengevleg is. Dit is baie moeilik om binêre onderskeide tussen “noodsaaklike” en “nienoodsaaklike” sektore te tref.

Indien byvoorbeeld kritieke vervoerdienste moet voortgaan, moet motorwerktuigkundiges nie ook nie? Wat van dienste waarvan hulle afhanklik is?

Die uiteinde hiervan is dat, indien die afsonderingsmaatreëls lank voortduur, selfs die noodsaaklike sektore toenemend deur koördinasieprobleme en onvoorsiene gevolge belemmer gaan word.

Daarom meen Sakeliga moet die noodmaatreëls so gou as wat redelik en veilig moontlik is, opgehef word.

 Ebrahim Patel, die minister van handel, nywerheid en mededinging, het op 25 Maart ʼn lys van noodsaaklike bedrywe en dienste bekendgemaak wat van die verpligte afsonderingstydperk vrygestel sal wees.

Ander sektore en ondernemings sal verplig word om te sluit. Die ekonomiese koste van hierdie sluiting gaan enorm wees.

Waar die regering hulp aan ondernemings bied, gaan die hulp nie verniet wees nie. Hulp in dié opsig kan praat van toekomstige belasting, nuwe staatslenings en hulpbronne wat uit die private sektor onttrek word en nou volgens die oordeel van regeringsamptenare bestee sal word.

Hulp en belastingkortings kan natuurlik ondernemings help, maar die afruilings en toekomstige effek kan nie geïgnoreer word nie. Kortom, Sakeliga meen Suid-Afrikaners gaan hiervoor moet betaal.

Die beste manier vir die regering om die nuwe las wat Covid-19 op die staatskas en die publiek in die algemeen plaas te verlig, is om ná afloop van hierdie krisis ʼn benadering te volg wat sake aanwakker en mense nie verhinder om waarde te produseer nie.

Dit beteken dat beleid wat voor Covid-19 reeds ʼn probleem was, hersien moet word.

 Laastens kyk Sakeliga na die toedeling van geld wat die regering vir rampbestuur geoormerk het.

ʼn Herrie het op sosiale media losgebars nadat dit aan die lig gekom het dat BEE-vereistes moontlik aan hulp-pakkette vir klein ondernemings gekoppel sou word.

Die departement van kleinsake het later egter op sosiale media genoem dat die betrokke dokument, ʼn PowerPoint-voorlegging, slegs ʼn konsepdokument was wat nie versprei moes word nie. Tydens ʼn mediakonferensie Woensdag het die minister wel melding gemaak van toedeling volgens demografie. Dit dui op BEE.

Sakeliga se regspan het ʼn skrywe aan die departement gestuur om duidelikheid oor hoe hulp toegedeel sal word. Dit is egter kommerwekkend dat sodanige toepassing van BEE, al dan net in konsepformaat, oorweeg word. Sakeliga sal sy lede en lesers op die hoogte hou van verwikkelinge in dié saak.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.